Gift of the Givers-vrywilliger sterf in kruisvuur van bendeskietery

Ameerodien Noordien (Foto: Gift of the Givers)

ʼn Jong vrywilliger van Gift of the Givers is dood toe hy in die middel van kruisvuur beland het van twee bendes in Hanoverpark in Kaapstad.

“Hoeveel onskuldige lewens sal dit nog verg? Hoeveel jong kinders moet nog gewelddadig en tragies sterf? Hoeveel ouers en broers en susters gaan nog moet treur voor ons as ʼn nasie beslissend optree om bendebedrywighede, dwelmmisbruik en geweld hok te slaan?” wou Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, weet.

Ameerodien Noordien (20) wou uit ʼn lewe van armoede wegbreek – geen dwelmgebruik nie, geen bendebetrokkenheid nie, geen geweld nie, slegs eerlikheid, integriteit, harde werk en ʼn regmatige inkomste om vir sy familie te sorg, het Sooliman in ʼn verklaring gesê.

Ameerodien Noordien tydens vrywilligerswerk vir Gift of the Givers (Foto: Gift of the Givers)

Sy ma Fatima wou sien dat haar kind op die regte pad beland, en dat hy ʼn bate word vir die samelewing. Ameerodien het vroeër vanjaar kontak gemaak met Ali Sablay, projekbestuurder van Gift of the Givers in Kaapstad. “Ons het vrywilligers nodig, maar ons stel hulle aan as tydelike personeel wat betaling ontvang, aangesien talle van hulle uit armoede kom. Die verskuiwing, verpakking en verspreiding van 300 houers gebottelde water en om voerbale in al die Kaapse provinsies af te lewer, het ʼn geleentheid geword vir jongmense soos Ameerodien om ʼn inkomste te verdien, die samelewing te dien, ondervinding op te doen en vaardighede aan te leer.

“Dié geleentheid het Vrydag, 5 Oktober om 19:00 gewelddadig tot ʼn einde gekom by Surwood Walk in Hanoverpark. Hy is drie keer in die rug geskiet en een keer in die kop toe hy in die kruisvuur van bendes beland het wat nie die wet of menslike lewens respekteer nie. Die onskuldige Ameerodien het gesterf. Menswaardigheid, hoop, ʼn strewe na ʼn beter lewe, jeugdigheid en lewenskragtigheid het aan die hande van arrogansie gesterf,” het Sooliman bygevoeg.

Hy doen ʼn beroep op polisieminister Bheki Cele om Suid-Afrika veiliger te maak vir sy 57 miljoen mense en gesê dit is nou dringender as ooit tevore. “Dit is duidelik dat Cele sy bes probeer om misdaad te bekamp sedert hy vroeër vanjaar in sy amp aangestel is, ondanks die probleem van hulpbronne en personeel, maar die Wes-Kaap het ʼn ‘Westbury-agtige’ [Johannesburg] ingryping nodig en ons versoek jou om dit ʼn realiteit te maak.”

Hy het gesê die gemeenskap, geestelike leiers, ouers, ondernemings en die samelewing moet saam harder werk, saam werk, om waardes oor te dra en jongmense weg te lei van ʼn pad van selfvernietiging. “En dit is ook tyd dat bendeleiers sit in dink aan die verwoesting, pyn en lyding wat hulle veroorsaak. Dit sal rustigheid in hulle siele bring. Hervorming moet van binne gebeur. Dit het al baie keer vantevore gebeur en dit kan beslis ook vandag gebeur.”

Hy het gesê die plaasgemeenskap is só geraak deur Noordien dat hulle bydraes begin lewer het vir Ameerodien se gesin. “Sy ma het daagliks dialise nodig. Dankie vir elke gebed en ondersteuning en woorde van vertroosting. Mag die Almagtige ons help om die euwels van ons land gesond te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Paul ·

Julius, jy en jou volgelinge kan jul hoofde in skaamte laat sak, leer hier wat commitment om die regte doel beteken.

Anoniem ·

So bitterlik onnodig, so bitterlik seer!!! My hart gaan uit na sy ma, familie en vriende.

Ramaphosa en Cele, kry julle g@tte n rat en kry om Vadersnaam hierdie gebroke land weer op die regte spoor.

Keelvol ·

Maak nie saak of dit iemand in ‘n rykmansbuurt of informele nedersetting is nie ‘n lewe bly ‘n lewe.
Hierdie skurke het geen gewete en gee nie om wie hulle afmaai nie. ‘n Lewe is vir hulle niks werd nie.
Apartheid kry skuld vir alles maar na 25 jaar is meeste mense ( behalwe die klomp wat kon skep) slegter daaraan toe.
Ek het nie antwoorde nie maar hoop regtig die polisie sal meer boewe van die strate af kry. Julle moet drasties optree sonder genade want hulle toon nie genade.

ZAR ·

Op die oomblik is ons hard besig dat die regering plaas aanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad moet erken en die kommando sisteem weer in werking te bring. Sodra ons dit reggekry het gaan ons met dieselfde ywer aktiviste wees vir die bende geweld in die Kaapse vlaktes. Hopelik kom ons nou al hoe nader aan daai dag. Misdaad moet val.

Susan de winnaar ·

Wat n aaklige tragedie. Dit moet vreeslik wees om dag in en dag uit so in vrees te lewe lyk vir my soosn oorlog sone. My hart gaan uit na di ouers wat hul kind verloor het.

Helena ·

Ai waarom moet juis die wat goed doen en ‘n verskil wil maak sterf en nie die kriminele nie?

Snowball ·

Kwaliteit lewensgehalte en basiese reg tot veiligheid het verdwyn in SA. ‘n Land waar vrouens en kinders in vrees lewe, die onskuldiges word afgemaai en ma’s se trane stroom oor die dood van hulle kinders. ‘n Siek land. Wet en orde is in sy peetjie in. ‘n Mens voel lus en gaan sit in sak en as. Julle, die ANC, julle is die bose sweer wat hierdie land vergiftig tot by sy kern. Mag God sy toorn oor julle boosheid laat ontvlam.

Guve ·

Mamma van die jong seun,ek is so jammer vir jou en jou gesin,sterkte,ek bid vir julle,R.I.V.Seun.Jul wat hierdie veroorsaak het,ek hoop jul kan julself vergewe,jou omstandighede is jou skuld,staan op,en maak iers van jou lewe,net jy kan,hou op om almal anders die skuld te gee,jy maak jou eie keuse ,alleen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.