Gewilde matrikulant sterf in botsing

Christell Jansen. Foto: Verskaf

Christell Jansen. Foto: Verskaf

Matrikulante van Hoërskool Cradock in die Oos-Kaap pak die eindeksamen onder moeilike omstandighede aan nadat ʼn geliefde skoolmaat, Christelle Jansen, Dinsdag in ʼn motorongeluk oorlede is.

Jansen, wat tydens haar hele hoërskoolloopbaan in die skool se koshuis gewoon het, was Dinsdag by haar ouerhuis op ʼn plaas naby Hofmeyr, sowat 60 km buite Cradock. Sy was besig met die matriekeindeksamen en het bloktyd gehad.

Na wat verneem word het sy omstreeks 17:00 gery om haar broer te gaan oplaai. Haar motor het glo op ʼn grondpad gegly en omgeslaan terwyl sy om ʼn draai gegaan het. Sy is op slag dood.

Haar dood het as ʼn groot skok vir haar skoolmaats, onderwysers, vriende, gesin en familie gekom.

“Sy was baie gewild onder haar maats, en het altyd geglimlag,” het Hansie Diedericks, die koshuisvader, Donderdag aan Maroela Media gesê. “Sy was altyd op haar plek en ʼn rustige en saggeaarde mens.”

Hy het gesê haar koshuismaats verwerk haar dood baie moeilik omdat hulle ʼn hegte band gehad het. Berading is aan die leerlinge gebied om hulle deur die moeilike tyd te help.

Haar onderwysers beskryf haar as ʼn staatmaker wat oral haar kant gebring het. “Haar dood laat beslis ʼn groot leemte.”

Jansen het vanjaar haar Springboktoekenning in Landsdiens verwerf, was lid van die skool se eerste tennisspan, het op die leerlingraad gedien en het hokkie vir die tweedespan gespeel.

Sy word Saterdag in Hofmeyr ter ruste gelê. Sy laat haar ouers en ʼn ouer broer en suster agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

riana Harding ·

My innige meegevoel aan haar familie en vriende Jesus sal met tyd vertroosting bring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.