Gigaba: ‘Ek was nie betrokke by Gupta-transaksies’

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, getuig voor die parlementêre ondersoekkomitee na Eskom. Foto: Cindy Waxa/ANA

Malusi Gigaba, die beleërde minister van binnelandse sake, het homself Dinsdag gedistansieer van enige transaksies tussen die berugte Gupta-familie en die staatsinstansies gedurende die vier jaar wat hy aan die stuur van die portefeulje vir openbare ondernemings was.

Gigaba was van 2009 tot 2014 minister van openbare ondernemings.

Gigaba het Dinsdag aan die parlementêre ondersoekkomitee na Eskom gesê die kontrakte wat die kragvoorsiener met Tegeta, Trillian en Regiments aangegaan het, het nie in sy ampstermyn gebeur nie en daarom “kan ek nie daaroor kommentaar lewer nie”.

Volgens Gigaba was hy ʼn groot ondersteuner van Brian Dames, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, en het hy hom afgeraai toe hy die eerste keer sy bedanking ingedien het en by hom gepleit dat sy kennis en leierskap by die maatskappy nodig was in ʼn tyd wat die kragvoorsiener groot infrastruktuur-projekte aanvaar het.

Gigaba het wel toegegee dat hy niks gedoen het nie nadat dit aan die lig gekom het dat Siyabonga Mahlangu, sy spesiale adviseur, vir Dames aan een van die Gupta-broers voorgestel het, wat versoek het die familie moet gunstig oorweeg word vir steenkoolkontrakte.

Dames het in sy getuienis voor die komitee in Oktober gesê hy is nie seker watter broer dit was nie, maar onthou dat daar aan hom gesê is “ons het besluit ons kan saam met jou werk”.

Gigaba het gesê Mahlangu was nie deur hom opdrag gegee om die ontmoeting te bewerkstellig nie en hy het nie gevoel dit is nodig dat hy hom moet berispe nie.

Hy het gesê hy dink dit was onregverdig dat Dames uitgevra is oor wat as’t ware ʼn besluit oor steenkoolbeleid is, omdat daardie besluit by die aandeelhouers en die Eskom-raad berus. Hy het gesê die saak het in elk geval nie verder as dit gegaan nie, want Dames het seker gemaak dit gebeur nie.

Gigaba het, in ʼn vertoë wat hy aan die komitee voorgelees het, gesê hy het ʼn goeie werksverhouding met Dames gehad en indien Dames enigsins bekommerd was, “moes hy my gebel het”.

Die minister het homself ook gedistansieer van verkrygingsbesluite by staatsinstansies. Hy het beklemtoon dat hy nog altyd in al die portefeuljes waar hy gewerk het, met die verstandhouding gewerk het dat dit onvanpas sal wees om op enige manier by tenderprosesse betrokke te raak.

“Ek weet ook nie wie die lede van die bodevalueringskomitee [en] die bodbeoordelingskomitee is nie…. Ek gee beleidsrigting aan die departement. As ek eers betrokke raak, verwar ek die rolle van die rekeningkundige en uitvoerende kantore.”

Toe Ntuthuzelo Vanara, die bewysleier, hom vra wat hy meen die koste van staatskaping vir die Suid-Afrikaanse ekonomie was, het Gigaba gesê dit is ʼn bewese feit dat bewerings van korrupsie en wanbesteding ʼn direkte en vinnige impak op die ekonomie het.

Hy het gesê hy glo sy rol om ʼn stokkie te steek voor die omstrede saketransaksie tussen Denel en die Gupta-maatskappy, VR Laser Asia, het bygedra tot ʼn verstewiging van die ekonomie in die eerste kwartaal van die jaar.

“Daar was ʼn positiewe sentiment wat daartoe gelei het dat die rand in die eerste kwartaal van die jaar versterk het tot by die sielkundige merk van R12 teen die dollar.”

Gigaba is verlede maand tydens ʼn uitgebreide kabinetskommeling deur pres. Cyril Ramaphosa uit sy posisie as minister van finansies geskuif en het teruggekeer na sy vorige pos as minister van binnelandse sake.

Hy hou vol bewerings dat hy gedurende sy eerste termyn as minister van binnelandse sake die Guptas voorkeurbehandeling gegee het toe hulle vir burgerskap aansoek gedoen het, is onwaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Whalla ·

Hoe voel jy nou Meneer Gigaba? Ek is bekommerd oor u gesondheid .. voel u gesond genoeg om die waarheid te praat?

Genieve ·

Ek het vermiddag so n stukkie van hom in die parlement gekyk ek se julle hy hou by se woord en hy glo hy praat die waarheid.

GES ·

Dit is sinneloos en tydmors om vrae aan iemand wat nie kan onderskei tussen waar en vals te te stel.

SjN ·

Was hy nie die een wat sekere dokumente persoonlik gaan aflewer het by die Guptas nie.

Pieter ·

Dit is bekend onder fondsbestuurders dat hy R 100 miljoen in die bank het. Hoekom word die oorsprong nie ondersoek nie ?

Oom Kalahari ·

Mnr Gigaba, almal onder ‘n paneel van ondervraging doen eers hul eksamen van ontkenning, dan skakel hul oor na ander rat van om ander om hul te probeer blameer, dan kom die ongemaklike dreigende houding van “bring die bewyse” en wil in ‘n regsgeding gaan op belasting betalers geld. Korupsie het soos padastoele opgeskiet en mense sit met miljoene rande waar families ook ‘n vinger en besighede in die pastei het. Voorspoed en sterkte ou grote….die waarheid sal maar altyd seevier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.