Gigaba: ‘Niks verdags aan Guptas se burgerskap’

GG Hlatswayo, namens die direkteur-generaal se brief aan die Gupta-familie (Foto via Julius Malema, leier van die EFF)

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Dinsdag gesê daar is niks verdags aan die feit dat hy Suid-Afrikaanse burgerskap aan lede van die Gupta-familie toegestaan het nie.

Gigaba het in ʼn verklaring bevestig dokumente wat op sosiale media deur die EFF versprei word, is eg. Die e-posboodskappe toon Gigaba het sy mag as minister van binnelandse sake gebruik om in te gryp toe ʼn senior beampte by die departement geweier het om burgerskap aan die familie toe te ken omdat hulle nie vir minstens vyf jaar ʼn fisieke adres in Suid-Afrika gehad het nie.

Gigaba se kantoor het gesê die minister het wettiglik burgerskap aan die familie toegestaan soos hy by magte was om te doen volgens die Wysigingswet op Suid-Afrikaanse Burgerskap. “Die aansoek is gehanteer volgens die korrekte prosedure wat vereis dat die departement van binnelandse sake aanbevelings aan die minister stuur vir sy oorweging,” lui die verklaring.

“Die toekenning van naturaliseringsertifikate van hierdie aard is nie ongewoon nie,” lui die verklaring. “Soortgelyke hoflikhede is voorheen aan prominente sakemanne toegestaan, insluitend die uitvoerende hoofde van multi-nasionale maatskappye en sportsterre. Daar was geen onbehoorlike gedrag deur die minister met betrekking tot die hantering van hierdie aansoek nie.”

Malusi Gigaba se brief aan die Gupta-familie (Foto via Julius Malema, leier van die EFF)

Gigaba se kantoor het verder die media daarvan beskuldig dat daar sensasie rondom die saak geskep word en “onregverdig” teenoor die minister opgetree word. “Dit is nie waar dat minister Gigaba ‘die hekke vir die Gupta-familie oopgemaak het nie’. Die Gupta-familie is al sedert 2008 heeltydse inwoners in Suid-Afrika. Daar is verder geen ‘skok-onthulling’ in hierdie saak nie aangesien alles volgens die voorskrifte van die wet gedoen is.”

Die EFF het Maandag twee dokumente op sosiale media bekendgestel. Die een dokument is deur die destydse direkteur-generaal van binnelandse sake onderteken om die Guptas burgerskap te weier. Die ander dokument, wat deur Gigaba onderteken is, ken vervroegde naturalisering aan die Indiese familie toe.

Die EFF het gedreig om die Guptas se burgerskap in die hof teen te staan. “Die EFF het daarom besluit om regsadvies in te win oor die moontlikheid om die saak hof toe te neem sodat Gigaba se gunste reggestel kan word en die Guptas, soos enige buitelanders wat burgerskap wil hê, die korrekte prosedure kan volg. Gigaba se besluit is irrasioneel en geskoei op niks anders nie as sy korrupte verhouding [met die Guptas],” het die party Maandag gesê.

Gigaba was sedert 2014 minister van binnelandse sake totdat hy in Maart as minister van finansies aangestel is nadat Pravin Gordhan en sy adjunk Mcebisi Jonas afgedank is. Gigaba se naam het ook in die gelekte Gupta-e-posse opgeduik waarin daar beweer word hy het ʼn noue verhouding met die Gupta-familie. Hy ontken enige oortreding en bevraagteken die geloofwaardigheid van die uitgelekte e-posboodskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johannes van Rooyen ·

As daar niks fout was nie hkm was dit 4 mnde voor dit afgekeur
Dis nou ook nie asof hy iets sal erken nie ANC maak mos nou nie foute nie
Ek hoop hulle burgerskap SAL terug getrek word

Pieter ·

Gigaba se brief gedateer SATERDAG 30 Mei 2015 ” With reference to your representations dated 22 July 2014..”(aansoek Jul 2013, verwerp Jan 2015, met her-aansoek sperdatum 23 Des 2015 onderhewig aan voorskrif) volg nie reg op nie, is uit orde en/of strook glad nie, en die uitleg lyk anders as wat Minister se PA dit professioneel en met datum bo-aan sou doen. Daar is ook nie egte waarmerk stempel op/onder Gigaba se handtekening nie. Is hantekening gewaarmerk eg?
Deur wie, waar opgetrek en waar Saterdag geteken?

Gehoor van ·

Ek het al gehoor van die Zumtas, is hierdie nou die Gigtas? Of is ons nou al by die Gumtas?

Ander Annie ·

Nou het ek lekker gelag vie jou kommentaar. Goed gesê!! Waar pas die Mamparra Brigade in? :-;

Johanna Botha ·

Wat hy eintlik se is dat dit maar reg is dat hulle SA so besteel ….hy is deel van alles en ons weet dit na al daardie mail !

Magda ·

Gigaba – as alles wettig is laat die EFF dit ondersoek, dan het jy niks om oor bekommerd te wees nie!!!!!!!! geweet jy het iewers ook n vinger in die Guptas se pie.

Nico K ·

Ek moet net noem dat die eerste brief nie deur die Direkteur-Generaal geteken is nie. ‘n Amptenaar het namens hom geteken. (p p staan vir een of ander Latynse woord wat beteken namens hom.) En ongelukkig maak die wet voorsiening dat die Minister vir verdienstelike gevalle die tydperk van 5 jaar naturalisasie mag vervroeg. En verdienstelike gevalle word nie gedefinieër nie. Ek sê nie Gigaba is nie betrokke by die Guptas nie. Maar in hierdie geval is daar niks waaroor hulle hom kan aankla nie.

Domvraag ·

Hoe lyk sy selfoonrekening. Was hy nie dalk by die selfde sjabeen as Brian Molefe nie. Dalk het hulle saam gekuier.

Domvraag ·

Amper vergeet ek om te vra wat het hy verkeerd gedoen? Niks net soos ons iemand met 783 aanklagte teen hom of soos iemand wat lokomotiewe aankoop wat nie op ons spoorlyne kan loop en dan sê hy vra nie omverskoning want hy het niks verkeerd gedoen nie.

Scalla ·

Gewoonlik ontvang almal slegs kennisgewings as korrespodensie met standaard opsies wat slegs op die spesifieke blokkies gemerk word volgens die aansoek. Dit is lekker as jy so belangrik is en iemand ken wat persoonlik per skrywe aan jou kommunikeer. Waar n rokie trek, is daar altyd n vuurtjie.

M ·

Ons kan dankbaar wees dat hulle slegs van 2008 heeltydse inwoners is, dink net wat sou hulle gedoen het as dit vroeer was.

Leon ·

Lyk my Gigaba verstaan nie die ANC se modus operandi nie – hy is nie veronderstel om te erken dat hy dit gedoen het nie! Hy moet dit eers ontken en as daar later geen ander uitweg vir hom is nie moet hy apartheid die skuld gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.