Gigaba het weg gebaan vir mededinger op Mumbai-roete

Cheryl Carolus, voormalige voorsitter van die SAL, getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping (Foto: Nokuthula Mbatha/AfricanNewsAgency/ANA)

Die kommissie van ondersoek na staatskaping het Donderdag gehoor hoe voormalige minister Malusi Gigaba vasberade was dat die SAL sy winsgewende Mumbai-roete moet laat vaar om die weg vir Indië se Jet Airways te baan om dié roete oor te neem.

Cheryl Carolus, voormalige raadsvoorsitter van die SA Lugdiens (SAL) het getuig oor haar ampstermyn by die nasionale lugredery tussen 2009 en 2012.

Oudpres. Jacob Zuma het die voormalige minister van openbare ondernemings, Barbara Hogan, in 2010 afgedank en Gigaba in haar pos aangestel. Carolus het gesê ʼn paar weke ná sy aanstelling, het Gigaba ʼn impromptu vergadering met die raad van die SAL belê om die Mumbai-roete te bespreek.

Die uitvoerende beamptes van die SAL, Gigaba en voormalige adjunkminister Ben Martins het drie ure lank vir twee mense gewag, wat volgens die minister by die vergadering sou aansluit, het Carolus getuig.

“Dit was ongelukkig op baie kort kennisgewing en ek kon nie die vergadering bywoon nie. Ek het die destydse uitvoerende hoof, Sizakele Mzimela, en die voorsitter van die ouditkomitee, wyle mnr. Sithole, versoek om die vergadering by te woon. Me. Mzimela het daarna terugvoer aan my gegee. Een ding wat vir my uitgestaan het, was dat hulle ure lank in die minister se kantoor moes sit en wag vir onbekende gaste,” het Carolus bygevoeg.

“Dit was buitengewoon dat ʼn minister drie ure lank sou sit en wag vir iemand. Twee mans van Jet Airways het uiteindelik opgedaag; een van hulle was die president van Jet Airwyas. Die minister het niks gesê en niks gedoen terwyl Jet Airways se president Mzimela oor die Mumbai-roete ondervra het nie.”

Sy het gesê Gigaba, wat die vergadering belê het, het die verteenwoordiger van Jet Airways toegelaat om die gesprekke te lei en Mzimela te konfronteer. Jet Airways wou haar oortuig om die Mumbai-roete te laat vaar. Martins het in daardie stadium namens Mzimela ingegryp. “Hy het aan die man gesê hy het geen reg om na ons land toe te kom en opdragte uit te deel nie. Dit was baie ongemaklik vir mnr. Sithole en me. Mzimela.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou by Carolus weet of mense haar aangesê het om die roete te kanselleer. “Is dit nie baie vreemd nie? Het jy geweet wat so spesiaal aan dié persone was dat die minister so lank vir hulle sou sit en wag?”

Carolus het geantwoord: “Voorsitter, as u verbaas is, dan kan ek u verseker ek is selfs vandag nog onseker.”

Sy het gesê daar was ʼn geskiedenis van samewerking tussen die twee lugrederye toe die SAL met Jet Airways saamgewerk het, maar die Indiese lugredery het, in ʼn stadium, begin weier om betalings te doen.

“Ons was gretig om dit behoorlik te bespreek en te bepaal of dit wat hulle vir ons bied, finansieel sou sin maak. Daar moes prosesse wees; die SAL is ook ʼn onderneming en ons kan nie net só ʼn belangrike roete weggee sonder ʼn omvattende proses nie.”

Carolus het aan die kommissie gesê Gigaba was vasberade om Jet Airways in plaas van die SAL te help. “Die minister was ʼn SAL-aandeelhouer, maar hy was klaarblyklik vasberade om Jet Airways te help. Dit was duidelik dat hy in gesprek was met Jet Airways.

“Daar was baie maniere hoe die minister ons kon help. Byvoorbeeld met visumvereistes, want daar was nuwe regulasies dat reisigers na SA van Mumbai visums moet hê. Dit was opmerklik dat hy só vasberade was om [Jet Airways] te help, maar nooit gevra het of ons enige hulp van die regering benodig nie.”

Mzimela se kantoor het, tydens die vergadering, ʼn oproep van ʼn man gehad wat gesê het hy is ʼn verteenwoordiger van Jet Airways en dat die uitvoerende hoof dringend die SAL-ooreenkoms moet onderteken om die Mumbai-roete te laat vaar. Carolus het gesê die persoon was baie aggressief met Mzimela se sekretaresse.

Gigaba het in 2011 ʼn tweede vergadering in Kaapstad belê om weer oor die roete te praat.

Carolus het gesê sy kon weereens nie die vergadering bywoon nie, omdat sy ander verpligtinge moes nakom en sy het ʼn raadslid en Mzimela na die vergadering gestuur. Die voormalige uitvoerende hoof van die SAL is weereens ondervra, hierdie keer deur Gigaba se regsadviseur, Siyabonga Mahlangu, terwyl Gigaba stilgebly het.

“Siyabonga Mahlangu, wie se teenwoordigheid by die vergadering die SAL-verteenwoordigers verwar het, het Mzimela veroordeel omdat die SAL geweier het om die Mumbai-roete te sluit. Hy het gesê die raad mors staatsgeld wat eerder aangewend kon word vir HOP-huise. Dit was baie vreemd vir ʼn regsadviseur om dit te sê. Mzimela het gesê sy het aanstoot geneem dat sy só aangespreek word en haar kollega het Gigaba versoek om Mahlangu te verhoed om haar só aan te spreek.”

Gigaba se enigste bydrae tot die vergadering was om vir die twee partye te sê dat hulle “mekaar moet vind”, het Carolus gesê. “Niks anders is bespreek nie en geen ooreenkoms is onderteken wat betref die Mumbai-roete nie.”

Carolus het aan die kommissie gesê kort ná hy minister geword het, is Gigaba ingelig oor die SAL se strategie en planne. Sy het gesê Gigaba het hom openlik teen die raad uitgespreek en gesê hulle het nie ʼn strategie vir die nasionale lugredery nie. Dit is teenstrydig met Gigaba wat in privaatheid geen klagtes teen die raad of bestuur gehad het nie, en geen besware teen die strategie uitgespreek het nie.

“Hy het die raad daarvan beskuldig dat hulle onbekwaam is of die feite wanvoorstel. Hy het gesê ons het nie ʼn strategie nie, terwyl hy geweet het ek het die SAL-strategie goedgekeur. Dit was ʼn baie ongemaklike posisie en ons het gevoel dit ondermyn die lugredery.” Volgens haar was die bevoegdheid van die raad ʼn sleutelfaktor wat betref risiko en finansiering.

“Dit was irriterend. Ons was baie besorg toe hy die integriteit van die raad begin bevraagteken het en gesê het ons is nie patrioties nie.”

Sy het gesê toe die SAL die regering se hulp benodig het om die Botswana-roete te sluit, was Gigaba nêrens nie. Carolus het gesê die regering het sy voete gesleep en wou nie instem selfs wanneer sinvolle besigheidsredes verskaf is nie.

“Ons het baie geld op die Botswana-roete verloor. As ek Botswana toe moet gaan, dan het ek gery. Dit het nie sin gemaak om te vlieg nie – selfs nie eens vir werk nie. Ons het die regering se toestemming benodig. Hulle het hulle voete gesleep en ons het baie verliese gely. Daar was ʼn algehele gebrek aan fokus en dringendheid. Ons was baie ongelukkig daaroor. Ons het gewonder waarom hulle oor Mumbai omgee en nie Botswana nie? Die enigste roete waaroor die minister ooit met ons gepraat het, was die Mumbai-roete.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marco polo ·

So hier het ons n SAA raadslid, wat nie haar verpligtinge nagekom het deur vergaderings by te woon nie, wat nou ander blameer. Wat van bietjie introspeksie, Cheryl, wat het JY gedoen om dit te stop toe jy sien dis verkeerd?

Magrietha ·

SAL was een van die beste lugdienste.Nou ja daar is niks meer oor nie geld speel n groot rol as daar in bank acc R123456789 man dan sien $ tot daai acc op R0.000000 in is

Snowball ·

ANC – African National Corruption. Eers ontken, dan lieg, dan bedank. Dan grootskaalse ondersoeke en groot uitsprake van verbasing oor hoe NIEMAND besef het die vrot lê so diep nie…van die munisipaliteite tot by staatskaping…MAAR NOU SING ALMAL SOOS ‘CANARIES’ my bra… Voorspelbare ANC werksetiek.

Johan H. ·

As enig persoon na dese nog anc stem,moet hulle kry wat na hul kant toekom. HOEKOM GAAN DIE VROT NIE TRONK TOE NIE?

John ·

Van die getuies voor die kommissie is darem nou verskriklik onskuldig en het al vir jaaaare geworstel met die groen mannetjies in hul midde en die hele tyd net probeeer verstaan hoekom, waarom en waaroor alles gaan terwyl hulle ‘n lekkkker salaris getrek het en nou hoop op ‘n comeback in die nuwe bedeling na ‘n besoek aan die priester, om te help om die wa nou weer uit te stoot wat in die stink modderpoel vasgeval het. Party motors het mos net ‘n trurat. Waarom kon me nie die belangrike vergaderings oor die Oosterse roete bywoon nie?

Alida ·

Ek wens ek kan weet wanneer hierdie mense eendag afgedank word en gevonnis word of is my drome verydel.

CHRISTA ·

As hulle al hierdie skelms in ons regering moet toesluit sal hulle weer Robben Eiland se tronke moet oopsluit!! Daar sal nie genoeg tronke in ons land wees om hulle almal te “huisves” nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.