Deur Justin Steyn
Die gemeenskap van Vaalwater in Limpopo is Dinsdag aangesê om liefs tuis te bly weens gewelddadige onluste en onwettige stakings op dié dorp waar ʼn sterk polisieteenwoordigheid sedert Maandag heers.
Talle stakende inwoners van die informele nedersetting buite die dorp het Maandag in die vroeë oggendure begin om voetgangers, voertuie en winkels met klippe te bestook. Betogers is ontevrede oor swak dienslewering deur die plaaslike munisipaliteit, asook oor ʼn kontrak wat die padagentskap Sanral met die munisipaliteit aangegaan het.
Die gemeenskap het glo reeds op 22 April ʼn memorandum met hul griewe aan die munisipaliteit oorhandig, maar meen dat niks klaarblyklik nog gedoen is om aandag te gee aan dié griewe nie.
Betogings het Dinsdag voortgegaan toe motorbande aan die brand gesteek en infrastruktuur soos stoptekens beskadig is. Minstens een persoon is tydens dié voorval aangeval en beroof en strate na en van die dorp is afgesper.
Plaaslike veiligheidsgroepe is ook tydens die optog ontbied om sakepersele teen plunderaars te beskerm, nadat verskeie ondernemings Maandag reeds skade gely het. Die polisie het ook Dinsdag betogers met traangas en rubberkoeëls uiteengejaag. Teen Woensdagoggend was die situasie op die dorp kalm.
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
Marlene van Staden, burgemeester van Modimolle-Mookgopong waaronder Vaalwater val, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat sy weens veiligheidsredes nie die skare Dinsdag kon toespreek nie.
“Ek het vandag (Dinsdag) ʼn poging aangewend om met verteenwoordigers van die gemeenskap te vergader, maar as gevolg van kommer oor veiligheid kon dit nie gebeur nie. Ek is steeds bereid om te vergader om probleme te bespreek, maar ek kan geen geweld en vandalisme goedpraat nie,” het sy in die verklaring gesê.
Volgens Van Staden is stakers ontevrede oor ʼn kontrak wat die munisipaliteit met Sanral aangegaan het om die R33-snelweg buite die dorp op te gradeer.
Betogers is vies omdat Sanral nie van plaaslike werkers gebruik maak nie.
Van Staden het gesê dit is die derde keer dat ʼn onwettige staking in die gebied oor die betrokke kontrak plaasvind.
Joe da Silva, ʼn plaaslike sakeman, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dat hy ʼn groot verlies gely het tydens die vorige dag se geweld.
“Die betogers het van my trollies en ander goedere gesteel om die pad mee af te sper. Daar is ook ʼn groot aantal goedere soos kruideniersware gesteel. Ek het vandag besluit om liefs agter toe deure sake te doen om verdere skade te voorkom,” het hy gesê.
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
- (Foto: Justin Steyn)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Hoekom word hulle nie toe gesluit nie? Brand, breek en plunder is al wat hulle kan doen. Geen social distance of maskers ook nie gggmmmfff pateties.
Ek kan net stom van verbasing hulle manier van doen en “redeneer” gade slaan. Ons is kwaad, dan verwoes en plunder ons wat voorkom, en too bad vir die een wat die skade ly en met die verwoesting sit.
Geweldadige onluste moet eintlik lees, Geweldadige barbarisme, want die vet weet, maak nie saak uit watter hoek mens na dit kyk nie, dis al wat dit is. Punt.
En die polisie sit op hulle hande. Siestog, shame, foeitog.
En die polisie monitor die situasie…daar is geen hoop tot die dag wat die optrede as terrorisme geklassifiseer word en dienooreenkomstig mee gehandel word.
Absoluut breinloos…..brand vandag die bus uit en betoog môre omdat die bus nie opdaag nie.Al hierdie betogers gaan in die komende verkiesings weer vir die A en C stem want hulle word toegelaat om te plunder en te vernietig.