Gidion dán finaal gegroet: ‘Die tyd was te kort’

Gidion du Toit (Argieffoto)

Gidion du Toit, die negejarige anemielyer wat Dinsdag in ʼn hospitaal in Kaapstad gesterf het, sal op 15 Desember in Pretoria finaal gegroet word.

Tuschka Reynders, Gidion se ma, het Donderdag op die “Gidion’s blessed life”-Facebook-blad gesê die ouerpaar wag vir Gidion se as en sal Sondag vanaf Kaapstad terugkeer Pretoria toe.

Gidion het sy lewe lank ʼn stryd gevoer nadat hy by geboorte met die seldsame en genetiese siektetoestand Fanconi-anemie gediagnoseer is. Die enigste oplossing was ʼn beenmurgoorplanting, wat uiteindelik op 24 Oktober plaasgevind het.

Tuschka was sedert 1 Oktober saam met Gidion in Kaapstad waar hy sy beenmurgoorplanting ontvang het en behandel is. Hy is Dinsdag oorlede nadat hy enkele dae vantevore ʼn ernstige terugslag gehad het. Gidion het twee hartstilstande gehad, begin stuiptrekkings kry en het in algehele orgaanversaking gegaan.

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

“Ek is in ʼn miljoen stukkies gebreek. Ek dink nie die res van my lewe sal lank genoeg wees om al die stukke weer aan mekaar te plak nie. Elke enkele stukkie het vir Gidi op,” sê Tuschka. “Ek sien Gidi se gesig en reaksie in alles om my. Alles herinner my aan hom. Daar was nog so baie goed wat ek met hom wou deel, maar die tyd was te kort.”

Tuschka het dankie gesê vir al die boodskappe en ondersteuning wat sy en haar man, Kobus, ontvang het sedert Gidion se afsterwe. “Wees asseblief geduldig met my as ek nie antwoord of vir ʼn rukkie reageer nie. Ek voel heeltemal verlore en ek moet ʼn manier vind om weer te begin lewe.”

Die presiese besonderhede oor Gidion se gedenkdiens op 15 Desember sal in ʼn latere stadium bekendgemaak word.

Intussen stroom die boodskappe van medelye onverpoosd op die “Gidion’s blessed life”-Facebook-blad in. “Jy het so baie lewens aangeraak, Gidi,” lui een van die boodskappe. “Jy het ons gewys hoe om te baklei, hoe om dapper te wees, moed te hê en aan te hou hoop. Ons sal nooit vergeet nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

izette ·

Julle hulp en vertroosting sal van Bo af kom….
Bid vir julle vir wat agter bly…..
n Kruiwa vol drukkies…..
Izette

Anita ·

Rus saggies by Jesus se voete Gideon – baie sterkte vir die familie

Jaspaas met sy stil geraas... ·

Hy lyk asof hy vol geluk was….

SHALOM ELechim….

Lizelda ·

Mooiste 2 fototjies, kan sien Gideon was n omgee seun. Rus sag en baie baie sterkte aan die ouers…

Leser ·

My hart is seer saam met julle. Ek kan myself nie eers indink hoe hierdie mense moet voel nie. Ek het nie woorde nie…

hannelie ·

My hart breek in stukkies vir hierdie mamma en pappa. Gidion was so ‘n moedige vegtertjie en ‘n voorbeeld vir elkeen van ons wat so baie kla oor niks. Maar hy het ons gewys, met sy gesiggie wat geglimlag en gestraal het, dat hy eintlik niks het om te vrees nie. Rus in vrede liefste Gidion. Baie sterkte aan sy ouers, mag jul die nodige vertroosting ontvang van ons Vader.

Gesiggie ·

Tushka… my hart breek in stukke vir jou en jou man, hoe kan n Ma ooit afskeid neem van haar kind, soveel liefde wat jul gedeel het, soveel kosbare oomblikke… dit is n stukkie goud wat jy nooit weer sal kan terug kry. Maar Jesus het Gideon aan jul vir n kort tydjie geleen… nou is hy deel van die Hemel, en saam Jesus waar hy nooit weer pyn of leiding sal ervaar. My innige meegevoel .

Nel ·

Hierdie is vir my so ongelooflik hartseer. Baie baie sterkte vir die ouers. Ons bid saam vir die Here se genesing vir julle hartseer.

Mariaan ·

Ons bid vir vertroosting en ons dink ook aan sy liewe Kietsie Kat wat wonder waar is Gidion.

Anoniem ·

My gebed is net dat Jesus jou sal dra. Dis ‘n bitter seer wat mens nie self kan dra, ek praat van ondervinding. Jou maar net vas aan Jesus en die mooi herinneringe aan jou kosbare Gidi. Jesus liefde van ‘n afvlerk mamma

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.