Geweld vlam wéér op in Noordwes

Argieffoto: Nico Strydom

Nóg ʼn huis en twee voertuie is by Itsoseng naby Lichtenburg in Noordwes aan die brand gesteek nadat geweld in dié provinsie weer opgevlam het.

Dit volg nadat vier huise Woensdag ook deur ʼn groep verdagtes, vermoedelik inwoners van Itsoseng, beskadig en aan die brand gesteek is.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê geen motief vir die geweld is nog bekend nie.

Mokgwabone het gesê ʼn groep seuns het na bewering vroeër die dag leerders van die naburige Verdwaal-nedersetting verhoed om skool toe te gaan in Itsoseng, maar die polisie ondersoek nog die verband tussen die twee voorvalle.

Verskeie geboue en huise is vroeër die maand ook in die Rustenburg-omgewing aan die brand gesteek nadat gemeenskapslede glo dwelms en prostitusie op dié dorp ʼn nekslag wou toedien.

Inwoners van die Dinokana-nedersetting naby Zeerust het die N4 tussen Zeerust en Botswana vroeër vandeesweek versper in ʼn protesoptog om vars water te eis.

Die R49 tussen Mahikeng en Zeerust is ook vroeër in Januarie versper uit protes teen dienslewering. ʼn Poskantoor is na bewering ook in dié voorval aan die brand gesteek en inwoners het ʼn polisiestasie met klippe bestook.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, het dié voorvalle veroordeel. “Wetteloosheid het geen plek in ons samelewing nie. Ons sal verseker dat diegene wat protesoptogte gebruik om te plunder en ander misdade te pleeg, aan die pen sal ry. Dit is belangrik dat alle beskikbare regsmoontlikhede eers gevolg word om kwelpunte uit te lig eerder as om gewelddadig te raak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alse ·

Nie noodwendig nie, ons weet e min. Dalk is dit mense wat die leemte vul in die diens wat die polisie en tegsisteem veronderstel was om te doen soos wat in rustenburg gebeur het.

Cherokee ·

In ‘n wêreld waar niks gratis is nie, bly dit onverstaanbaar dat inwoners, waarvan sommige onwettig in die land is, kan vandaliseer ten einde selfs meer as reeds verniet te kry.

Pieter ·

Dit is wat gebeur as n land nie meer eerbare polisie beamptes het wat wet en orde kan handhaaf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.