‘Gigaba moet bedank’ (maar gaan waarskynlik nie)

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: ANA

Gaan hy of gaan hy nie? Politieke ontleders sê Suid-Afrika sal moet wag en sien of pres. Cyril Ramaphosa die sogenaamde pierewaaier-minister Malusi Gigaba dié slag behoorlik in die bek gaan ruk.

Politieke ontleder Theo Venter sê hy dink Gigaba behóórt afgedank te word, maar twyfel of dit gaan gebeur.

Die openbare beskermer (OB) het gister die verdoemende verslag bekend gemaak waarin sy bevind het Gigaba het die Grondwet én die kabinet se etiese kode oortree. Dít nadat regter Neil Tuchten op 17 Desember verlede jaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof – in die saak tussen die Oppenheimer-familie se Fireblade Aviation en die minister van binnelandse sake – bevind het Gigaba het doelbewus onder eed gelieg oor nasionale sleutelpunte.

Die hof het bevind dit kan as ʼn oortreding van die Grondwet gesien word. Die DA het Gigaba op grond hiervan by die OB verkla. Die party het intussen ook die OB se bevindinge verwelkom, nadat die party al verskeie kere vantevore gevra het dat Gigaba, na wie die party verwys as ʼn grondwetlike oortreder, in die pad gesteek word.

DA-hoofsweep John Steenhuisen sê Ramaphosa se behoud van afvallige ministers en sy versuim om teen hulle op te tree, is ʼn verdere bewys dat die ANC nog niks verander het nie sedert oudpres. Jacob Zuma se ampstermyn beëindig is. Steenhuisen sê die party bly een wie se leiers straffeloos optree omdat hulle nooit regtig verantwoordbaar gehou word nie.

Rebecca Sibanda, verbonde aan die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê dis nie net die OB se verdoemende verslag wat teen Gigaba tel nie; dis ook sy meineed in die hof.

“Hierdie is baie ernstige bevindings. Dis ook nie meer net bewerings nie, dis feite. Hy [Gigaba] is daaraan skuldig bevind dat hy sy grondwetlike plig versaak en die etiese kode oortree het. Dié instellings verwag van hom om eerlik en met integriteit op te tree nie en om nie die parlement óf die president doelbewus te mislei nie – en dit hét hy gedoen.

“Daar is geen riglyne oor wat die president móét doen nie, maar Gigaba het ernstige oortredings begaan.”

Sibanda sê egter die hofbeslissing, tesame met die OB se verslag oor Gigaba, sal Ramaphosa hopelik aanspoor om streng op te tree.

Die regerende party is egter nie in die gewoonte om té hard te wees op senior partylede wat oor die tou trap nie. Daarvan getuig die Esidimeni-gesondheidsorgskandaal in Gauteng wat die lewe van minstens 144 psigiatriese pasiënte geëis het, sowel as die Sassa-debakel wat hom onder Bathabile Dlamini afgespeel het. Ook Nomvula Mokonyane, onder wie se leierskap die departement van water en sanitasie miljoene rand vermors het, is nog stewig in die saal.

Kenners sê dít behoort Gigaba moed te gee. Hy speel boonop ʼn belangrike rol in Ramaphosa se veelbesproke stimulusplan, nog iets wat hom moontlik van afdanking kan red.

Gigaba moes vandeesmaand ook ánder vure doodslaan toe ʼn video van seksuele aard van hom aan die lig gekom het. Kuberkrakers het toegang tot Gigaba se staatselfoon gekry en wou die video gebruik om hom af te pers.

Venter sê dit was toe al duidelik dat Gigaba besig is om ʼn toenemende verleentheid te word.

Maar hy sê ook van Gigaba se senior kollegas neem die OB se bevindinge nie té ernstig op nie, en sê dit is ʼn poging van Busisiwe Mkhwebane om guns by Ramaphosa te wen deur iemand te kap wat rééds in die moeilikheid is.

“As ek Malusi Gigaba was, sou ek bedank het eerder as om uit die kabinet geskop te word. Die dilemma is dat hy sy oog op ANC-leierskap het. Gigaba het politieke ambisies, maar hy is besig om dit sélf te ondergrawe,” het Venter gesê.

Venter het bygevoeg hy glo dit is in die land se belang vir Gigaba om te bedank.

  • Ramaphosa moet Mkhwebane binne 20 dae van sy ontvangs van die verslag inlig oor hoe hy teen Gigaba gaan optree. Die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, het op haar beurt 30 dae van die publikasie van die verslag om te sê watter stappe die parlement teen Gigaba gaan doen omdat hy die etiese kode oortree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Neut?? ·

Klou soos ‘n NEET – “a nit; egg or young of an insect parasitic on mammals especially a sucking louse; often attached to a hair or item of clothing”.

Ella ·

Dankietog @ “Neut”
Lyk my Maroela se taalpolisie ken ook nie die gesegde want hulle help mense nie reg

Cherokee ·

Ella, almal lees nie kommentare onmiddellik nadat dit gepos is nie. En die term taalpolisie mag dalk afbrekend bedoel wees teenoor mense wat opbouende kommentare lewer.

Pieter ·

Wat verwag ons van die ANC, 100% van sy lede lieg om hulle eie bas te red. Die sluit in ons nuwe president wat ook maar net mooi niks doen vir die land nie.

Johann ·

Wel ten minste kon hy sy weergawe van FREE WILLIE vrystel as deel van sy nalatenskap. Darm nie NET n leunaar nie!

Adrian ·

Sies Gigaba maar jou makkers sal jou nie afdank nie hul selfone is vrot van porn dit waarborg ek jou

Chris ·

Nie n ambasadeure pos nie, nog minder uitskop. Die volgende minister van waterwese of komunikasie moontlik. Dalk net miskien defenitief n pos in die presidensie. As n kader aanjaag kry hy net n beter plek op die soustrein

christa ·

Dit maak nie saak wat ons se of doen nie RAMP. Net so Pateet Soos zumpie O Weet Almal Is n Klomp Gemors . MAAR NOU BETAAL EK P MAAND VIR MAROELA MEDIA EN EK SUKKEL BAIE KEER DAT HUL MY KOMMENTAAR TOG ASSSEBLIEF NET MOET OP LOS SO N VERDOMDE GEMORS IS HUL ALMAL IN MEKAAR SE G**** IN GEKRUIP

Cherokee ·

christa, ek het self al probleme gehad met die oplossing van sommige kommentare.

Abe ·

Cherokee,
Slim oplossing vir Christa se ingewikkelde probleem!

Nico ·

Natuurlik sal die owerstes nooit hierdie onbekwame spul afdank nie !! Hulle almal vrees mekaar se Sangomas. SA word deur Sangomas geregeer en dit besef die meeste Blankes nie. Dit is wat in Afrika aangaan!!

Alida ·

Sy vel is so dik hy kry nie eers skaam as die skoonmakers in sy kantoor vir hom lag nie. Praat nie eers wat sy arme kinders in die skool moet verduur nie. Sies.

Vaselinetjie ·

Die een is letterlik bo blink en …… Gaan suinig om met die waarheid en rojaal met die blinkvryf.

GES ·

As die man met die pieringoë net ʼn klein bietjie selfrespek gehad het sou hy lankal geloop het. Sy gierigheid en dikvelligheid maak dat hy verbete aan sy vergoedingspakket vasklou.

humor ·

christa nou het jy die woorde reg gegooi, So moet jy praat as jy wil heMM moet luisteer

humor ·

Alida sy kinders verduur niks. Dit is dradisie. Almal lag lekker saam en is bree bors oor pappa. Vra maar vir ons onderwysers wat in die staatsskole werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.