Gewysigde vlak 4: Dís wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand dat Suid-Afrika se afsonderingsregulasies tot vlak 4 verskerp word in ʼn poging om die derde vlaag Covid-19-infeksies te stuit, hou ingrypende veranderings in wat verskeie sektore veroorsaak.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het meer besonderhede oor die regulasies in die Staatskoerant aangekondig.

Ingevolge die regulasies moet almal wat van die huis af kan werk, dit doen. Die meeste sakeondernemings bly oop, mits daar aan bepaalde maatreëls voldoen word.

Aandklokreël, reis, grense

Die Lebombo-grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek (Foto: Departement van openbare werke)

Niemand mag tussen 21:00 en 04:00 hul woning verlaat nie tensy toestemming spesifiek daarvoor verleen word. Dit sluit in gevalle soos om ʼn mediese of veiligheidskrisis te hanteer, of om ʼn vlug te haal of ná ʼn vlug huis toe te reis. In só ʼn geval moet bewys van die vlug gelewer kan word.

Plekke wat op vlak 4 mag oopbly, moet hul deure teen 20:00 sluit.

Interprovinsiale reis vir ontspanning na en van Gauteng word verbied.

Hiervoor mag jy onder meer wél na en van, of deur Gauteng reis:

  • Werksdoeleindes
  • Die bywoon van ʼn begrafnis of die vervoer van oorskot
  • Leerders wat na of van skool reis
  • Verhuising
  • Die versorging van ʼn nabye familielid
  • Die ontvang van mediese behandeling

Die 20 lansgrense wat vantevore oopgestel is, bly ten volle operasioneel en die 33 wat reeds gesluit was, bly toe. Reis na en van Suid-Afrika word toegelaat mits daar aan sekere bepalings voldoen word.

Internasionale reise word beperk tot die OR Tambo-, King Shaka-, Kaapstad-, Lanseria- en Kuger-Mpumalanga-lughawe.

Internasionale reisigers wat in Suid-Afrika aankom moet ʼn sertifikaat toon wat bewys dat hul negatief vir Covid-19 getoets het. Indien nie moet so ʼn reisiger op eie onkoste tien dae lank in isolasie bly.

Alle kommersiële hawens bly oop.

Verkoop, vervoer van drank

Die vervoer van drank word verbied, met enkele uitsonderings. (Argieffoto: pixabay)

Die verkoop en verspreiding van drank word verbied.

Die vervoer van drank word ook verbied, behalwe waar dit benodig word vir bedrywe van handsaniteerders, ontsmettingsmiddels en seep asook alkohol vir nywerheidgebruik of huishoudelike skoonmaakprodukte.

Byeenkomste

Alle byeenkomste word verbied, uitgesonder begrafnisse, werk of wanneer goedere en dienste bekom word.

Die volgende word verbied:

  • Nagwake en byeenkomste ná begrafnisse (“after tears”)
  • Alle sosiale byeenkomste
  • Politieke byeenkomste en tradisionele gemeenskapsvergaderings
  • Byeenkomste by nagklubs
  • Inisiasiasiepraktyke
  • Passasierskepe vir ontspanning. Klein vaartuie word uitgesluit, in ooreenstemming met gesondheid- en grenswetgewing
  • Die bywoon van enige sportbeenkoms deur toeskouers
  • Byeenkomste in flieks en teaters, casino’s, museums, galerye, biblioteke
  • Byeenkomste in gimnasiums en fiksheidsentrums word opgeskort
  • Byeenkomste op strande, by parke en damme. Dié openbare ruimtes word egter nie gesluit nie
  • Die fisieke bywoning van veilings

Dít word toegelaat:

Hotelle, lodges, tyddeelfasiliteite, oorde en gastehuise mag 50% van hul beskikbare verblyfkapasiteit toelaat. Kombuise by hierdie fasiliteite mag net ʼn kamerdiens vir kos lewer en wegneemetes bedien.

Die verkoop van nie-alkoholiese drankies.

Dié plekke bly gesluit:

  • Gimnasiums en fiksheidsentrums
  • Vlooimarkte, basaars
  • Nagklubs, casino’s,
  • Tavernes, sjebiens en ander soortgelyke instellings, asook restaurante, behalwe vir die verkoop van wegneemkos en nie-alkoholiese drankies
  • Konferensie-, uitstalling- en vermaaksentrums
  • Teaters en flieks
  • Museums, biblioteke, argiewe, galerye
  • Besoeke aan ouetehuise word opgeskort

Sentrums vir vroeë kinderontwikkeling bly ingevolge die regulasies in die Staatskoerant steeds oop. (Foto: Maroela Media)

Skole, sentrums vir vroeë kinderontwikkeling, hoër onderwys

Kontakonderrig by skole en hoëronderwysinstellings word van Woensdag opgeskort.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sal die datum bepaal vir wanneer skole mag heropen, terwyl die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, dieselfde in dié sektor bepaal.

Sentrums vir vroeëkinderontwikkeling, soos kleuterskole, dagmoeders en crèches, bly oop.

Begrafnisse

Bywoning van begrafnisse word tot 50 mense beperk. Geen nagwake en sogenaamde “after tears”-byeenkomste wat ná begrafnisse gehou word, word toegelaat nie. By ʼn begrafnis moet aan alle maatreëls oor sosiale afstandhandhawing voldoen word en ʼn begrafnis of verassingsdiens word tot ʼn maksimum van twee uur beperk.

Sport

Sportaktiwiteite, waaronder beroep- en nie-beroepswedstryde deur erkende sportliggame word toegelaat, in ooreenstemming met bepalings daaroor.

Slegs mediaspanne, veiligheidswerkers, nooddiensbeamptes en noodsaaklike personeel word by sportwedstryde toegelaat. Slegs die vereiste getal spelers, wedstrydbeamptes, steunpersoneel en mediese spanne wat vir ʼn wedstryd benodig word, word by die venue toegelaat.

Geen toeskouers word toegelaat nie.

Internasionale sportbyeenkomste tussen lande met ʼn “lae- of medium-Covid-19-infeksie- en oordragkoers” word toegelaat.

Kry die volledige regulasies hier.

 

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Maar vrouens mag nog altyd ooptoon-skoene koop! Dis belaglik. Ons almal weet van laasjaar af dat die virus tussen you tone leef en so versprei.

Ilze

Wat se waarborg gee die regering dat alles wat nou toe is wel weer van 12 Julie mag handeldryf. Of gaan die Prez weer op Sondagaand 11 Julie vir ons toespreek en alles nog toehou untill kingdom come.

Die Boerepompie

Weer n keer kan ek nie na my tyd deel toe gaan nie nou vir loor ons dit en los my n klomp soos in R 2130 n jaar wat n gemors

Tipper

So kleuterskool juffrouens en kinders kan nie Covid en die dominante Delta virusse opdoen nie,baie ouers doen Covid op en het nie die geld om hulle te laat toets nie,en loop daarmee.

DieKriek

Ek woon op een van Gauteng se grense en baie bure werk in n ander provinsie. Daar is geen grensbeheer nie. So hoe werk die ding?