Gewelddadige stakings knou ekonomie

(Foto: Hansie Linde)

Die afgelope gewelddadige stakings in Pretoria en Kaapstad het ekonomiese aktiwiteite en dienste in die provinsies ernstig beïnvloed in ʼn tyd wat die ekonomie dit nie kan bekostig nie.

“Dit is tyd dat daar daadwerklik opgetree word om gewelddadige en wettelose stakings wat die ekonomie verlam hok te slaan,” sê Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

“Gewelddadige en uitgerekte stakings het ʼn vernietigende effek op die ekonomie weens die grootskaalse intimidasie, geweld, plundering en skade aan eiendom waarmee dit dikwels gepaardgaan. Stakings lei dikwels ook tot hoë vlakke van afwesigheid in werksplekke wat verreikende gevolge vir werkgewers sowel as werknemers inhou.”

Stakings hou dikwels ook groot ontwrigtings vir lede van die publiek in met dienste wat nie gelewer kan word nie en sake wat nie soos normaal voort kan gaan nie. Die wetteloosheid waarmee stakings gereeld gepaardgaan hou ook ʼn veiligheidsbedreiging vir lede van die publiek in.

“Gewelddadige stakings berokken die land groot skade aangesien dit ekonomiese groei verder strem en beleggersvertroue skaad. Stakings loop ook dikwels op afleggings of afdankings uit aangesien ondernemings produksie- en finansiële verliese ly. Stakings kan verder ontwrigtings aan voorsieningskettings en algehele produktiwiteit veroorsaak en verbruikersvertroue word nadelig beïnvloed.”

Die gebrek aan behoorlike wetstoepassing en gevolglike aksie tydens gewelddadige stakings is ook kommerwekkend. “Almal het die reg om te staak, maar niemand het die reg om die lewe en welstand van ander in gevaar te stel met geweld en wetteloosheid nie. Stakings lei dikwels ook tot meer skade as wat die geval sou wees as daar nie gestaak is nie.”

Gewelddadige stakings het ʼn vernietigende uitwerking op beleggersvertroue, in ʼn tyd wat Suid-Afrika alles in die stryd moet werp om beleggers se vertroue te herwin. “Voorvalle soos hierdie ondermyn egter enig vordering wat gemaak is, met ondernemings en toerisme wat ook groot skade ly.”

Dit is tyd daar voorkomend opgetree moet word om te verhoed dat stakings tot geweld en wetteloosheid lei. “Daar is ʼn persepsie dat geweld tydens stakings ‘n doeltreffende manier is om die aandag te kry van diegene in beheer en dat dit sodoende die beste resultate lewer. Daar moet ernstig besin word oor hoe die praktyk hokgeslaan kan word aangesien die land en ekonomie dit nie meer kan bekostig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Everest Wealth sal beter sake doen en die berg Everest na sy versoek luister as hierdie buite-beheer enclave van die ANC. Hier beweeg ons net na meer van dieselfde soos in die res van Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.