‘Geweldskultuur op plase moet einde kry’

Argieffoto

Agri SA het Donderdag in ʼn verklaring gesê Suid-Afrika kan nie bekostig dat die “geweldskultuur” in die land plaasgemeenskappe verder teister nie.

Dan Kriek, president van Agri SA, het gesê plaasaanvalle en die wreedaardigheid daarvan moet deur alle Suid-Afrikaners ten sterkste veroordeel word.

“Ons dink aan duisende mede-Suid-Afrikaners wat die afgelope jaar hulle lewens weens geweldsmisdade verloor het, [waarin] 52 moorde per dag [gepleeg is]. Baie boere en plaaswerkers tel onder diegene wat die hoogste prys betaal het”, het Kriek gesê.

Kriek het gesê 34 000 boere in Suid-Afrika moet aanslae op hulle lewens afweer te midde van droogtes, natuurrampe en beleidsonsekerheid, terwyl hulle kos produseer vir 55 miljoen Suid-Afrikaners.

Volgens hom voed een boer daagliks 1 600 mense.

“Al die faktore kan oor die langer termyn voedseltekorte tot gevolg hê en daarmee saam stabiliteit in die land benadeel,” sê hy. “Die tyd het lank reeds aangebreek dat die publiek en regering moet kennis neem van die wreedheid van plaasaanvalle, asook die aanslag op lede van die boerderygemeenskap en daarom steun Agri SA die bewusmakingsveldtog van 30 Oktober 2017 dat Suid-Afrikaners as blyk van meelewing swart klere sal dra.

“Boere is kwesbaar en daarom is paraatheid op huishoudelike vlak en gemeenskapsbetrokkenheid van belang om die geweldsaanslag af te weer. Een van die pilare vir gemeenskapsdeelname aan landelike veiligheid is die implementering van die landelike beveiligingstrategie. Om pro-aktief te wees beteken dat die individu en gemeenskap op enige voorval bedag en gereed moet wees en dit kan slegs bereik word wanneer boere en plaaswerkers binne georganiseerde landboustrukture betrokke is”, het hy gesê.

Die Agri Securitas-trustfonds, deel van Agri SA, speel volgens hom ʼn belangrike rol om plaasgemeenskappe teen plaasaanvalle te help beveilig. Dié fonds voorsien toerusting soos kommunikasienetwerke, kamerastelsels en misdaadbekampingstoerusting aan gemeenskappe. Dié fonds is ook betrokke om traumaberading te verskaf.

“Die trustfonds is maar een van die instrumente wat gebruik word om plaasgemeenskappe mee te beveilig en Agri SA sal voortgaan met sy beïnvloedingsrol om binne die regeringsopset oplossings vir plaasaanvalle te soek. Agri SA doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap om die inisiatiewe van Agri SA te steun en betrokke te raak by die groep.

“Ons is deeglik bewus van die emosionele spanning waaronder plaasgemeenskappe verkeer. Agri SA en sy provinsiale organisasies sal aanhou soek na oplossings om die gewelddadige aanslag teen ons boeregemeenskappe te beëindig”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drone ·

Hierdie fonds moet ook kyk na drones en robotte om plase te beveilig, dit gaan n groot verskil maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.