Gids sterf ná hy in krokodilpoel beland

Johann Burger. Foto: Facebook

Johann Burger. Foto: Facebook

Johann Burger (54) se liggaam is Saterdag uit ʼn poel vol krokodille gehaal by die Le Bonheur-krokodilplaas in Simondium in die Wes-Kaap.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die Paarl-polisie en reddingsdienste is omstreeks 08:50 na die krokodilplaas ontbied. “Die man se liggaam is uit die poel verwyder. Hy was na bewering besig by die poel toe hy deur krokodille aangeval is. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Burger is glo deur die krokodille onder die water ingetrek. Dit is in dié stadium nog nie duidelik of Burger verdrink of aan bytwonde gesterf het nie. Volgens Van Wyk het werkers op die grusame toneel afgekom. ʼn Geregtelike doodsondersoek is begin.

Die krokodilplaas het intussen bevestig die restaurant, visvanggeriewe en bootritte is oop vir die publiek, maar krokodiltoere is tot Saterdag 21 Januarie afgelas.

Volgens die krokodilplaas huisves hulle meer as 1 000 krokodille in oop damme met begeleide toere elke 45 minute. Burger was een van die toerleiers. Tydens die toere kry besoekers die geleentheid om aan die krokodilkleintjies te raak, die krokodille onder die water te sien en om te kyk hoe hulle gevoer word.

Die krokodilplaas het gesê Burger se dood is ʼn groot skok vir almal wat saam met hom gewerk en hom geken het. “Die tragiese voorval sal ondersoek word en ons sal verdere besonderhede verskaf namate dit beskikbaar raak.”

Burger is beskryf as ʼn veelsydige kunstenaar. Hy het einde 2015 by Le Bonheur aangesluit en was verantwoordelik vir die uitstalruimtes in en om die krokodilpoele. Hy het vakansietye ook as gids opgetree. “Sy wye kennis en passie vir wilde diere het hom groot respek besorg. Johann was ook bekend vir sy uitgebreide kennis van plantkunde en landskappe, sowel as sy indrukwekkende vaardighede rakende die verf van muurskilderye in baie diereparke in Suid-Afrika.”

Die krokodilplaas het gesê Burger was ʼn vriend vir baie mense by Le Bonheur en ʼn mentor vir almal wat saam met hom gewerk het. “Ons is baie dankbaar vir die tyd wat hy saam met ons was en ons sal sy werk en etos in ons daaglikse lewe eer.”

Medelye stroom intussen van oor die hele wêreld op die krokodilplaas se Facebook-blad in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kyk Maar ·

Dit is nou jammer. Kan net nie verstaan hoekom hy alleen in die kamp was nie. Sterkte aan die familie.

Rina ·

Sjoe dis vreeslik..Is jammer vir sy familie…Ek die die natuur mense raak te gemaklik..en net op n dag misgis hille hulle self..Alhoewel ek hulle bewonder oor dit wat hulle doen en hulle kennis…Moet jy masr altyd jou afstand hou en nie te gemaklik raak nie..innige simpatie

Alida ·

Tragiese gebeure. Wilde diere is wat hulle is WILD. Bly op ‘n veilige afstand en moenie hulle ruimte probeer binnegaan nie.

Basjan ·

Maroela-peiling is darem regtig nou stokou nuus! Wie is verantwoordelik vir
diè afdeling van die andersins puik koerant? Probeer dit ten minste elke 2de dag
verander! Die S.A. en wêreldnuus verander tog daagliks?

Landi Slatter ·

Dagsê Basjan,

Dankie vir jou terugvoer. Maroela Media verander die nuuspeiling weekliks om seker te maak dat genoeg lesers die kans kry om aan die peiling deel te neem. Die nuwe nuuspeiling sal môre beskikbaar wees.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Scalla ·

Tragies, dit gebeur as jy te mak raak vir enige wilde dier, onthou hul almal het n skerp kant.

Chris ·

Ek is jammer vir die gesin/naasbestaandes van die man. Dit is vir my verbasend dat mense “vertroud” en gemaklik raak met wilde diere. Ek het persoonlik al, soos dit vir my op daardie stadium gevoel het, noue ontkomings met wilde diere gehad. Ek bly vêr weg van ho ho ho holifante, krokodille, swemkoeie, leeus, luipaards en slange. Ek is eerder bang Jan as dooie Jan. Ek is nie bang vir beeste nie maar het al gesien hoe ‘n “mak” uitgegroeide Brahman bul agter my oom kom staan, sy kop laat sak en dan weer op te lig. Hy het my oom op die stuitjie “getref”. Die bul was glad nie aggresief nie. My oom moes daarna fisioterapie behandeling ondergaan. Hy het lank daarna met die probleem gesit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.