Geweld in skole: Hoe beskerm jy jou kind?

‘n Skermskoot uit ‘n video van ‘n aanrandingsvoorval in 2018 by die George Campbell School of Technology in Durban.

Mesgevegte, skote wat klap en vuiste wat swaai, klink meer soos tonele uit ʼn ouderdomsbeperkte aksierolprent, maar dít is tonele wat al meer gereeld by Suid-Afrikaanse skole afspeel.

Gewelddadige voorvalle by skole is toenemend in die nuus – by laer- én hoërskole – en dit lyk asof daar geen perke aan die erns van die geweld is wat in skoolgange plaasvind nie.

Net vandeesweek is drie seuns, tussen 14 en 17 jaar oud, in hegtenis geneem in verband met ʼn skietvoorval buite ʼn skool in Lenasia, suid van Johannesburg. Verlede maand is ʼn gr. 8-leerder by ʼn Johannesburgse skool dood en nog twee leerders na ʼn hospitaal gehaas nadat ʼn gr. 11-leerder na bewering sy drie medeleerders buite die skool gesteek het. In Maart is ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat ʼn video aan die lig gekom het van ʼn gr. 9-leerder by die Crystal Park High School in Benoni wat deur vyf anders leerders aangerand word.

Die Educators Union of South Africa (Eusa) het selfs verlede maand ʼn beroep op onderwysers gedoen om hulself te bewapen te midde van die toenemende geweld in skole.

Volgens die Johannesburg Parent and Child Counselling Centre (JPCC), ʼn sentrum wat psigososiale ondersteuning en geestelike gesondheidsdienste aan leerders, skole en ouers bied, was daar tot dusver vanjaar opmerklik meer gevalle van geweld tussen leerders. Dit sluit in aanranding, boeliegedrag, verkragting en selfs moord en sommige van dié voorvalle is op video vasgevang en op sosiale media versprei.

“Asof die gewelddadige voorval nie genoeg was om die slagoffers te traumatiseer en te verneder nie, is dit amper asof die oortreder ʼn trofee wil hou van die geweld wat gepleeg is,” sê die sentrum in ʼn verklaring.

‘n Skermskoot uit ‘n video van ‘n aanrandingsvoorval in 2015 by Laerskool Randfontein.

Waar kom die geweld vandaan?

Claudine Ribeiro, direkteur by JPCC, sê hoewel daar nog altyd gebiede en skole was waar daar meer geweld voorkom as in ander, word dié soort voorvalle nou by al meer skole gesien – selfs by private skole of skole wat as “hoofstroom” geag word.

“Wanneer ek kyk na wat ons by JPCC eerstehands beleef, is daar beslis ʼn toename in sistemiese geweld in ons samelewing, waaronder skole. Die soort gevalle wat ons sien, dui daarop dat kinders toenemend meer in gewelddadige huise en gemeenskappe grootword en deur geweld in die gesig gestaar word in verskeie aspekte van hul lewe,” sê Ribeiro.

Die trauma van hierdie gewelddadige voorvalle raak nie net die slagoffers nie, maar ook hul klasmaats, onderwysers, ooggetuies en die breër samelewing wat dikwels aan video’s van hierdie voorvalle blootgestel word.

Volgens Ribeiro is daar verskeie aspekte waaraan dié toename in skoolgeweld toegeskryf kan word. Een daarvan is die hoë vlak van fisieke, emosionele en seksuele mishandeling in huise en gemeenskappe waaraan leerders blootgestel word. Dié voorvalle word dikwels weggesteek en oor geswyg, wat veroorsaak dat kinders wat daaraan blootgestel word, nie die nodige sielkundige behandeling en berading kry om dit te verwerk nie. Dit laat die kind magteloos en buite beheer voel en hy of sy kan dan kies om geweld te gebruik om moeilike situasies te hanteer.

Ribeiro verwys ook na hoë vlakke van werkloosheid en armoede in die land, wat miljoene leerders in skole raak. “Wanneer kinders en hul gesinne deur armoede in die gesig gestaar word, kan desperaatheid en frustrasie daartoe lei dat hulle onwettige maniere kies om dié omstandighede te hanteer, soos dwelmmisbruik en bendeverwante gedrag. Dit is dan dikwels die oorgang na geweld.”

Maar wat van geweld onder leerders wat in gegoede gebiede grootword en nie geweld eerstehands in hul huise beleef nie?

“Ons vind dat kinders minder empaties is en oor die algemeen sukkel met die kwessie van empatie. Ons probeer daarom daardie kwessie in skole aanraak, deur middel van berading én opleiding,” sê Ribeiro. Sy meen daar kan verskeie redes wees hoekom dit die geval is.

Die Forest High School in Forest Hill waar ‘n gr.8-leerder in Junie 2019 met ‘n mes doodgesteek is. (Foto: Bhekikhaya Mabaso/ANA)

“Sommige kenners voer aan in huise en gemeenskappe waar daar hoë vlakke van geweld voorkom, is dit ʼn vorm van selfbeskerming [om minder empaties te wees]. Nog navorsing toon ʼn toename in skermtyd onder kinders waar daar nie interaksie met ʼn lewende wese plaasvind nie, maar slegs met ʼn skerm, kan lei tot ʼn afname in empatie en jou vermoë om met ander te empatiseer.

“Dit skep byna ʼn ‘onwerklike’ scenario, waar kinders verwyderd voel van die werklikheid. So, dan kan hulle maar iets leliks vir iemand sê en hulle kan ʼn verskriklike teksboodskap stuur en direk lelik met iemand wees, en dikwels is daar geen gevolge hiervoor nie. So, dit word ʼn bose kringloop.”

Sy sê voortgesette probleme waaraan daar nie ontsnap kan word nie, soos armoede, dwelmmisbruik, ʼn gebrek aan sanitasiegeriewe, en so meer kan emosies oor ʼn tydperk laat opbou en geweld word dan die manier waarop dié probleme hanteer word. Dié hanteringsmeganisme kan ook van een generasie na die volgende oorgedra word.

Dr. Marshinee Naidoo, ʼn psigiater by die Akesa Alberton- psigiatriese hospitaal, stem saam dat kinders wat aan geweld blootgestel word, meer geneig is om self gewelddadig te wees. “Selfs geweld in die media soos flieks, televisiereekse en rekenaarspeletjies kan ʼn kind se kanse verhoog om gewelddadige gedrag te toon,” sê Naidoo.

“Daar kan ook genetiese faktore wees wat kinders meer laat neig na geweld; sekere soorte breinskade weens kopbeserings kan ook ʼn rol speel in die ontwikkeling van gewelddadige gedrag.”

‘n Skermskoot uit ‘n video van twee leerders van die Lyttelton Manor School wat in Februarie vanjaar geskors is nadat hulle in ʼn vuisgeveg by die skool betrokke geraak het.

Oplossing vir vrede

In ʼn land waar byna die helfte van die volwasse bevolking onder die boonste armoedegrens leef en in ʼn era van tegnologie en sosiale media, wat staan ouers en onderwysers te doen?

“Ek dink dit is nodig dat verskeie rolspelers na die tafel toe kom om meer voorkomend op te tree in hierdie verband,” sê Ribeiro. “Ek sal beslis ʼn beroep doen op die departement van onderwys om te kyk hoe hy ondersteuning kan bied in terme van berading en terapie in skole. ʼn Holistiese benadering moet gevolg word ten opsigte van skoolonderrig sodat daar aandag geskenk word aan al die behoeftes van ʼn kind en nie net hul onderrigbehoeftes nie. Die departement is in dié stadium nie in staat om daardie ondersteuning te bied nie,” sê sy.

Ribeiro sê daar is tans veels te min beraders en sielkundiges wat skole moet ondersteun en dié wat daar wel is, het heeltemal te min hulpbronne om al die kinders te help wat gehelp moet word. “Daar kan byvoorbeeld gebruik gemaak word van leerdersielkundiges en interns wat graag ervaring wil opdoen. Dit sal vir ons baie waardevol wees as die departement van onderwys ʼn vennoot kan wees in ons pogings om skole te ondersteun.”

Die probleem van geweld in skole kan ook aangeraak word deur behoorlik opleiding aan onderwysers en ouers te gee om die kwessie te identifiseer en te hanteer, sê Ribeiro. “Ouers het ʼn belangrike rol om te speel. Hulle moet oplet na die behoeftes van hul kinders en raaksien as hul kind nie gelukkig is of as iets nie reg is nie, eerder as om te hoop dat dit maar net self sal weggaan.

“Ouerskap is nié maklik nie en ʼn uiters veeleisende rol om te vervul. Skole kan byvoorbeeld daarna kyk om vaardigheidskursusse vir ouers beskikbaar te stel en hulle sodoende help om die vaardighede aan te leer wat nodig is om doeltreffende ondersteuning aan hul kinders te bied.”

Naidoo sê ouers moet op die uitkyk wees vir ooglopende tekens dat hul kind dalk na gewelddadige gedrag kan oorgaan en onmiddellik ingryp indien dié rooi ligte waargeneem word. “Ernstige fisieke bakleiery met maats of gesinslede, erge verwoesting van eiendom, of ʼn kind wat uitermatige woede toon vir onbenullige redes, is tekens dat ingryping dringend nodig is,” sê sy.

“As daar opgemerk word dat ʼn kind selftoegediende beserings het, of ʼn kind selfmoordneigings toon of ʼn beheptheid het met selfmoord of geweld, moet hulle so gou moontlik professionele hulp kry.” Sy sê onderwysers moet onmiddellik ouers in kennis stel indien ʼn kind dreigende gedrag by die skool toon en in ernstige gevalle kan dit nodig wees om wetstoepassingsowerhede te betrek, byvoorbeeld wanneer die kind ʼn wapen by hom of haar dra.

Van die tekens waarvoor ouers op die uitkyk kan wees, sluit in:

  • Fisieke aggressie of bakleiery
  • Onbeheerste woede-uitbarstings
  • Boeliegedrag
  • Brandstigting
  • Dreigemente of pogings om ander seer te maak
  • Die gebruik van wapens
  • Wreedheid teenoor diere
  • Opsetlike verwoesting en beskadiging van eiendom

“Wanneer kinders en hul families betyds die nodige professionele ondersteuning kry, kan dit ʼn enorme verskil in die kind se lewe maak in die jare wat kom. Dit is daarom noodsaaklik dat volwassenes verstaan hoe om die waarskuwingstekens raak te sien en dadelik optree om die kind te help om geweldsneigings te oorkom,” sê Naidoo.

Ribeiro moedig ouers aan om met hul kinders te praat indien hulle onraad merk en deurentyd die kommunikasiekanale oop te hou sodat die kind gemaklik voel om te erken wanneer hulle probleme ondervind. “Praat met jou kind en vra hulle hoe dit gaan. Moenie ongelukkigheid of ontsteltenis net afmaak as tienergedrag nie. Herinner jou kind daar is geen probleem wat te groot is om op te los nie, en maak nie saak wat skeefloop nie, jy sal hulle nie verwerp of wegstoot nie.”

Bel die Johannesburg Parent and Child Counselling Centre (JPCC) by 011 484 1734 of stuur ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Ek dagvaar die boelies dat dié verniet sal moet werk tot in sy of haar 40’s. Sal die boelies finansiel ruineer.

Jaco

Bie sogenaamde boelies word aangemoedig deur hul maats (die eintlike boelies)

jo

Dit kom van hulle huise af, ouers het nie meer tyd vir hulle kinders nie, altwee ouers moet werk om finansieel kop bo water te hou, alhoewel daar is ouers wat finansieel welaf is en regtig nie nodig het dat altwee werk nie maar hulle werk om meer luukse items te kan koop ens, kinders word kleintyd al in kleuter skole in gedruk, iemand anders maak hulle kinders groot en hulle is net n naweek en n uur of twee in die aand ouers. Helfte van die tyd weet vandag se ouers nie wat hulle kinders doen nie. Gebeur daar… Lees meer »

Liamari

As jy kyk na ‘n groot hoeveelheid van kinders se ouers wat in taverns rondhang en dan ook deelneem in geweldadige betogins… daar is dus geen morele kampus nie. Daar sal ‘n oplossing moet kom vir Afrikaner kinders om skool te gaan waar hulle veilig in hul taal opvoeding kan ontvang. Ek kan sien dat skole geopen kan word wat op grond van die Akademia prinsiep werk. Dus spaar jy baie kostes aan personeel aangesien meeste leer telemeaties/elektronies plaasvind.

A

Dis so hartseer dat kinders so optree… wat ek ervaar het is soms het ‘n boelie self probleme ondervind en nie die regte ondersteuning gekry van die groot mense wat veronderstel is om ons kinders te lei nie, ek weet dit maak nie dit reg nie maar kyk watse voorbeelde die kinders vandag na moet opkyk, die media en gemeenskappe is vol geweld.