Ghadaffi-geldbewerings het al tevore kop uitgesteek

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Bewerings oor geld van die Libiese diktator wyle generaal Moeammar Ghaddafi het al tevore ook opgeduik en niks opgelewer nie, waarsku bronne in die Suid-Afrikaanse regering.

Die gerugte oor groot bedrae Libiese kontant in Suid-Afrika het ses jaar gelede, in Junie 2013, die eerste keer in Suid-Afrikaanse hoofstroommedia opgeduik. Indertyd het die destydse minister van finansies (tans minister van openbare ondernemings), Pravin Gordhan, die owerheidsreaksie daarop behartig.

Gordhan, die nasionale tesourie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het destyds die saak ondersoek ná ’n vergadering tussen Suid-Afrikaanse owerhede en die Libiese minister in die kantoor van die premier, Usama al Abid.

Indertyd is bevind die Libiërs se bewerings is vaag, en die mediaberiggewing “’n ineenvlegting van feit en fiksie”, soos Gordhan dit beskryf het.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

Dit is bevind dat daar Libiese beleggings in Suid-Afrika is, soos die Michelangelo Towers in Johannesburg, die Centurion Lake Hotel in Pretoria, die Commodore Hotel en die Portswood Hotel in Kaapstad en die Kruger Park Lodge in Mpumalanga, maar geen teken van die groot bedrae geld wat beweer is nie.

Die Suid-Afrikaanse regering het enigiemand met werklike en bruikbare inligting gevra om met plaaslike, Libiese of VN-owerhede in verbinding te tree, maar daar het dadels van gekom.

Die nuwe bewerings in vandeesweek se Sunday Times – gegrond op bronne in die Suid-Afrikaanse intelligensiegemeenskap – verskil deurdat nou beweer word dat die geld deur ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma landuit gesmokkel is na Swaziland met die samewerking van die Swazi’s se reserwebank, en dat pres. Cyril Ramaphosa en koning Mswati van Swaziland oor die kwessie ontmoet het.

Volgens die berig het militêre owerhede in Libië pres. Ramaphosa gevra om te help om ’n geraamde R442 miljoen te verhaal wat aan Ghaddafi behoort en wat na bewering in Swaziland was. Dit is verder berig dat die geld vroeër vanjaar in die geheim van Zuma se Nkandla-woning na Swaziland geskuif is.

Vir laasgenoemde bewerings is geen bevestiging egter deur die koerant verkry of aangebied nie – in elk geval nie tot dusver nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerrie ·

In wie se naam is genoemde eiendomme by die aktes kantoor geregistreer ?

Riaan ·

Vra my broer Jack, hy lieg net soos ek!

OF

Waar daar’n rokie is, is daar ‘n vuurtjie.

Countryboy ·

Dieselfde ou deuntjie oor en oor…die geskiedenis het ons al geleer..eers word alles ontken en dra niemand kennis van sekere kwessies waf opgebring word in die media nie….en dan ewe skielik as die waarheid wel bevestig word dan word daar hoog en laag geswyg tot die volgende skandaal sy kop weer uitsteek…

Alida ·

Het ek dit mis maar is daar al mense op OR Tambo voorgekeer met miljoene oppad Dubai toe nie. Dit maak nogal sin.

Gert van Wierdapark ·

Miskien het die ou sy kop gebruik en Bit-coins daarmee aangeskaf. He-he-he.

Jan ·

Jammer vir Ghadaffi familie, maar hulle het ongelukkig die geld by die verkeerde karakter gebere, hy sal net doodeenvoudig dit ontken soos hy al sy streke ontken

Jo B ·

Nou weet ek wat van die Kruger Miljoene geword het… seker ook in Nkandla gebêre gewees. Hulle sal nooit Gadaffi se Miljoene kry nie…. dis lankal gespend. Mooi so Zuma jou ou Jakkals ?

Anoniem ·

Hulle weet hoe om te knoei, so 1 Miljoen Rand aan elkeen om stil te bly en ‘n blinde oog te hê en siedaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.