Gewelddadige betoging deur MyCiTi-busbestuurders

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

Die stad Kaapstad het Donderdagmiddag gesê ʼn onwettige staking deur die MyCiTi-busbestuurders duur voort.

“Ondanks ʼn vergadering vroeër vandag tussen van die busbestuurders en bestuur by die MyCiTi-voertuigbedryfsmaatskappy Kidrogen, het die staking tot in spitstyd voortgeduur,” het die stad in ʼn verklaring gesê.

Die staking raak die busdiens in Tafelbaai, Atlantis, Melkbosstrand en Century City.

Stakers het glo ʼn nie-stakende busbestuurder aangeval en passasiers gedwing om af te klim. Die busbestuurder kon met die bus wegkom. “Verskeie gewelddadige voorvalle is sedert die vroeë oggendure aangemeld,” lui die verklaring. “Die laaste voorval was om 12:30 in Parklands Mainweg.”

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het gesê die stad is geskok deur hierdie aanstootlike gedrag. “Geen vorm van geweld kan geduld word nie,” het hy gesê. “Dit is nie ʼn wettige vorm van betoging nie, maak nie saak wat die stakers se griewe of ontevredenheid behels nie. Die stad, sy wetstoepassers en die Suid-Afrikaanse Polisiediens hou die situasie fyn dop.”

Herron sê die diens op die T01-roete en na Century City sal eers hervat wanneer die geweld verby is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jannie ·

Red n land met sulke mense. Verstaan dat mense ongelukkig raak oor sekere aspekte, maar hel om geweld te gebruik en fandalisme toe te pas, bring mens nerens nie. Duidelik het die mense geen begrip van om n land op te bou nie. Als wat afgebreek en afgebrand word, moet weer op gebou word. Die ekenomie sal nooit boontoe gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.