Gewone SA’ners gaan hoes oor swak regeringsbesluite

(Foto: Maroela Media)

Gewone Suid-Afrikaners gaan opdok vir swak regeringsbesluite wat die rand al weer laat tuimel het en rentekoerse voortdurend opjaag.

Ekonome voorspel dat die rentekoers Donderdag weer gaan styg nadat die rand onlangs tot ʼn historiese laagtepunt teenoor die dollar verswak het. Dít het gevolg op bewerings dat Suid-Afrika wapens aan Rusland gelewer het om in die oorlog teen Oekraïne te gebruik.

“Daar is ná Maart se rentekoersverhoging van 50 basispunte verwag dat dit moontlik die laaste rentekoersverhoging in dié siklus kon wees. Die taai inflasiekoers, volgehoue beurtkrag en voortgesette politieke onstabiliteit en onsekerheid het egter die weg gebaan vir ʼn verdere verhoging,” sê Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth.

“Donderdag se [verwagte] besluit om die rentekoers te verhoog sal nie net wees om inflasie verder te probeer bekamp nie, maar ook om die rand te beskerm weens swak regeringsbesluite.

“Die president van die Reserwebank het reeds ná die vorige rentekoersverhoging gesê dat alles moontlik gedoen moet word om die rand te stabiliseer. Politieke onbestendigheid knou verbruikers- en sakevertroue. Beleggers het sedert die begin van die jaar al miljarde rande in Suid-Afrikaanse aandele en effekte verkoop en daar was ook ʼn toename in verkope van die land se vaste bates.”

Die verwagte verhoging Donderdag sal die tiende agtereenvolgende styging sedert November 2021 in die rentekoers wees. Die prima-uitleenkoers is nou vir die eerste keer in 14 jaar meer as 11% nadat die rentekoers in die huidige siklus al met 425 basispunte verhoog is.

Dit sal môre na verwagting met ʼn verdere 50 basispunte verhoog word.

“ʼn Huiseienaar wat ʼn huis van R2 miljoen teen die prima rentekoers gefinansier het, betaal sedert Maart se rentekoersverhoging naastenby R5 500 meer as in 2020. Nog ʼn groot verhoging kan die spyker in die doodskis vir talle verbruikers wees wat dit bloot net nie meer kan bekostig nie en hul huise kan verloor,” sê Van Zyl.

“Dit terwyl salarisse nie byhou met inflasie nie en daar ook ander bykomende verhoogde uitgawes is weens die styging in kospryse en kragtariewe. Verbruikers gaan ook al hoe meer sukkel om hul skuldterugbetalings by te hou.”

Van Zyl het vroeër al gesê indien beurtkrag se uitwerking op inflasie nie verminder kan word nie, hardnekkige inflasie ook nie afgebring kan word nie – al word die rentekoers nog drie of vier keer verhoog.

“Die Reserwebank sal beslis na ander opsies moet begin kyk as om net rentekoersverhogings in te stel. Daar sal proaktief gedink moet word oor hoe om dit makliker te maak vir verbruikers wat behoorlik klippe kou met lewenskoste wat die hoogte inskiet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Vanessa ·

Net God kan Suid-Afrika staande hou. Die mens is besig om alles te verwoes!!!!

Gaitsigubib ·

Die 4 afmerkens moet aan ons voorstel hoe hulle dinge kan/gaan regruk. As hulle dan die antwoorde het wonder ek wat het hulle tot dusver terug gehou.

Anel ·

Raak sou gou as moontlik ontslae van die regering, en betaal hulle ‘n gewone staatsamptenaar se salaris, want dit is wat hulle is. Veronderstel om in diens van die land te wees en defnitief nie anders om nie!!!!

Danie ·

Hulle sal mekaar ondersteun tot daar niks oor is nie.Dis hulle plan.Hou ons vir fools.

SwartBees ·

Hoe? Asb sê my hoe. Hoe maak jy die volk se oë oop? Hulle leef in decay (jammer vir die engelse woord, maar ek kry nie n beter gepaste afr woord nie) maar sal geen poging aanwend vir n beter toekoms nie.

Danie ·

Ons betaal alreeds jare met ons bloed dit nou reeds moord dis duidelik dat die staat ander planne het om ons te onderdruk tot die laaste.

Shakespeare ·

Suid Afrikaners hoes al vir meer as 25 jaar. Hoe lank moet ons nog hoes met n totale onbevoegde ANC/EFF ?

Jacobus ·

Hierdie kommunistiese ANC is besig om ons in hongrsnood in te onderdruk terwyl die elite soos konings lewe.

SwartBees ·

Wie beskerm ons teen die anc? Hulle roei my uit. Ek het eerlikwaar nie meer om te gee nie.

Gaitsigubib ·

Iemand glo jy het nog. Dalk wil hulle die lewe ook uit jou uit suig.

Tewis ·

Ek dink dis ook nie ń groot probleem vir dié regering nie. Sal seker soos ons buure net meer geld druk ?? Of onttrek van die system??

Wondermaarnet ·

Dit is tyd dat ons opstaan en ook begin toi toi. Ons kry NIKS verniet nie en moet net aanhou betaal. Ek betaal belasting, maar steeds word ek om elke hoek en draai deur die regering gekniehalter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.