Gewonde man dreig paramedici met mes, verfbalgeweer

Die mes waarmee die man paramedici gedreig het, is gedeeltelik sigbaar uit ‘n plastieksak. Foto: ER24

ʼn Man wat met ʼn mes in sy maag gesteek is, het die einste mes uitgepluk en paramedici daarmee gedreig voordat hy ook op hulle met ʼn verfbalgeweer losgebrand het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê twee van hul paramedici het Donderdag kort voor 17:00 by ʼn huis in Glenwood in Berea, Durban, aangekom. Die paramedici is ontbied nadat ʼn 43-jarige man met ʼn mes in sy maag gesteek is.

“By hul aankoms het die man se vrou en dogter vir hulle die hek na die huis opgemaak en die paramedici na die kombuis geneem waar hulle die man met ʼn groot mes wat in sy maag ingesteek is aangetref het.”

Die verfbalgeweer waarmee die man op paramedici losgebrand het. Foto: ER24

Volgens Vermaak het die man skielik die mes uit sy maag gepluk en paramedici begin dreig waarna die paramedici onmiddellik hulp ontbied het.

Die man het intussen ʼn verfbalgeweer gaan haal en op paramedici en hul ambulans begin losbrand. Die ambulans is beskadig, maar die paramedici kon daarin slaag om skuiling te soek en is nie beseer nie.

Die polisie het kort daarna op die toneel aangekom en die man het later kalmeer.

Die ambulans is beskadig tydens die voorval. Foto: ER24

“Hy het egter behandeling geweier en wou net na ʼn hospitaal geneem word.

“Hy is in ʼn ander ER24-ambulans en onder polisiebewaking na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.”

Vermaak het gesê ER24 sal ʼn saak by die Umbilo-polisiestasie aanhangig maak. “Polisiebeamptes op die toneel het op die verfbalgeweer en ander moontlike bewysstukke beslag gelê.”

Vermaak het gesê die twee paramedici was gelukkig om ongedeerd daarvan af te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

netekalleen ·

Ek kry altyd die Paramedici jammer want hulle weet nie in watse omstandighede hulle instap nie en tog moet hulle gaan help. Stank vir dank

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.