Gewese tuinier gevonnis vir moord op Ermelo-vrou

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Die voormalige tuinier van Issie Dippenaar, die geliefde vrou van Ermelo in Mpumalanga wat in November 2016 wreed in haar huis vermoor is, is vandeesweek skuldig bevind en gevonnis vir haar moord.

Banele Sihlali (29), is vandeesweek in die rondgaande hooggeregshof in Breyten, Mpumalanga, skuldig bevind op ʼn reeks aanklagte.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê Sihlali is Maandag skuldig bevind aan sewe van die agt aanklagte teen hom. Die aanklagte sluit in ʼn aanklag van moord, een van aanranding met die doel om ernstig te beseer, een van roof met verswarende omstandighede en vier aanklagte van bedrog. Hy is vrygespreek op ʼn aanklag van die onwettige besig van ammunisie.

Sihlali is tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van moord, 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede, tien jaar tronkstraf vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en vyf jaar tronkstraf vir elke aanklag van bedrog. Die vonnisse vir roof, aanranding en die bedrogaanklagte sal gelyklopend uitgedien word.

Maroela Media het vroeër berig Dippenaar (58) se buurman het die aand van 21 November 2016 by haar huis gaan ondersoek instel nadat haar ma haar nie telefonies in die hande kon kry nie.

Louwrens Jacobs, Dippenaar se swaer, het destyds aan Maroela Media gesê die buurman het gesien dat al die ligte buite die huis af was, maar dat Dippenaar se slaapkamerlig aan was. Hy het ʼn man in die huis sien beweeg en het ʼn private veiligheidsmaatskappy ontbied.

By die motorhuis het hulle Dippenaar se Audi gesien wat halfpad uit die motorhuis getrek was. Die venster was oop en twee selfone het op die passasiersitplek gelê. By nadere ondersoek het hulle Dippenaar se liggaam in die motor se kattebak ontdek. Haar hande en voete was vasgebind en ʼn verband is gebruik om haar mond mee toe te bind. ʼn Elektriese koord was om haar nek gebind.

Issie Dippenaar. Foto: Facebook

Jacobs het destyds aan Maroela Media vertel Sihlali het vir Dippenaar as tuinier gewerk en sy het ook vir hom werk by haar skoonouers en die CMR-kinderhuise wat sy bestuur het, gereël. Sy het egter omtrent ʼn jaar voor haar dood een dag tydens werksure by die huis gekom en gesien Sihlali het haar motor, wat sy vir hom uitgetrek het om te was, vir ʼn plesierrit geneem.

Sy het Sihlali daarna afgedank aangesien sy gemeen het die vertrouensverhouding is onherroeplik beskadig. Sihlali het as gevolg hiervan ook die ander werksgeleenthede wat Dippenaar vir hom gereël het, verloor.

Volgens Jacobs het Sihlali daarna ʼn wrok teenoor Dippenaar gekoester en het hy haar eenkeer by een van die kinderhuise gekonfronteer en gesê hy sal haar doodmaak as sy nie sy werk vir hom teruggee nie. Dippenaar het hom gevra om die perseel te verlaat, maar sy was daarna voortdurend bang vir wat hy aan haar sou doen.

Jacobs het Dinsdag aan Maroela Media gesê geen vonnis sal ooit vir Dippenaar kan terugbring nie. “Niks wat gedoen word, kan dié ding omkeer nie. Niks sal vir Issie terugbring nie. Niks kan hierdie verlies omdraai nie,” het hy gesê.

“Ons enigste vertroosting is dat ʼn man wat só waansinnig is nou uit die samelewing verwyder word. Maar hierdie [ervaring] sal altyd baie sleg bly.”

Lees alle vorige berigte oor Issie Dippenaar op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jos ·

Wat is die doel van enige straf wat gegee word wat gelyklopend is met lewenslank. 25 jaar en met parool net 15 jaar. Hoekom word daar nie weggedoen met die gelyklopende vonnisse nie en laat die skuldiges sit vir 40-50 jaar en dalk skrik dit hulle af

Lou ·

Dis baie hartseer sen so onnodig. Ek vertrou niemand op my erf nie. Ons doen al ons huis en tuin werk self. Werkloosheid is ‘n probleem wat die sg. regering self geskep het……

Ben ·

Ons doen ook al ons werk self. Nie n vreemdeling kom nog op ons erf nie. Laat die regering maar self naar hul eie mense kyk!

TDW ·

15 jaar vir moord? Hoe? Al hierdie beskuldigings en net 15 jaar straf?

Eish ·

Lees net gou weer, lewenslank vir moord beteken 25 jaar en dan 15 jaar vir….

Michael ·

Dit is waar ek gee niemand meer werk nie en ek voel nie eers skuldig daar oor nie.Jare lank het ek mense gehelp met werk maar nou het dit te gevaarlik geraak.Tot dat dinge nie reg kom nie doen ek alles self.

Afrikaanse Knaap ·

Ek het al vrede gemaak dat dit is hoe ek ook uit gaan gaan. Wreed vermoor in my huis op my ou dag. Dis die norm in SA deesdae.

Han ·

Dus, as ek nie my sin kry nie, dan maak ek jou dood. Aan die gevolge dink ek nie. Al beteken dit dat ek lewenslank agter tralies gaan deurbring. Dít is hoe geredeneer word. Hoe síék!

Will ·

Ironies genoeg is Issie wreed vermoor op grond van die vent wat sy werk en bron van inkomste verloor het, maar nou gaan hy deur belastingbetalers se geld lewenslank onderhou word! Nie meer werk soek en bekommer oor slaapplek en kos nie: Indirekte beloning instede van straf ? Die paradoks van die regstelsel van vandag.

Theresa ·

Dat die vermetele moordenaar nog gedink het sy sou hom sy werk teruggee omdat hy haar dreig!!! Wys jou. Mens met goeie hart en probeer help – vermoor. Gevoelloos en beredenerende moord. Hoe lyk die mens??? Mens moet ‘n plakboek begin hou van wie om NIE in diens te neem nie… Botter kan soms nie in die mond smelt nie en dan sit mens met ‘n moordenaar opgeskeep.

kas ·

Kan iemand vir mt verduidelik hoelank gaan hy in die gevangenis deeurbring as van die vonnisse gelyktydig uitgedien word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.