Gholfer se dogter vertel – ‘Depressie het my pa sy lewe gekos’

Wayne Brett Westner (55) en Chane Todd op haar troudag (Foto: Verskaf)

“My pa was ’n kampioen. Dit is ontstellend om te dink dat só ’n suksesvolle man teen sulke demone moes baklei het.”

Só maak Chane Todd (31) oop vier jaar ná haar pa, Wayne Brett Westner (55), ’n voormalige professionele Suid-Afrikaanse gholfspeler, se selfdood. Todd, ’n finalis in die Mej. SA-kompetisie, wil met haar pa se verhaal diegene wat met geestesongesteldheid worstel, aanmoedig om daaroor te praat en hulp te soek.

Maroela Media het in Januarie 2017 berig Westner het sy eie lewe by die Gwala Gwala-landgoed in Pennington, aan die KwaZulu-Natalse Suidkus, geneem. Hy het homself voor sy vrou in die kop geskiet.

Westner het in 1981 professioneel begin gholf speel en het verskeie nasionale en internasionale toernooie gewen. Hy het in 1996 die Wêreldbeker vir Suid-Afrika saam met Ernie Els gewen. Hy het verskeie jare aan die Europese Gholftoernooi deelgeneem en het twee Suid-Afrikaanse Opes gewen. Hy het in 1998 weens ʼn besering uitgetree en sy eie gholfkollege geopen.

Westner se familie het lank ná sy dood tot verhaal probeer kom. “Dit was vir ons moeilik om te dink hoe só ʼn lewenslustige man, met ’n goeie sin vir humor, sy eie lewe kon geneem het,” vertel Todd.

Westner het in ’n selfdoodbrief wat hy vir sy kinders agtergelaat het, geskryf dat hy deur negatiewe gedagtes en emosies verteer is.

“Indien my pa hulp gesoek en na iemand uitgereik het, sou dinge dalk anders uitgedraai het. Ek glo hy het gekies om sy siekte self te hanteer eerder as om professionele hulp te kry.”

Todd sê haar pa se familie het ’n geskiedenis van geestesongesteldheid, maar hulle was nie bewus van die erns van sy toestand nie.

“Hy het altyd vir ons gesê dat sy depressie onder beheer is en dat hy nooit moed sou opgee nie. Hy het egter in ’n dieper donker gat van depressie verval, sonder dat ons dit besef het. Dit het daartoe gelei dat hy sy eie lewe geneem het. Ons het te laat besef dat daar groot fout is.”

Volgens Todd was haar pa ’n merkwaardige man en pa.

“Enigiemand sal getuig van die feit dat hy ’n legendariese gholfspeler was, maar waarvoor ek hom altyd sal onthou, is dat hy ’n ongelooflike pa was. Hy het sy kinders grootgemaak om sterk te wees. Hy het die wilskrag om ons grootste drome na te streef, by ons ingeboesem.”

Breek die stigma om depressie

Wayne Westner. Foto: http://instantgolfer.co.za/

Volgens Todd is daar ’n stigma wat met depressie en geestesongesteldheid verband hou. Mense dink jy is “’n swakkeling” as jy daaraan ly.

“Dit is van kardinale belang dat hierdie stigma gebreek word. Mense moet oor depressie praat. Dit tref een uit elke ses Suid-Afrikaners.

“Om na iemand uit te reik, kan nie net lewens red nie, maar ook lewens verander.”

Todd sê dit is ook belangrik om ten alle tye goedhartig en vriendelik teenoor ander mense te wees omdat niemand weet watter innerlike stryd hulle dalk voer nie.

“Iemand het dalk daardie glimlag of vriendelike gebaar nodig.”

Covid-19 en depressie

Todd sê weens die toename in selfmoord tydens die Covid-19-pandemie het sy besluit om oor haar pa se selfdood oop te maak.

“Volgens statistiek het die selfmoordsyfer sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie met 23% toegeneem.

“Die pandemie raak almal emosioneel en geestelik. Mense het hulself begin afsonder en ’n verlange na menslike interaksie het toegeneem. Ons moet veral in hierdie tye in selfliefde en selfversorging belê. Dit sluit in om ons innerlike struwelings met vriende en familie te deel.”

Todd moedig enigiemand wat met depressie of ander geestesongesteldheid sukkel, aan om by ondersteuningsgroepe soos die SA Depression and Anxiety Group (SADAG) om hulp aan te klop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Sterkte vir jou. Ek kan net dink die hartseer is erg. Wat my opval is dat jy nie jou pa veroordeel nie. Niemand weet waardeur mense met of tydens selfdood gaan nie.

Johanncb ·

Ek ly my lewe lank aan depressie! Die stigma om die siekte gaan moeilik gebreek word, want daar word nie voldoende inligting daarom weergegee nie! Jy bly maar altyd die verstoteling! Mense oordeel en veroordeel verskriklik maklik, omdat hulle oningelig is!

Ovelia ·

My hart gaan uit na julle as familie. Ons moet hierdie covid op ons eie manier probeer verwerk. Daar is baie mense wat ag dt (coid ingehok) aan depressie ly. Veral di mense wt voorheen ooh aan dt gely ht. Wat n mens nog moedelosser maak is di feit dat jy reels naom terwyl di meeste mene buit is sonder maskers. Daar word net mooi niks daaraan gedoen ni

melaney ·

SADAG is altyd daar om te luister na hoe ‘n mens voel. Skakel hulle gerus. Maar hulle kan net luister. Verder moet ‘n mens maar self uit hierdie vreeslike kloue van “depressie” kom. Ek ken ‘n paar mense wat aan depressie ly. Nie een van hulle kom daaroor nie. Volgens my is depressie ‘n soort ‘kanker van die gedagtes” en daar is nie medikasie daarvoor nie.

Anel ·

En die virus verger alles. Meer mense gaan dood agv ander siekte, depressie, honger hartaanvalle ens, as aan die virus. Solank jy nie die virus het nie, is dit maar reg dat jy aan die ander goed doodgaan. Depressie is in hierdie tyd sekerlik die grootste moorderaar agv die virus. Jongmense, kinders wat nie sport mag doen nie wst ‘n uitlaatklep is, nie mag kuier nie, wsnt hulle mag dalk siek word, ouer mense wat gewaarsku word om maar eerder nie kerk toe te gaan nie en so kan ek aan gaan. En depressielyers kan dit baie goed wegsteek. Vergeet van die stigma. Dis jou lewe. Gaan kry hulp. Niemand kan jou daaroor veroordeel nie. Sterkte aan al hierdie mense. Ons ander kan maar net vir julle bid en die Vader se genade vir julle vra.

Samuel ·

Dit is hartseer om te dink hoeveel mense aan depressie ly! Dit is baie waar dat daar ‘n erge stigma daaraan kleef en dan word daar gesê, “ruk jou reg.”

Amma ·

Of….”hou op aansit”. En ” daars ander maniere om aandag te kry”. En…” Jy lag en gesels met almal so daars mos niks fout nie”

Sias ·

Daar is sterk depressie in my familie. Ek het ‘n psigiater 3 jaar gelede gaan sien toe ek nie meer dit self onder beheer kon kry nie en dis die beste besluit wat ek ooit gemaak het. Medikasie help!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.