Gewelddadige betogings vlam op in twee provinsies

Skade wat aangerig is tydens ‘n gewelddadige betoging in Kaapstad. Foto: ANA

Gewelddadige betogings oor behuisingskwessies het daartoe gelei dat paaie in die Wes- sowel as die Oos-Kaap Maandagoggend vir verkeer gesluit moes word.

In die Wes-Kaap is Prins George-rylaan in die rigting van Muizenberg in Kaapstad geaffekteer deur betogings by Parkwood en Vrygrond. Die Stad Kaapstad het gesê dié pad is van Militaryweg in ʼn suidelike rigting gesluit. Die teenoorgestelde rigting is egter steeds oop vir verkeer.

Betogers het buitebande aan die brand gesteek in ʼn veld naby Prins George-rylaan en Hydeweg. Die gewelddadige betoging by Parkwood is weens ontevredenheid oor ʼn gebrek aan behoorlike behuising. Verkeersbeamptes en metropolisielede is tans in die gebied om die situasie te monitor.

Die Stad se woordvoerder Wayne Dyason het bevestig betogers het voertuie naby Vrygrond met klippe bestook. ʼn Plaaslike verhuringskantoor is ook tydens die geweld beskadig.

Intussen het inwoners van Kwazakhele noord van Port Elizabeth ook op ʼn verwoestingstog gegaan oor behuisingskwessies. Daar word verneem dat die probleme begin het nadat ʼn man twee weke gelede doodgebrand het toe ʼn plakkershut vlamgevat het. Lede van die gemeenskap meen die man se lewe kon gespaar gewees het indien daar behoorlike behuising aan hulle voorsien is.

Skade wat aangerig is tydens ‘n gewelddadige betoging in Kaapstad. Foto: ANA

Kapt. Andre Beetge, woordvoerder van die polisie, het gesê betogers het sedert 05:00 begin om Njoliweg met brandende buitebande en ander voorwerpe te versper. Teen 06:30 het betogers ʼn Algoa-bus met klippe bestook en teen 08:00 is ʼn tweede bus aan die brand gesteek en heeltemal verwoes.

“Lede van die polisie se eenheid vir openbare orde is in die gebied en probeer om die situasie onder beheer te bring. Dit is in dié stadium baie gespanne,” het Beetge gesê.

Volgens ʼn betroubare bron het onderhandelinge twee weke gelede tussen lede van die gemeenskap en die raadslid van Wyk 18 begin. Inwoners was egter nie tevrede nie en het buitebande buite die raadslid se kantoor aan die brand gesteek. Vrydag is daar weer buitebande buite die raadslid se huis aan die brand gesteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Kab die mense nie maar ordentlik ooreen kom oor die kweesies van huise ens ,ens ens.

GM ·

As jy ‘n huis wil hê, werk daarvoor. Hul wil elkeen 300 kinders hê, en daai 300 kinders wil elkeen ‘n huis hê, en gratis studeer, en, en, en… En die hardwerkende belastingbetaler sukkel om te oorleef, want hul betaal en betaal net vir als.

tamboti ·

In die ou RSA het sulke betogings die wereld laat regop sit en allerhande uitsprake en sanksies teenoor die regering ge-uiter. Dit was mos a.g.v. ‘n onregverdige en onbillike bestel!
En nou ……. nou is dit maar net so OK soos dit met ons regering is: blote uitdrukking van demokrasie!
Maar dieselfde mense word nog steeds geblameer en alles is mos apartheid se skuld!
Wees gewaarsku, die gevolge van jul onbesonne wandade sal jul nog inhaal.

gjm ·

Ek kon net nog nooit die ding verstaan nie, waarom gooi jy voertuie met klippe en brand busse uit as jy ongelukkig is oor jou verblyf. Wat het die bus maatskappy te doen met die uitdeel van gratis akkomodasie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.