Gewilde restaurant van groot bedrag kontant beroof

Marshall Security op die toneel. Foto: Verskaf

Marshall Security op die toneel. Foto: Verskaf

Drie gewapende mans het Woensdagoggend op ʼn gewilde restaurant in Durban toegeslaan en dit van ʼn onbekende hoeveelheid kontant beroof.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die oggendbestuurder is deur drie mans genader wat voorgegee het hulle soek werk, toe hy die restaurant vir die dag oopgemaak het. Die restaurant is in ʼn winkelsentrum in Kensingtonweg in Durban-Noord geleë.

“Een van die verdagtes het na bewering die bestuurder met ʼn mes aangehou, terwyl ʼn ander verdagte, wat met ʼn vuurwapen gewapen was, aangedring het op geld en sy selfoon,” het Van Reenen gesê. Die verdagtes het die bestuurder glo met die kolf van die vuurwapen aangerand en te voet gevlug.

“Hulle het na bewering met ʼn groot hoeveelheid geld, ʼn selfoon en skootrekenaar weggekom.”

Veiligheidswagte van Marshall Security en polisiebeamptes van die Durban-Noord-polisiestasie was kort nadat die rooftog aangemeld is, op die toneel. Die verdagtes kon egter nie opgespoor word nie en is steeds soek.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johann cb ·

Ek was al self die slagoffer van twee gewapende rooftogte en dit is nie speletjies nie, glo my! Soos in hierdie geval, geskied dit met oooopmaak- of sluitingstyd. Ek wil net mense waarsku om uiters versigtig te wees en nie aktetasse by hulle te dra nie. Hou die minimum by jou asseblief en moenie weerstand bied nie. Dooie “helde” kan nie praat nie!

Francis Linstrom ·

3 mense of enige getal van meer as 1 wat gelyktydig werk soek spel gevaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.