Geweldige stank uit lykshuis ná instandhoudingswerk

(Argieffoto)

ʼn Lykshuis in Upington in die Noord-Kaap is verlede week in stank gehul nadat ʼn kontrakteur aan die verkoelingsgeriewe gewerk en glo nie weer die elektrisiteitskakelaar ná die instandhoudingswerk aangeskakel het nie. Die lykshuis is by die Dr. Harry Surtie-hospitaal op die dorp geleë.

Jan Hendrik Opperman, plaaslike DA-wyksraadslid, sê aan Maroela Media die koelkaste van een van die lykshuis se afdelings is reeds sowat 18 maande buite werking en die hospitaal maak van privaat begrafnisondernemings se dienste gebruik wanneer iemand aan natuurlike oorsake omkom.

Volgens Opperman is die forensiese afdeling van die lykshuis wel nog in gebruik en dis hiér waar ʼn ongelooflike stank ná instandhoudingswerk geheers het. Later sou daar vasgestel word dat die kontrakteur nooit die elektrisiteit aangeskakel het voordat hy daar weg is nie.

Opperman sê die stank was veral afkomstig van die liggaam van ʼn persoon wat onlangs verdrink het. Luidens inligting het forensiese personeel geweier om hul werk voort te sit weens die stank.

Lebogang Majaha, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, bevestig dat die departement klagtes van dié aard vanaf die forensiese personeel ontvang het. Volgens Majaha het die departement reeds aandag aan die klagtes geskenk en nadoodse ondersoeke gaan sedertdien in dié afdeling voort.

Majaha verduidelik hoewel afgebakende koelkaste beskikbaar is vir diegene wat aan natuurlike oorsake dood is, word dié liggame gewoonlik deur familielede afgehaal vir begrafnisdoeleindes. Die oorskot van dié wat weens onnatuurlike oorsake oorlede is, word egter langer in die forensiese afdeling gehou, sodat ʼn nadoodse ondersoek gedoen kan word om die oorsaak van dood te bepaal.

Die forensiese koelkamer het plek vir 48 liggame.

“Dienste gaan normaalweg voort by die lykshuis in Upington,” verseker Majaha.

Opperman sê egter net ʼn gedeelte van die koelkaste is in ʼn werkende toestand en ʼn suigwaaier moet nog herstel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tokkel ·

So die persoon wat die werk gedoen het, het nie eers seker gemaak die verkoelingssisteem werk nie??
Hoop hy word beboet en word net vir die helfte van sy werk betaal.

Magda ·

Sien gebruik eerder buite mense wat meer geld kos, as om die geld wat daar is te gebruik om die instandhouding te doen – Ai tog – geen salf te smeer aan DOMHEID nie.

Genis ·

Hier is twee kante, wie het die werk nagesien/gekyk dat die uitsluit stelsel werk? Tweedens was dit verkoeling of elektries, en hoe is verseker dit werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.