Geweldsmisdaad is almal in SA se probleem, sê paneel

Argieffoto

Suid-Afrika is ʼn gebroke, siek land wat dringende ingryping benodig om genesing teweeg te bring en ernstige misdaad, soos geweld teenoor vroue en kinders, hok te slaan.

Só het ʼn paneel van kenners Dinsdag tydens ʼn konferensie wat deur die Nasionale Persklub byeengeroep is, gesê. Die konferensie het daarop gefokus om die land se planne te bespreek vir die voorkoming van geslagsgeweld, asook veranderinge wat dringend ingestel moet word om te verseker dat vervolging van oortreders in die sake geskied.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste verslag oor misdaad teen vroue, wat in 2018 bekendgestel is, is die land se gemiddeld van vroue wat vermoor word vyf keer hoër as die internasionale gemiddeld.

Die konferensie is gehou in aanloop tot die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders wat op 25 November afskop. “Ons vier die 16 dae en dan vergeet ons daarvan en neem geweld net weer toe. Dít moet ʼn veldtog van 365 dae per jaar wees en dit begin by ons, as die burgerlike samelewing,” sê Yusuf Abramjee, ʼn teenmisdaad-aktivis.

Mmabatho Ramagoshi, ʼn verteenwoordiger van die departement vir vroue, jeug en mense met gestremdhede, sê die regering het al menige planne ingestel om geslagsgeweld aan te pak, maar voorkoming het telkens tekortgeskiet.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa die eerste beraad vir geslagsgeweld byeengeroep en ʼn verklaring in Maart geteken het om R1,9 miljard beskikbaar te stel, asook ʼn nasionale strategiese plan in te stel, is daar volgens haar egter heelwat vordering gemaak.

“Ons het dié maand ʼn plek van veiligheid vir vroue in Thaba Tshwane geopen. Baie vroue, en hul kinders, bly by die mense wat hulle mishandel en menseregte oortree, juis omdat hulle nêrens anders het om te gaan nie en finansieel afhanklik van die persoon is. Dit is nie die vroue wat hul huise moet verlaat nie, dis die oortreder, maar intussen bied ons plekke waarheen hulle kan vlug.”

Verder maak die plan ook voorsiening dat lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met behulp van die Verenigde Nasies opgelei word om slagoffers van geslagsgeweld by te staan. Die opleidingskursus is onlangs in Kempton Park van stapel gestuur.

Ramagoshi sê dat daar tans ook planne in werking is om die wette te wysig sodat borgtog vir seksuele oortreders en geweldsmisdaadoortreders nie meer toegestaan sal word nie.

Talle sprekers het ook hul misnoeë uitgespreek oor die geweldskultuur wat in Suid-Afrika gekweek is. “Ons vermoor ons vroue, ons mishandel ons kinders. Ons verkrag ons eie kinders. Wat het gebeur, Suid-Afrika?” het genl.maj. Bafana Linda, die SAPD se nasionale hoof vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings, gevra.

(Foto: SA Polisie)

Bafana sê Suid-Afrika moet saamstaan en “so gou soos vandag” daadwerklik optree om die misdade te stuit. “Ons moet ons seuns sosialiseer. Ons moet hulle leer dat dit onaanvaarbaar is om ʼn vrou te mishandel. Baie mans sê: Ek het my pa dit sien doen toe ek grootword. Hierdie land het nou ʼn morele herlewing nodig om te verseker dat die siklus verbreek word.”

Abramjee sê verder dat die strafregstelsel een van die grootste dorings in die vlees is. “Oortreders word nie vinnig genoeg vervolg nie en die meeste oortreders gee ook nie om as hulle lewenslank tronkstraf moet uitdien nie, want hulle weet lewenslange tronkstraf is net 25 jaar en dat hulle nog vroeër parool sal kry. Ons wetgewing moet so gou moontlik verander word.”

Ramagoshi het hierop geantwoord dat van die R1,9 miljard beskikbaar gestel is om ook te verseker dat gegradueerde regstudente die leemtes in die regstelsel vul sodat die tekortkominge in die sektor aangeraak word.

Mayke Huijbregts, Unicef se hoof van maatskaplike beleid en kinderbeskerming, sê daar word elke jaar tot R238 miljard bestee aan wetlike en mediese ondersteuning van slagoffers van geweld. “Dít was die syfer vir 2015. Kan julle dink hoe die land sou lyk as ons eerder hierdie bedrae aangewend het vir die voorkoming van geweld?”

Ramagoshi stem saam. “Daar is ʼn ernstige behoefte daaraan om in opvoeding te belê, om in ouers te belê, sodat ons ʼn nuwe generasie van seuns en meisies grootmaak wat die verskil tussen reg en verkeerd ken. Dit sal hierdie enorme bedrae wat aan optrede bestee moet word, uitwis.”

Laastens het Ramagoshi gesê die bewoording van geweldsmisdaad moet ook reggestel word, want “Suid-Afrika se geweldsmisdaadprobleme lê by mans wat vroue aanrand en verkrag”.

“Deur dit geweldsmisdaad te noem, neem jy eintlik die aanspreeklikheid weg van hierdie oortreders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

11 Kommentare

Feite ·

Geweldsmisdaad, net soos enige ander misdaad is nie almal se probleem nie. Dit is die ANC se ideologie en beleid, die staat, wetstoepassers en vervolging wie direk en indirek verantwoordelik is, se probleem. Almal moet nie toelaat dat die ANC se probleem, almal se probleem raak nie. Die ANC veroorsaak n toename in alle soorte misdaad!

Kobus ·

Praat en spandeer baie tyd en geld om te praat en bla bla bla, maar in praktyk gebeur niks. Politiek, Slapgatgeid en Godslastering is die oorsaak.

Ek ·

Genade die nonsens het begin toe Thabo Mbeki die vuurwapen lisensies verander het en hy die wet ingebring het dat jy n inbreker nie mag skiet nie en eerder vir hom n koppie tee Gee en van daar af het alles uitmekaar begin spat

marous ·

Ja dis almal se probleem , nie net vroue en kinders nie . Die skuld kan vierkantig voor die korrupste regering in mense heugenis se deur gele word .

Marix ·

Alle vorms van geweld is onaanvaarbaar. Die ANC se patetiese pogings om vuur te wil slaan nadat die huis klaar afgebrand het beteken niks.
ALLE gewelddadige optrede moet vervolg word. Dit sluit in betogings, brandstigting, winkels stroop, plaasmoorde, aanranding en nog baie meer. As die polisie nie die klein probleempies kan of wil vasvat nie, gaan hulle beslis nie die groot misdaad kan beheer nie,
Ek stem vir “ZERO TOLERANCE” wat enige misdaad betref.

Kiskar ·

Ons sit met ‘n vaderlose generasie wat sonder Bybelse beginsels grootgemaak is. Is dit enige wonder ons land bevind hom in sy huidige toestand????

Stellie ·

Kiskar ek stem 100% saam met jou! Kon dit nie beter gestel het nie.

Gerrit ·

Alhoewel almal hierdeur geraak word, is dit meer van n hulle probleem as n ons probleem. Plaasaanvalle is vir my meer kommerwekkend as geslagsmisdaad.

lanie ·

Misdaad is aan die orde van die dag. Dit is hoe die regering die land gevat het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.