Gidshond mag uiteindelik saam met dowe vrou vlieg

Dr. Magteld Smith en Poertsie kort voor hul SA Express-vlug. Foto: Verskaf

Dr. Magteld Smith, ʼn dowe akademikus van Bloemfontein, is verlede week, ná jare se gesukkel, uiteindelik toegelaat om vir die eerste keer ʼn binnelandse vlug te onderneem met haar gidshond aan haar sy.

Maroela Media het vroeër berig Smith, ʼn navorser in die departement otorinolaringologie (oor-neus-en-keelkunde) aan die Universiteit van die Vrystaat, het verlede week haar vlug verpas en moes op ʼn latere vlug bespreek word nadat sy op pad na die lughawe in haar motorhuis oorval is.

Volgens Smith is dit die eerste keer in die geskiedenis dat ʼn dowe persoon in Suid-Afrika toegelaat is om met ʼn gidshond saam met haar in die kajuit van die vliegtuig te vlieg. In die verlede moes Smith se gidshond, Poertsie, soos ander troeteldiere in ʼn hok in die vliegtuig se vragruim reis. “Ek het al in die verlede probeer dat my gidshond saam met my vlieg, maar SAL het volstrek geweier. Hulle het nie eens geweet van gidshonde vir dowes nie,” sê Smith.

“Hierdie keer het ek net my voet neergesit en besluit hierdie diskriminasie moet gestaak word. Aangesien gidshonde vir dowes op SAL-vlugte in die VSA toegelaat word, het ek deur SAL se kantoor in die VSA gewerk. Die beampte in Amerika het geweldige druk op SAL in Suid-Afrika geplaas en dit duidelik gemaak dat dit SAL se beleid is om voorsiening te maak vir mense met spesiale behoeftes en gidshonde. Ek glo sonder die hulp van die Amerikaanse beampte sou my poging weer onsuksesvol gewees het.”

Smith verduidelik dat hoewel sy ʼn kogleêre inplanting het, maak sy gebruik van verskillende aspekte soos liplees, gesiguitdrukkings en liggaamstaal om gesprekke te volg en daagliks oor die weg te kom. “Geraas maak selfs mense met gehoorapparate ‘doof’ as gevolg van die omgewingsklank. Wanneer hulle nie kan liplees nie, sit in hul in dieselfde bootjie as ʼn dowe,” sê sy.

Dr. Magteld Smith en haard gidshond, Poertsie, kom die vliegtuig binne. Foto: Verskaf

“Daar is baie wanpersepsies en onkunde rakende die werking van kogleêre inplantings. ʼn Kogleêre inplanting is ʼn proses en werk geensins soos ʼn gehoorapparaat nie. Dit is ʼn lewenslange verbintenis en verg harde werk van baie spraakterapie wat ook daagliks op ʼn rekenaar beoefen kan word. Ek is nog steeds afhanklik van die volle pakket van liplees en al die ander aspekte wat daarmee gepaard gaan.”

Sy sê Poertsie, ʼn sewejarige worshond, help haar met vele aspekte van haar daaglikse lewe. Poertsie sal Smith se aandag kry wanneer sy iets hoor en haar aandag daarheen lei. Wanneer iemand byvoorbeeld agter hulle stap, sal Poertsie skielik omkyk om Smith daarvan bewus te maak. Indien Poertsie gevaar bespeur, sal die hare op haar lyf regop staan en sal sy haar stert stil en vertikaal hou.

In die nag, wanneer Smith se kogleêre prosesseerder afgeskakel is en sy dus heeltemal doof is, sal Poertsie haar wakker maak wanneer die huis se alarm afgaan. “Wanneer ek dan opstaan, spring sy van die bed af en draai in die rondte. Ons wag dan totdat die veiligheidsbeamptes opdaag en wanneer sy rustig word, weet ek dit is weer veilig,” sê Smith.

Wanneer iemand by die hek inkom, doen Poertsie eers inspeksie voordat sy die persoon in die huis toelaat en die hare op haar rug is ʼn vinnige aanduiding vir Smith indien iets nie pluis is nie. Poertsie word ook nie soos gewone honde op haar naam geroep nie, maar kom eerder aangehardloop wanneer Smith haar hande klap.

Smith sê Poertsie het tydens haar eerste vlug in die kajuit haar uitstekend van haar taak gekwyt en selfs doodstil gestaan toe sy by die sekuriteitspunt geskandeer is. “Op die lughawe in Kaapstad wou al die passasiers net vir Poertsie op haar koppie streel. Dit is egter teen die reëls vir mense buiten die eienaar van die hond om ʼn gidshond te streel,” sê Smith.

Dr. Magteld Smith en haar gidshond, Poertsie, op die SA Express-vlug. Foto: Verskaf

“Poertsie het sonder enige probleme deur die massas passasiers die leiding voor my geneem, onder niemand se voete beland nie en net haar werk gedoen. Die ander passasiers het dadelik besef dat ek doof is en het die vrymoedigheid gehad om met my te kommunikeer. Wanneer horende mense kogleêre inplanting-prosesseerders of gehoorapparate sien, word jy gewoonlik geïgnoreer en vermy mense om met jou oogkontak te maak.”

Volgens Smith kan enige honderas opgelei word om ʼn gidshond vir dowes te wees, mits die hond ʼn baie fyn gehoor het, hoogs intelligent en opleibaar is, gehoorsaam is en sy eienaar sal beskerm wanneer hul lewe bedreig word.

“Doofheid is ʼn onsigbare en ernstige gestremdheid. Ons dowes leef baie keer in isolasie en voel uitgesluit van die samelewing. Ons het ʼn daaglikse stryd om eenvoudige dinge te hanteer soos die bywoning van werksessies, gesellighede, misverstande tydens gesprekke, ensovoorts,” sê Smith.

“Die gevolg is dat ongemaklike emosies ontstaan. Poertsie weet wanneer ek hartseer en ontsteld is. Sy sal op my skoot spring en my ore liggies lek en met haar pootjie teen my wang druk. Sy is my beste en mees lojale vriend wanneer sy nie aan die werk is nie. Sy doen haar werk met passie en daar is ʼn hegte band van liefde tussen die twee van ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jennifer ·

Magteld, ek is baie bly vir jou en Poertsie. Nou kan jul die wereld saam reis.
mag jul veilige kilos saam toer.

Michelle Nieuwoudt ·

Ai! Ek is so bly vir Poertsie en Dr met trane in my oe. My diere is my lewe. Ek het vir my dogter in Dubai gn kuier om my kleinkind van 1 week oud te ontmoet, ek het my oulike, slim budgie Lemi by iemand gelos en drie dae daarna terwyl ek op vakansie was kry ek die slegte nuus, sy is dood. Ek het haar 6jr lank gehad en toe is sy nou skielik weg omdat ‘n groot mens onverantwoordelik was. My hart is so seer.

Ouma ·

Ag was dit toe soo erg? So ‘n opgeleide Poertsie is goud werd!! Geniet mekaar en julle reise waar julle ookal mag gaan!!

Moeggesukkel ·

My suster is blind met n gidshond. Ons het verlede jr Des. net so baie moeilikheid gehad met n lugdiens. Die diskriminasie teen mense met gidshonde gebeur meer as wat julle besef.

Joe Hall ·

Jis ek sal enige tyd vir Poertsie aflos wanneer hy dalk verlof wil neem.

Pieter ·

Dis baie goed om te hoor van so ‘n “oorwinning” en ek jubel saam met Dr Magteld. Ek is ook gehoorgestremd en ervaar daagliks die eensaamheid van uitsluiting en vernedering deur horendes wat mens behandel asof jy verstandelik gestrem is of een of ander vreemde siekte het. Ek is doof, nie “stoepid” nie! Weet u hoeveel harder moes ek werk vir my doktorsgraad en bevorderings?
Al wat ons vra: probeer verstaan hoe dit voel om nie te kan hoor nie.
Kyk asseblief vir ons wanneer julle met ons praat – ons “hoor” met ons oë! Praat duidelik (nie harder nie.) Moenie die ligte afsit by ‘n partytjie nie. Kommunikeer per epos, ens.
Dit is ongelooflik hoeveel organisasies weier om ‘n navraag te hanteer as dit nie telefonies is nie. Van lugrederye, tot selfoonmaatskappye, en banke. Ek moet soms mense betaal om namens my ‘n telefoniese navraag te doen!

Anita ·

Ek is nie heeltemal doof nie (het gehoorverlies in slegs een oor), en maak gebruik van ‘n kombinasie tussen gehoor, liplees en gesigsuitdrukkings om uit te pluis wat mense sê. Stem egter saam met jou kommentaar, Pieter. Dit is verbasend hoeveel mense praat met hulle hande voor hulle monde, of hulle gesigte weg gedraai. Laas jaar, by ‘n werksfunksie was dit gans ontmoontlik vir my om enige gesprekke te volg. Ons was in ‘n galmende vertrek. Hulle monde het oop en toe gegaan, maar ek kon geen woord hoor nie. Ek het bly staar na hulle gesigsuitdrukkings om die gesprekke te probeer volg – maar ek was gedaan aan die einde van die middag. Hoeveel keer kan/wil ek ‘ekskuus – herhaal asseblief’ vra. En op ‘n ander punt, hoekom kan hulle nie onderskrifte aansit in movies (soos in Ster Kinekor etc)? ‘n Sekere gehoor instituut het geen epos nie … net ‘n telefoon nommer … hoe kan hulle so besigheid doen? (Ek het tinitus en sukkel met telefoon gesprekke – selfs al druk ek die foon se gehoorstuk teen my goeie oor). Soveel dinge wat mense met gehoor as vanselfsprekend aanvaar – wat totaal verander as daar iets fout gaan.

Francois le Cochon ·

Miskien vir dieselfde rede waarom ons huisvriende se worshond se naam Peanut (Pee-nat) is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.