Gif vir lugbespuiting van sprinkane droog op

Daar word al maande lank probeer om die plaag in verskeie provinsies in bedwang te bring. (Foto: Barry Naude)

Lugbespuiting teen die verwoestende sprinkaanplaag in die Oos-Kaap dreig om tot stilstand te knars – en Agri Oos-Kaap pak die skuld hiervoor op ʼn gebrek aan beplanning deur die nasionale departement van landbou.

Peter Cloete, president van Agri Oos-Kaap, sê die voorraad Sumi-Alpha-insekdoder, tans die enigste beskikbare insekdoder vir lugbespuiting van sprinkane, het opgeraak.

“Die lugsteuneenhede staan nou stil, wat dreig om al die suksesvolle werk wat tot dusver gedoen is, ongedaan te maak,” sê hy.

Daar word al maande lank probeer om die plaag in verskeie provinsies in bedwang te bring.

“Dit lyk nie of die moontlike verlies aan miljarde rand weens verlore uitvoere en duisende seisoenwerkers wat nie werk het nie, staatsamptenare bekommer wie se salarisse gereeld – danksy die belastingbetaler – betaal word nie,” sê Cloete.

Die organisasie vra nou dat die minister dringend by die situasie ingryp.

Sowat 2 200 liter van die insekdoder word Donderdag in die provinsie verwag, maar dit gaan die helikopters wat die bespuiting doen, hoogstens ʼn dag lank hou, sê Cloete. Die volgende besending sal volgens die departement eers weer oor twee weke, op 15 April, beskikbaar wees.

“Dit gaan te laat wees om die huidige vlaag te beheer,” sê Cloete.

Volgens die organisasie sal boere in die Oos-Kaap van Vrydag af net op grondbespuitingspanne kan staatmaak om die sprinkane te beheer. Gegewe die terrein en grootte van sommige van die huidige swerms, kan dit egter nie die enigste oplossing wees nie.

Agri Oos-Kaap het boonop vasgestel dat die registrasie vir die gebruik van ʼn alternatiewe insekdoder vir lugbespuiting, Deltanex UL, reeds in Namibië geregistreer is en suksesvol gebruik word – maar dat dit hier sedert Julie by die kantoor van die registrateur lê.

Sodra die registrasie goedgekeur word, kan die maatskappy wat dit verskaf binne drie dae voldoende voorraad lewer. “Dit is duidelik die vinnigste oplossing en ons het dit verlede Vrydag onder die aandag van die registrateur en direkteur-generaal gebring,” sê Cloete.

Dit is glo ook ʼn finansieel volhoubare alternatief.

Cloete sê frustrasievlakke loop in hierdie stadium hoog. Private hulpbronne word aangebied, maar kan weens die gebrek aan insekdoder nie gebruik word nie. Dit is volgens hom belangrik dat daar deurlopend genoeg hoeveelhede insekdoder beskikbaar is, of al die tyd en geld wat tot dusver spandeer is om die plaag te beveg, sal verniet wees.

“Die vertraging in die departement lyk na ʼn gebrek aan begrip vir die huidige situasie.”

Cloete sê noodregistrasie vir die bekamping van ander plae is in die verlede toegestaan, tot volledige registrasie gedoen kon word.

“In hierdie geval was die hele dossier met al die nodige inligting die afgelope sewe maande by die departement, met geen besluit nie.”

Die mislukking en ondoeltreffendheid van die regering gaan opnuut ʼn uitwerking op kospryse hê en dit gaan kwaai deur die kwesbaarste lede van die samelewing gevoel word.

ʼn Woordvoerder van die departement van landbou kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Was die staat al OOIT oor die ekonomie bekommerd? Raak net net aan hul sakke, DAN sal jy sien!!!

Althes ·

Spandeer die R50 miljoen skenking wat vir Kuba reserveer was op gif om plae te stuit. Dink die ANC regering pap, vleis en groente word in supermarkte vervaardig? (Sarkastie)

Andre ·

Blykbaar word wêreld-wyd die kosvoorsiening geteiken, waarom sal dit hier anders wees, laat dit my wonder.

Di ·

Daar is absoluut NIKS wat hierdie spul reg kan doen in die land! Nog nooit so ‘n onbevoegde, hopelose spul bymekaar gesien nie. DA se mos ANC staan vir “Absolute no consequences” ALS val uitmekaar ek hulle kry vet salarisse vir niks doen nie en word ook nie vasgevat nie.

Thea ·

Niks snaaks nie, volgende storie. As die staat betrokke is dan weet jy …….

marius ·

Die miere versamel en die sprinkane verorber . Storie van die hool …

JM ·

Daar is nie geld vir gif teen die sprinkane nie, dit is gebruik om duur karre mee te koop. As ons klaar Kentucky geëet het, val ons oë toe; nie nog tyd om oor die gif te bekommer nie, laat die boere maar opsnork.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.