Geweld teen vroue, kinders ‘onaanvaarbaar hoog’

Bheki Cele (Foto: Kopan o Tlape, Verskaf)

“Die tydperk van April tot Junie wys Suid-Afrika was gevaarlik en grusaam vir vroue en kinders.”

Só het Bheki Cele, minister van polisie, Vrydagmiddag gesê tydens die bekendmaking van die land se jongste kwartaallikse misdaadstatistieke.

Luidens dié statistieke is altesaam 855 vroue en 243 kinders tussen April en Junie vermoor. In minstens 11 000 klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer wat by polisiestasies aanhangig gemaak is, was vroue die slagoffers. In 1 670 van hierdie sake was kinders betrokke.

Verder ondersoek die polisie meer as 1 400 dossiere van poging tot moord waarin vroue en kinders die slagoffers is.

Van die kinders wat vermoor is, is ʼn totaal van 19 in onderrigsentrums vermoor. Daar is ook altesaam 67 verkragtings by skole aangemeld.

Moord

Altesaam 6 424 moorde is tussen April en Junie vanjaar gepleeg. Cele het sy kommer uitgespreek oor die getal moorde wat steeds toeneem, met 644 meer mense wat vermoor is (ʼn 11,5% toename) in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Die meeste moorde, 1 623, is in KwaZulu-Natal aangemeld, gevolg deur Gauteng met 1 490 en die Oos-Kaap met 1 200 moorde. In Limpopo (-14,1%), Mpumalanga (-2,5%) en die Noord-Kaap (-5,8%) was daar ʼn afname in moorde.

Die statistieke skep ʼn donker prentjie van 11 uit elke 100 000 mense in Suid-Afrika (sowat 6 600 uit 60 miljoen mense) wat teen die huidige koers vermoor word.

Die statistieke dui daarop dat die Oos-Kaap die hoogste moordsyfer het, met 18 moorde per 100 000 mense, gevolg deur KwaZulu-Natal met 14 moorde per 100 000 mense.

Cele sê die hoofmotiewe vir moord is argumente en misverstande, gevolg deur vergelding en wraakmoorde.

Altesaam 18 polisiebeamptes is in hierdie tydperk vermoor. Dit is 13 minder polisiebeamptes as gedurende hierdie oorsigtydperk verlede jaar.

Altesaam 176 bendeverwante moorde, waarvan 161 in die Wes-Kaap, is aangeteken en 90 taxi-moorde is regoor die land aangemeld.

In 2 766 (meer as ʼn derde) van die moorde wat aangemeld is, is ʼn vuurwapen gebruik, gevolg deur 935 gevalle waarin ʼn mes gebruik is en 100 gevalle waarin slagoffers met ’n klip of baksteen vermoor is.

In 912 van die moorde wat in KwaZulu-Natal aangemeld is, is ’n vuurwapen gebruik, gevolg deur Gauteng met 697 moorde en Wes-Kaap met 498 moorde.

Cele sê daar was wel ʼn afname in plaasmoorde, volgens dit wat by polisiestasies aangemeld is. Volgens die statistieke is tien plaasmoorde aangemeld, teenoor 14 verlede jaar.

Kontakmisdaad

Kontakmisdade het oor die algemeen met 4% (2 205 minder kontakmisdade) afgeneem.

Die totale seksuele misdrywe het met 6,7% afgeneem – met 847 minder aanklagte wat aangemeld is in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

ʼn Totaal van 9 516 verkragtingsake is aangemeld. Dít dui op ʼn afname van sowat 9 050 (4,9%) gevalle vergeleke met die vorige jaar se syfers.

Volgens Cele is daar ʼn afname in verkragtings in al die provinsies aangemeld.

Van die aangemelde verkragtingsake het 3 780 na bewering in die huise van óf die verkragter óf die slagoffer plaasgevind, gevolg deur 1 546 slagoffers wat in openbare ruimtes, insluitend strate, parke en strande, verkrag is.

In die oorsigtydperk is altesaam 286 verdagtes skuldig bevind aan verkragting. Van die 286 skuldigbevindings is 46 van die verkragters tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

“Terwyl die meerderheid van verkragtings wel agter geslote deure plaasvind en moeilik is om te polisieer, is ons vol vertroue dat dit die speurwerk van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) is wat meer verkragtings voorkom. Vandaar die afname in verkragtingsake gedurende die verslagtydperk.”

Cele sê reeksverkragters word veral in hul spore gestuit, met 16 verkragters wat by 65 reeks- seksuele misdryfsake betrokke is en wat skuldig bevind is. Hulle sal altesaam 20 lewenslange en 886 jaar tronkstraf opgelê.

Luidens die statistieke het die aantal sake van poging tot moord met 8,4% toegeneem terwyl roof met verswarende omstandighede met 4% toegeneem het.

 

Cele sê alkohol- en drankgebruik speel ʼn rol in talle voorvalle van moord, met drank wat by 749 moordsake betrokke was. Altesaam 227 mense is kuierplekke soos tavernes, kroeë, nagklubs of sjebiens vermoor.

“In meer as 4 000 sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer was drank betrokke. In 1 212 verkragtingsvoorvalle het drank ʼn rol gespeel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Di ·

HOEKOM? Omdat ons die mees onbevoegde man het as Polisie Minister asook die meeste van sy polisielede wat self kriminele rekords het. Dan is daar die useless ANC regering wat te slapgat is om sy landsburgers te beskerm. AL wat Rampie doen is praat en lee beloftes maak. Daar is GEEN plan van aksie HOE om die misdaad hok te slaan in SA nie.

Samuel ·

Rampie kan nie van Cele ontslae raak nie, want hy het hom in KZN nodig.

Francois ·

Bheki Cele se onvermoë om sy departement te bestuur dra 100% by tot al die misdaad. Soos al ons staatsdepartemente is syne ook maar “useless”

Eiervrug ·

Hoeveel keer wil hy nog sy kommer uitspreek?. Dink hy nie dit is tyd om oor te gaan na die volgende stap toe nie?…. of het hy niks onder sy hoedjie wat aan iets anders kan dink nie….

Jacques ·

Ek stem saam… al wat jy altyd lees is die clown is ‘bekommerd’, plaas hy iets doen. Ek is ook bekommerd oor goed, maar dit kom nie vanself reg net omdat ek bekommerd is daaroor nie. Hulle is ‘n useless klomp kriminele.

domheks ·

Seker baie trots op die polisie in die algemeen? Skandelik!

Miskruier ·

Sit vanmore in aanklagkantoor, 2 dames in n uur se tyd kom vra vir n “protection order”

Vexed ·

Wel, eerstens, Suid-Afrika is afgryslik vir almal oor die algemeen. Verder, wat is dan die aanvaarbare vlak van geweld teen vroue en kinders?

Samuel ·

Daar is géén aanvaarbare vlak van geweld teenoor vroue en kinders nie. Dit moet verkieslik zero wees.

Sarel ·

Ongelukkig noem hy nie ” Swak gedrag” en optrede van sommige Polisirlede nie.
Mense gaan soek hulp dan word hulle azngerand..
Hoeveel lede van die Polisie us reeds skuldig bevind of
sit met Klagstaat vir Verkrag ting..of Gesins geweld

koos ·

‘onaanvaarbaar hoog’ is ook die vlak van belastinggeld diefstal, my gehoede nie-vriend.

Carl ·

Ek sien op ander plekke word genoem daar is minder seksuele aanranding en gewone aanranding, maar meer moorde. Al wat dit beteken is die moordenaars moor nou beter………kan net my kop skud!

Herpiet ·

Maar net nog ‘n “Dunning-Kruger” effek lyer

Met skokkende statistieke glo hy dat hy uiters bekwaam is..

Anel ·

Dis nou alles goed enn wel om die statistiek te gee, maar hoe weet ons hoe eg dit is? En wat gaan hy daar omtrent doen? Ek kan my nie indink dat ‘n minister van byvoorbeeld minister Louis Le Grange se statuur, sulke statistiek sou voorhou en sê dat dit darem beter is as die vorige jaar nie!!! Eintlik ‘n skande om dit net te noem of hulle te vergelyk!!! As ou cele bietjie iets gevoel het sou hy besef hy kan en gaan nooit die mas op kom nie en sy goed gevat en geloop!!!!

Nici ·

Geweld teen vroue is nie net in RSA ‘n probleem nie. In Aus word daar weekliks vtoue vermoor deur ‘n man of kerel. Dis nie soveel ‘n polisie probleem as ‘n kulturele probleem en disrespek vir vroue.

Theunis ·

Dit is nou die perd wat sy bek uitgespoel het deur te sê sy is gelukkig om net een keer verkrag te wees.

Pietertjie ·

Word Hoed nou miljoene Rand per jaar betaal, net om ons iets te vertel wat almal reeds weet? (behalwe hý, natuurlik)

Sê maar net ·

Praat, praat, praat….wat gaan jy daaraan doen, Cele!!!?

Rocco ·

Bheki, vertel ons hoeveel van die misdade word opgelos, en skuldiges gevonnis. Cele, bedank, en maak Suid Afrika gelukkig

Elizabeth ·

Hoekom? Omdat almal Bheke Cele aansien vir ñ gek. Hy is hopeloos en die pos is nie vir hom bestem nie . Hy is absoluut magteloos en onkundig. Vervang hom. Dringend.

Papsak ·

Te veel onbevoegde polisie daarom gaan dit so skrik al skrik hulle net wakker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.