Gift of the Givers op pad na Turkye

Die situasie in Kahramanmaras, Turkye. (Foto: OZAN KOSE / AFP)

Die humanitêre noodlenigingsgroep Gift of the Givers stuur Dinsdag soek-en-reddingspanne en medici met spesialistoerusting vanaf Suid-Afrika na Turkye om hulp te verleen ná die verwoestende aardbewings in dié land en Sirië.

Die dodetal het teen vanoggend op meer as 4 300 gestaan en sal na verwagting in die komende dae steeds skerp styg.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van Gift of the Givers, sê die organisasie het die Turkse ambassadeur en konsul-generaal in Suid-Afrika reeds persoonlik ontmoet.

Die organisasie het ook met Turkish Airlines vergader en die lugredery het ingestem om alle oordragvlugte van Suid-Afrika na Istanbul te fasiliteer. Die lugredery sal Gift of the Givers se spanne van daar af tot in Gaziantep vlieg, waar die grootste nood is.

Die span bestaan tans uit 60 lede en sal later tot 100 verhoog word, sê Sooliman.

Met hul aankoms in Turkye sal die organisasie verdere kos, komberse en medisyne aankoop en versprei soos nodig.

Pres. Cyril Ramaphosa het intussen sy waardering teenoor Gift of the Givers vir hul hulp te kenne gegee én namens Suid-Afrika sy medelye met die slagoffers betuig.

“Ons nasie en regering is diep bedroef oor die ondenkbare lewensverlies in Turkye en Sirië en die groot skade aan sosiale en ekonomiese infrastruktuur wat die twee regerings en bevolkings nou in die gesig staar.”

Maroela Media het vroeër berig die eerste aardbewing van 7,8 het vroeg Maandagoggend getref. Dit is gevolg deur verskeie naskokke en nog ʼn kragtige aardbewing van 7,7 later die middag.

Die grootste verwoesting het naby die aardbewing se episentrum tussen Kahramanmaras en Gaziantep plaasgevind. Die aardbewing het om 04:17 plaaslike tyd op ʼn diepte van ongeveer 17,9 km plaasgevind met ʼn naskok van 6,7 wat sowat 15 minute later gevolg het.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) waarsku dat die dodetal tot meer as 20 000 kan styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Samuel ·

Dr Sooliman, dankie vir jou vinnige optrede en bereidwilligheid om mense in nood te help Die SA-regering sal nooit so-iets op sy eie kan doen nie, want daar is nie geld daarin vir hulle nie. Dankie, Gift of the Givers.

Marisa W ·

Wanneer gaan die res van die wereld hulp na SA stuur vir die tragiese aardbewing wat al amper 30 jaar lank hier aan die gebeur is. Hier tuimel alles ineen en mense sterf daagliks by die massas, maar die res van die wereld is dood stil…

Die Goodwoodianer ·

Hou aan hoop en Vertrou. Alles gebeur met ñ rede. Die Here slaap nie. Die dinge wat in die wêreld vandag gebeur is duidelike tekens vir ons as mens.

JohanR ·

Dink nie mens sal ooit iewers lees “ANC regering op pad na Turkye”. “NDZ aan die voorpunt, alhoewel baie baie stadig”. Wie was 1ste by die Boksburg brug ontploffing? Nie die ANC nie.

Christine ·

As ons Dr Sooliman as ons staatspresident kon hê, sal ons land en volk beter af wees. ‘n Man met ‘n hart en integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.