Gewelddadige eks sit lank

Argieffoto.

Argieffoto.

Ayanda Govender (23) van Glencoe in KwaZulu-Natal is swaar gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan verkragting, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê Govender het sy 19-jarige eksmeisie op 28 April 2012 en dié se nuwe kêrel by die Glencoe-begraafplaas met ʼn panga aangeval.

“Hy het haar kêrel met die panga op sy kop geslaan en veelvoudige beserings veroorsaak,” het Zwane gesê. “Hy het daarna die slagoffer gegryp en aangerand. Hy het haar met die dood gedreig as sy enige lawaai maak.” Govender het die slagoffer daarna na die Glencoe McHardy-dam geneem waar hy die slagoffer se ma gebel en gedreig het om haar dogter dood te maak.

“Die slagoffer het verskeie kere probeer om te ontsnap, maar hy het haar die heeltyd oorweldig. Hy het haar teen die berg op geneem en haar twee keer verkrag terwyl hy haar met ʼn mes gedreig het. Hy het haar die volgende dag vrygelaat,” het Zwane bygevoeg. Die slagoffer het die saak by die Glencoe-polisiestasie aangemeld, waarna Govender in hegtenis geneem is.

Govender is in die Dundee-streekshof tot 40 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het 15 jaar tronkstraf gekry op albei aanklagte van verkragting, vyf jaar vir aanranding en vyf jaar vir ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.