Gholf in Abu Dhabi: Weer so naby en tog so ver vir Louis

Louis Oosthuizen speel in Abu Dhabi. (Foto: AP/ Kamran Jebreili)

Louis Oosthuizen is ongetwyfeld een van die mees begaafde gholfspelers wat Suid-Afrika al opgelewer het, maar sy bestendigheid laat hom sekerlik wakker lê.

Oosthuizen was die afgelope paar dae in Abu Dhabi weer op die kruin van die golf, maar dan het hy sy rondtetelling bederf met ʼn paar houe wat hy aan baansyfer afgestaan het.

Dis deel van gholf om houe aan syfer af te staan, maar ʼn mens wonder hoeveel meer as die nege Europese toernooie (insluitend die Britse Ope en SA Ope) wat Oosthuizen reeds gewen het, sou nie agter sy naam gepryk het was dit nie vir een of twee houe wat hy op kritieke stadiums prysgegee het nie.

Oosthuizen, wat onlangs ook in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City en die Suid-Afrikaanse Ope op Randpark in die binnebaan was om te wen, maar dan in die pylvak uitgesak het, het die derde ronde van die Abu Dhabi-kampioenskap in 70 houe voltooi om op 207 te eindig. Dit is nege houe minder as baansyfer, maar vyf houe agter die voorloper, die 46-jarige veteraan Lee Westwood van Engeland.

Bernd Wiesberger (Oostenryk) en die Italianer Francesco Laporta is saam tweede (albei op 203), gevolg deur Matthew Fitzpatrick (Engeland) op 204.

Oosthuizen, wat in die tweede ronde al hoe nader aan die eerste plek op die voorlopersbord gekruip het, het Vrydag op die 16de en 17de putjies houe aan baansyfer afgestaan om sy telling te bederf.

In Saterdag se derde ronde het hy houe aan syfer op die 6de en 10de putjies afgestaan om saam met sy landgenoot Zander Lombard, wat Saterdag verjaar het, in die negende posisie af te sluit.

Saam met hulle is die Duitser Sebastian Heisele, Roos Fisher (Engeland) en Jack Senior (Engeland).

Oosthuizen het die afgelope drie dae reeds 13 voëltjies ingeryg, maar ook vier keer houe aan baansyfer afgestaan, wat ʼn groot jammerte is.

Van die ander voorste Suid-Afrikaners is Branden Grace, Brandon Stone en Shaun Norris (al drie op 209) steeds binne trefafstand vir ʼn stewige tjekkie, met Erik van Rooyen (210) net ʼn rapsie verder agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.