Gift of the Givers gryp in met herstelwerk by Charlotte Maxeke

Van links: Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gautengse LUR vir gesondheid, dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, en dr. Imitiaz Sooliman van Gift of the Givers (Foto: Verskaf)

Die humanitêre noodlenigingsgroep Gift of the Givers het R60 miljoen geskenk om stoorkamers by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg te herstel nadat dit twee jaar gelede in ʼn brand verwoes is.

Die splinternuwe stoorkamers van 3 500 vierkante meter is Donderdagoggend amptelik geopen. Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, en dr. Imitiaz Sooliman van Gift of the Givers het die geleentheid bygewoon.

ʼn Brand het op 16 April 2021 in die apteek se stoorkamer uitgebreek en groot skade veroorsaak en daartoe gelei dat pasiënte maande lank van hospitale in die omgewing gebruik moes maak – dikwels tot nadeel van kleiner gesondheidsfasiliteite in die gebied.

Die brand het strukturele skade aan die stoorkamers en aangrensende afdelings van die hospitaal aangerig.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, het die brandskade veroorsaak dat die hospitaal nie voldoende stoorplek vir voorrade gehad het nie.

“Die nuwe stoorkamers het meer as genoeg stoorplek, voldoende rakke om te help met die organisasie en klassifikasie van voorraad, lugversorging en ablusiegeriewe. Die fasiliteit is ook toegerus met geïntegreerde brandopsporing- en brandweringtoerusting en watertenks wat in geval van ʼn brand gebruik kan word,” sê Mohale.

(Foto: Verskaf)

Phaahla het gesê daar word voortgegaan om herstelwerk aan die ander dele van die hospitaal wat in brand beskadig is af te handel.

“Skenkers, soos Gift of the Givers, het hul hande uitgesteek om te verseker dat kwaliteitwerk gedoen word en om seker te maak ons mense ontvang hoë gehalte gesondheidsorgdienste in hierdie hospitaal,” het hy gesê.

Nkomo-Ralehoko het die publiek verseker dat alle dele van die hospitaal wat deur die brand geraak is, teen Desember gereed sal wees.

Die nuwe stoorkamers is deel van die deurlopende liefdadigheidswerk wat die Gift of the Givers in die Gautengse openbare gesondheidsorgsektor onderneem.

Die organisasie het verlede jaar boorgate met filtrasiestelsels by die Rahima Moosa- en Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg opgerig. Hulle het ook hawelose gesinne en personeel by Tambo Memorial-hospitaal tydens die Boksburg-tenkwa-ontploffing bygestaan.

Nkomo-Ralehoko het die Gift of the Givers geprys omdat hulle deurgaans intree om gemeenskappe in nood, plaaslik sowel as wêreldwyd, by te staan.

(Foto: Verskaf)

“Die impak van Gift of the Givers strek veel verder as die hospitaal se stoorkamers. Dit het ʼn rimpeleffek deur ons hele gesondheidsorgstelsel, wat ons bemagtig om beter sorg te verskaf, navorsing te doen en vooruitgang in die mediese wetenskap te maak. Die organiasie se bydrae is die bousteen waarop ons ʼn gesonder en veerkragtiger samelewing kan bou,” het Nkomo-Ralehoko gesê.

Sooliman het gesê die werk aan Charlotte Maxeke se stoorkamers is deel van Gift of the Givers se voortgesette ingrypings wat die organisasie regoor die land onderneem. Hierdie intervensies sluit in die bou en opknapping van infrastruktuur, die sink van boorgate en wateraansluiting en die verskaffing van ʼn reeks items wat nodig is om gesondheidsorgdienste te verbeter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Harley Davidson ·

Geen skaamte nie,altyd by ‘n onthulling of ‘n funksie maar as dit tyd is om te produseer dan staan hulle bakhande, waar is die begroting om die hospitaal reg te maak .Die mense wat gift of the givers finansieel ondersteun doen dit nie om hospitale reg te maak nie maar om mense te voed.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek het ‘n vermoede die donateurs is van Gauteng. Hulle was dalk huiwerig om die geld vir die staat te gee om die werk te doen. Gee die geld vir Gift om alles te fasiliteer werk beslis beter. Moontlik sal Gift of een of ander stigting donateurs se geld gebruik om die parlement te bou. Die regime is nou op dieselfde vlak as kinders wat gelukkig is met ‘n lekker in die mond. En die buitewêreld begin dit besef. Ons gewone mense moet die regime ook soos kinders hanteer.

Di ·

Regering is te onbevoeg om goed in stand te hou of te herstel in die land. Gift of the givers is orals betrokke maar die onvoegde kaders vat die lof hiervoor.

miche ·

Ek hoop hul het dié keer ‘n paar kennisgewings van
‘ NO smoking in the storeroom’ aangebring. ‘n Stoorkamer raak nie sommer vanself aan die brand nie. Nietemin, Dr IS doen, soos altyd uitstekende werk.
(Ek wonder wie het hom genader vir hulp, Gift of the Givers reageer glo net as hul genader word vir hulp).

George ·

Hulle is besig met deurlopende liefdadigheids vir die openbare gesondheid sektor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kyk net hoe trots is die politici! Geen skaamte. Hoekom word hulle uitgenooi na die opening? Hulle name is seker ook op die plaat. Die regime moet uitgelos word en glad nie eers betrek word nie. Hulle gebruik nou dié geleentheid om te spog en vir die kiesers ‘n good story vertel. En jy help hulle dr. Sooliman?

Kokerboom ·

Ek sal in die geval my opinie van kaders weerhou! Dki Gift of the Givers. Forseer net die mense om fasiliteite te onderhou! Monitor hul ASB!

melaney ·

Verbasend dat malema nog nie ‘n eis teen Gift of the Givers ingestel het nie.

Shakespeare ·

Oorbetaalde onbevoegde LUR en Minister is te sleg om enigiets reg te doen.
Dankie Gift of the Givers.

Hettie ·

Ja en weer moet iemand anders regmaak en hulle het die vermetelheid om daar te staan en die “shine” te vang !

Sean ·

Nou gaan almal op 5 ster vakansies en die blink nuwe Bmw’s oral rondry Hoop daar gaan darem n paar rand na die hospitaal toe wat in elk geval net halwe projek gaan wees

George ·

Dis reeds gebou. Tensy hulle nie die infrastruktuur gaan verkoop nie, maak die kommentaar geensins sin nie.

De Bok ·

Gift of the Givers is baie talentvol met sigbaarheid verkry via die media. Daar is honderde duisende welsyn organisasies wat van die Christendom af kom, maar ons hoor nooit van hulle nie. Hierdie een Moslem organisasie is elke maand in die nuus. Wat gaan aan?

Chris ·

Ek stem 100% saam met jou. Die werklike welsyns organisasie is nie soos die “ambulans jagters” nie. Hulle werk en skenk op aanhoudende basies en die voordeel is, hulle loop doen dit nie voor die TV kameras nie.

piet ·

Hulle is ‘n goeie voorbeeld vir hul geloof. Weet nie of ek juis dieselfde kan se vir Christen-organisasies nie, Behalwe vir koekbak vir die basaar gaan daar nie veel aan nie.

Samuel ·

Ek wil ook graag weet waarom Chridten organisasies so ‘under cover ‘ bly. Laat die wêreld van julle hoor.

Delia ·

Gaan lees gerus Dr Sooliman se storie. Hoekom hy doen wat hy doen. Dis n wonderlike storie. N roeping

Anel ·

Een welsynsorganisasie doen meer as wat die regering moet doen. As die mense nie in gegryp het nie, sou die hospitaal seker tot niet gegaan het. Nou wonder ek net, gaan die regering nou agter oir sit en wag dat dit orals gaan gebeur???

absoluut ·

Dink ons moet eerder al ons belastinggeld aan Gift of the Givers laat oorbetaal

Chris ·

Hoe naief kan ons wees. Die organisasie speel vir die gehoor. Waar daar ‘n ramp of skade is, daag die manne soos masels uit die bloute op. Speel vir die gehoor

Delia ·

So moet hulle mense help met wie dit goed gaan. Natuurlik help hulle waar daar skade en rampe is. Wat stel jy voor Chris?
Het jy al gaan lees oor dr Sooliman en hoekom hy doen wat hy doen.

piet ·

Hulle daag darem op en help, meer as wat met van organisasies van ander gelowe kan se. En hulle help almal, maak nie saak wat die slagoffers se godsdienstige orientasie, ens. is nie.

Piet ·

Uitstekende werk deur Gift of the Givers. Maar hoekom ‘n politieke amptenaar altyd die geleendheid moet “Hijack” gaan my verstand te bowe. Hulle is juis verantwoordelik vir die probleme wat onstaan en dan moet die privaat sektor en humanutere organisasies hulle “uitbail”, skandelik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.