‘Gewraakte’ bieradvertensie mag weer uitgesaai word

‘n Skermgreep van die advertensie.

ʼn Windhoek Lager-advertensie wat van die kassie af gehaal of verander moes word, mag nou weer in sy oorspronklike vorm uitgesaai word nadat die Advertensiebeheerraad (ARB) se besluit op appèl geneem is.

Die ARB het in Januarie beslis die Windhoek-advertensie, waarin die akteur Gerard Butler te sien is, oortree sy reëls en dat die advertensie onmiddellik van die lug gehaal of verander moet word omdat dit ʼn “toksiese manlikheid” uitbeeld. Ingevolge die ARB se reëls word geslagstereotipering of negatiewe geslagsuitbeelding nie in reklame toegelaat nie, tensy sulke stereotipering of uitbeelding redelik en regverdigbaar is.

Heineken Suid-Afrika, wat Windhoek brou, het egter teen die beslissing geappelleer en die ARB se appèlkomitee het in sy guns beslis. Die komitee het Heineken Suid-Afrika gelyk gegee in dat die advertensie ten doel het om te benadruk dat Windhoek Lager ʼn suiwer bier is en nie enige geurmiddels benodig nie.

Die ARB se besluit is dus ter syde gestel en die advertensie mag weer uitgesaai word. Heineken het toe hy die appèl aanhangig gemaak het versoek dat die ARB se sanksie, dat die advertensie verwyder of gewysig moet word, ook ter syde gestel moes word hangende die uitkoms van die appèlaansoek. Dié versoek is egter van die hand gewys en Heineken moes steeds daaraan gehoor gegee het hangende die afhandeling van die appèl.

‘Advertensie is aanstootlik’

‘n Skermgreep van die advertensie.

Die ARB het aanvanklik die advertensie ondersoek nadat ʼn lid van die publiek, Aadila Agjee, gekla het dat dit aanstootlik is en mense verkleineer oor hul persoonlike voorkeure.

Die advertensie wys onder meer waar Butler by ʼn kroeg sit en ʼn ander man ʼn bier by die kroegman kry en vra of hy lemmetjie saam met sy bier kan kry. Butler draai dan om en sê dit is Windhoek wat 100% bier is en dat hy nie lemmetjie saam met sy bier benodig nie. Butler sê dan: “Keep it real, Joe”, en die advertensie eindig uiteindelik met ʼn stem wat sê: “Keep it real with 100% pure beer.”

Agjee meen die advertensie is aanstootlik aangesien die man verkleineer word omdat hy ʼn sny lemmetjie saam met sy bier versoek het.

Die ARB was van mening dat hoewel dit nooit uitdruklik gesê word nie, die advertensie probeer sê dat “regte mans regte bier drink”. Dit word geskep deur die manlike interaksies en die rolverdeling wat net uit mans bestaan.

“Hierdie tipiese manlike interaksie skep ʼn onuitgesproke dialoog: regte mans drink regte bier, en dat mans nie suurlemoen- of lemmetjieskywe in hul bier het nie. Hierdie ongesproke dialoog word verder beklemtoon deur die gebruik van Butler, ʼn akteur wat bekend is vir sy rolle in aksieflieks.”

Die ARB het gesê hy het ook opgemerk dat die karakter wat deur Butler geterg word, ʼn saggeaarde, rooikopman is en dat dit “twee eienskappe is wat gewoonlik in ʼn toksiese omgewing tot gevolg kan hê dat hy as ʼn teiken gesien word om te terg”. Die tipe interaksie sou volgens die ARB miskien aanvaarbaar gewees het as dit “tong-in-die-kies” was of indien humor gebruik is om aan te dui dat die interaksie nie “normaal” of “aanvaarbaar” is nie.

Die ARB het bevind dit is juis die “onuitgesproke aard” van die kommunikasie in die advertensie wat dit besonder gevaarlik maak – die geslagstereotipe wat so normaal uitgebeeld word dat dit nie eens verduideliking nodig het nie.

Die ARB het gesê dit is die verskansing van die rol van mans dat hulle op ʼn sekere manier moet optree, wat hom pla. “Dit is ook die verskansing van manlike gedrag wat boelie, en wat as ‘giftige manlikheid’ bestempel word. Die advertensie skets ʼn duidelike beeld van ʼn aspek van die teikenmark en daardie mark is ʼn stereotipe macho-man wat swig onder die druk van sy eweknieë om in te pas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Daleen

Ek is nie ‘n bierdrinker nie maar my kop word definitief bietjie “dronk” as ek vir Gerard Butler sien so ek kla glad nie dat die advertensie weer gewys mag word nie. Mooi bly darem maar mooi. En niks fout met MANLIK nie.

Witwolf

Aadila “Agnee” se beswaar het nou “Agja” geword! ????

Blikkantien

Om dit af te haal was so pateties van die begin af.

Dries

Belaglik . Daar is honderde advertensies wat genoeg rede gee om te kla

Rein

Hoop net ARB leer iets hieruit.