Geweld, oproer, plundery: Ramaphosa praat wéér vanaand

Plunderaars vlug met items wat gestroop is terwyl die polisie wet en orde probeer handhaaf by die Lotsoho-winkelsentrum in Katlehong, in Gauteng. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die land vanaand (12 Julie) om 20:30 weer toe terwyl grootskaalse chaos en plundery vandag op tientalle plekke landwyd voortgewoed het. Die tyd vir die president se aankondiging moet nog aangekondig word.

Ramaphosa het die land ook gisteraand toegespreek en toe die verskerpte afsonderingsregulasies met nog twee weke verleng. Daar is wel ook toegewings aangekondig, onder meer dat restaurante nou aansitetes vir ʼn beperkte hoeveelheid klante mag bedien.

Ramaphosa het toe ook die voortgesette geweld veroordeel.

Ingevolge die Grondwet mag die president die weermag in samewerking met die polisie ontplooi en moet die parlement daaroor ingelig word.

Die president het intussen ʼn oproep vir kalmte gedoen en misdadige elemente gewaarsku dat hulle vasgevat gaan word in ʼn proses om wetteloosheid te beëindig sodat ekonomiese bedrywighede hervat kan word.

“Die meeste Suid-Afrikaners steun nie en moet ook nie geweld en die verwoesting van eiendom en lewens wat in gevaar gestel word, steun nie. Mense word aangemoedig om misdadigheid aan te meld deur video’s van sulke bedrywighede met die polisie te deel.”

Die presidensie het ook gevra dat mense let op wat hulle op sosialemediaplatforms deel en bewus te wees dat die deel van fopnuus wat geweld of plundery aanhits, ʼn misdaad is.

Die oproer, wat aanvanklik net in KwaZulu-Natal begin het en onder die vaandel gedoen is van oproepe om oudpres. Jacob Zuma uit die tronk vry te laat, het gou na talle ander dele van die land versprei en tientalle voorvalle van misdadigheid is aangemeld. Zuma se aansoek, om sy tronkstraf te laat herroep, word vandag in die Konstitusionele Hof aangehoor.

Verskeie winkelsentrums en kleinhandelaars is geplunder en enigiets van yskaste, tot koek en TV’s is weggedra.

Maroela Media het vroeër berig die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, oftewel NatJoints, het suksesvol gevra dat die weermag in veral KwaZulu-Natal en Gauteng ontplooi word om operasionele steun aan die polisie te gee.

Die duur van die ontplooiing en die aantal soldate betrokke is nog nie duidelik nie. Ramaphosa sal na verwagting vanaand meer inligting daaroor bekend maak.

“Dit moet benadruk word dat die weermag se ontplooiingsdoelwit is om veiligheid en ʼn veilige werksomgewing vir polisielede en ander wetstoepassingsowerhede te skep terwyl hulle hul grondwetlike plig, om wet en orde te handhaaf, uitvoer,” het die weermag vroeër vandag luidens ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

O genade wat gaan word van die land.

Hein

Kan julle nou dink na al die plundery waar die virus gaan opeindig? Al die geld in die water.

sopbeen

Hierdie is ‘n baie groot verleentheid vir ons land.

casper

Hulle maak nog reg omte ontplooi en wag vir die nodige “presesse”om in plek te wees.

Kokerboom

Hierdie het NKS met Zuma te doen maar absolute boewery. Die weermag was nie daar om ‘n veilige werksomgewing vir Polisie te skep(ala Ramaphosa) dus plundery.Die ANC het ‘n aaklige presedent geskep!!!