Gigaba: ‘Kry jou nuwe ID by die bank’

Minister Malusi Gigaba. Foto: DoC

Minister Malusi Gigaba. Foto: DoC

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het Dinsdag aangekondig dat die publiek binnekort by van die land se groot banke vir die nuwe slim ID-kaarte kan aansoek doen.

“Daar gaan talle nuwe innovasies deur die departement ingestel word om Suid-Afrikaners by te staan met die slim ID-kaarte en paspoorte,” het Gigaba aan verslaggewers gesê. Standard Bank, Nedbank en FNB het reeds ʼn memorandum van verstandhouding met die departement onderteken.

“Ons stelsels sal aan die banke gekoppel word om die proses uit te voer. ʼn Persoon sal na sy bank toe kan gaan en nadat hy sy banksake afgehandel het, kan hy na binnelandse sake se kiosk in die bank gaan en al sy of haar aansoeke indien. ʼn Biometriese foto, outomatiese vingerafdruk, en elektroniese handtekening word geneem. Dit word dan saamgestel in ʼn elektroniese pakket en ingedien by binnelandse sake,” het Gigaba gesê. Die aansoekers sal hul nuwe slim ID-kaarte ook by die bank kan afhaal.

Die aanvanklike projek met die drie banke sal in April begin. “Ons is baie opgewonde oor die feit dat die banke gehoor gegee het aan ons versoek om saam met hulle te werk. Dit sal die druk op ons kantore verminder en ons vermoë verhoog om die infrastruktuur van die private sektor as vennoot te benut.”

Gigaba het gesê indien die aanvanklike projek suksesvol is, sal alle Suid-Afrikaners aansoek kan doen vir slim ID-kaarte. “Ons het die aansoeke vroeër beperk tot 60-jariges en 16-jariges.” Volgens Gigaba sal die Suid-Afrikaanse Poskantoor ook by die projek betrek word.

Gigaba het gesê 110 van binnelandse sake se 403 kantore het reeds ʼn “regstreekse vasleggingstelsel” in plek vir die verwerking van aansoeke vir slim ID-kaarte en nuwe paspoorte. Volgens Gigaba sal 140 kantore na verwagting teen Maart oor dié tegnologie beskik.

Aansoeke vir die slim ID-kaarte kan slegs by kantore waar dié stelsel in plek is, gedoen word. Dit het lang rye by van die kantore tot gevolg. Die groen ID-boekies sal geldig bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sollie ·

Hmmm…sal liewers nie sê wat ek dink nie. Een ding is verseker enigeen wat by die Poskantoor gaan aansoek doen moet weet met die ewige stakings is daar ‘n goeie kans jou kaart sal gesteel word/wegraak….

Renee - Skuldberader ·

Al vraag wat ek wil vrae is hoe skakel dit in met die POPI Wetgewing?

Petrus ·

Vergeet sommer klaar van die poskantoor, hulle kan nie eers pos aflewer nie

marianna ·

Stel nie belang in hierdie kaart nie, maar die poskantoor is uit, hulle is net so sleg
soos inn binnelandse sake hulself. Ek het ook niks te doen in die bank nie so my problem is opgelos.

Jasper ·

Vandag is dit vir jou I.D. kaart. Eendag, net eendag. Dan gaan kry jy gou jou MERK waarsonder jy nie kan koop of werk nie.

Andries Erwee ·

Dankie Dept Binnelandse Sake. Die verbeterings wat jul reeds die laaste 3 jaar ondergaan het, die verbetering van ons paspoorte, die spoed waarmee julle aansoeke afhandel en die langer ure wat jul oop is, kan gerus deur ander departementenagevolg word.

Suzette ·

Hoopelik sal Standard Bank in Centurion een vd banke wees waar die publiek kan aansoek doen vir die slim I’d kaarte! Wonder net wat is die koste daarv en hoeveel fotos benodig ‘n aansoeker. Eks nogal opgewonde want Maart is om die draai en tans kan jy net in Pretoria middestad by Binnelandse sake aansoek doen vir die kaart

V ·

Wonder hoeveel van die nare het al klaar vervalste ID’s wat hul al uitgegee het net soos wat geld uit jou bankrekening sommer verdwyn.

Eish! ·

Ek hoop die platteland word ook onthou. Ek het verlede jaar Junie al prober om ‘n paspoort te kry. Moet na ‘n ander dorp ry, elke keer ‘n hele dag se verlof insit en het 2 dae teruggekom sonder enigiets wat gedoen is Hulle was van lyn af en ek het die hele dag rondgehang met die hoop dit kom reg. Toe weer ‘n dag se verlof en het ‘n hele dag daar gaan sit. Toe kry ek ‘n sms kom haal af. Nog ‘n dag verlof en vir 2min se kolleksie het ek presies 7ure in ‘n ry gesit. Wrintie 4 dae se verlof en R600 se brandstof verder het ek 7maande later my paspoort! Dit is nou diens! En ek praat van die Bethlehem binnelandse sake!

Sophia ·

Kan Binnelandse Sake nie eers meer hulle eie werk doen nie dat hulle dit nou aan die banke delegeer? Ooooh eh eh, hierdie ou landjie van ons het rerig sy g&% gesien…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.