Gigaba ontken visumregulasies was persoonlik

Malusi Gigaba. Foto: Cindy Waxa/ANA

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het Woensdag bewerings dat hy die land se visumregulasies in 2014 verander het omdat hy persoonlik daarby belang gehad het as “absolute onsin” afgemaak.

Gigaba word daarvan beskuldig dat hy die visumregulasies so verander het sodat hy sy eksvrou kon verhoed om oorsee met hul kind te reis ná hul bitter egskeiding.

Die veteraan-joernalis en omroeper Redi Tlhabi het Gigaba op Twitter daarvan beskuldig dat hy advies van kenners en bewyse teen die visumregulasies van 2014 geïgnoreer het. Die land het glo miljarde rande in die toerismebedryf verloor nadat Gigaba die visumregulasies destyds ingestel het.

Hiervolgens moes kinders onverkorte geboortesertifikate hê om van en na Suid-Afrika te reis terwyl oorsese besoekers wat visums wou bekom in persoon moes aansoek doen en biometriese data verskaf.

“Minister, wanneer gaan ons die regte gesprek hê? Wanneer gaan jy eerlik met die land wees en vir ons vertel hoekom jy vasbeslote was dat jou breinlose visumregulasies vir reis met minderjariges persoonlik was? Dat ons almal daaraan moes voldoen omdat jy ʼn huishoudelike probleem gehad het?” het Tlhabi in ʼn reeks twiets gesê.

Redi Tlhabi

“Is dit nie waar dat jy woedend was toe ʼn niggie van jou eksvrou met jou dogter Lerato gereis het terwyl jy in Kuba was nie? Toe jy dit uitvind het jy aanklagte van ontvoering aanhangig gemaak selfs al het jy jou eksvrou se niggie baie goed geken en geweet jou dogter is gelukkig saam met haar?

“Jy het ʼn persoonlike probleem daarmee gehad dat jou eksvrou reisreëlings getref het saam met jou dogter en sonder jou toestemming en toe besluit jy ‘ek sal die probleem uitsorteer’? Jy het regulasies wat nog nie getoets is nie geïmplementeer en aangevoer dit takel kinderhandel? Het jou regulasies die aantal gevalle van kinderhandel verminder?”

Gigaba het egter Woensdagoggend tydens ʼn onderhoud op SABC se Morning Live gesê Tlhabi praat uit onkunde aangesien die visumregulasies niks met hom te doen gehad het nie en dit gereed was om geïmplementeer te word toe hy minister geword het en reeds deur die nodige wetgewende prosedures was.

“My kind was nie deel van mensehandel nie. Dit is absolute onsin. Ek ken die persoon wat dit getwiet het. Sy het gepraat oor iets wat absolute onsin is. Ek het geweet wat gebeur en hoekom dit gebeur. Die kwessie was oor my dogter wat skool gemis het en het niks met kinderhandel te doen nie,” het Gigaba gesê.

“Ek sal nooit dat ʼn persoonlike kwessie my werk beïnvloed nie. Dit is absolute onsin. Toe ek in Mei 2014 my amp opgeneem het, was daar ʼn wet wat goedgekeur is terwyl ek nie by binnelandse sake was nie. Ek sou nie in my kantoor instap en persoonlike bagasie saambring nie.

“Die departement het aan die regulasies gewerk terwyl ek die minister van openbare ondernemings was. Toe ek daar instap was dit op my lessenaar. Ons moes dit finaliseer en implementeer. Die wet is klaar deur die parlement in werking gestel, deur die kabinet goedgekeur en deur die president geteken. Ek dink Redi was baie onkundig en onverantwoordelik om my kind by die kwessie in te sleep.”

Gigaba is dié week opdrag gegee om visumregulasies te verslap ten einde toerisme ʼn hupstoot te gee. Gigaba is egter na die aankondiging daarvan beskuldig dat hy verwarring saai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henk ·

n “Wanna be” nar wat om verskeie redes nie n werk op n straathoek of sirkus kon kry nie, toe word hy n politikus. Hoe kan n man wat in beheer is was van n ministerie en n gemors daarvan gemaak het en in sy tyd n klimp kriminele vry toegang tot die land gegee het en boonop in hulle sakke boer, teruggeskuif word na dieselfde pos? Hoekom het Ramaphosa nooit van Gogaba en die ander Zupta poppe ontslae geraak nie?

clown ·

hy het hulle nodif om sy eie slim planne deurgevoer te kry sodat agtrerna sy hand kan afskud en sê hulle het n wanopvatting van sake gehad. maar tot ryd en wyl, sal hy hulle goed aanspoor om sy plannetjies deur te voer. plaas van vertel hy sy mense hoe hy aan al sy grade gekom het in die tye van onderdrukking. seker bang hulle gaan sien daar was geleenthede vir almal wat dit wou aangryp.

Paul ·

En so hang hulle self dit waarmee hulle ge-etiketeer word om die nek.

Adriaan ·

Dis al keer op keer bewys dat hoe heftiger die ontkenning gemaak word, hoe nader aan die waarheid dit is.

jakes ·

Soos reeds onlangs in die media bevestig is die oorgrote meerderheid persone in senior posisies insluitend die politiek, totaal onbevoeg om hul werk te doen. Heelwaarskynlik die hoofrede hoekom SA so swak regeer word.

Hendrik van George ·

Nog een van die “grotes” in die ANC regering. ‘n laerskool kind kon beter besluite geneem het as die agbare minister. Ek weet van tallose families wat hulle reisplanne moes verander agv die nar se besluite. Selfs Suid-Afrikaanse gesinne se reisplanne vanaf die buiteland is ontwrig deur die uiters swak besluite deur Gigaba.

frying frog ·

Selfs die gehardste misdadigers sal enduit ontken dat hulle skuldig is. Die mens erken maar baie sleg sy skuld aan ‘n saak. Selfs oom Jaap Z ontken staatskaping en sy aandeel daaraan. Persoonlik glo ek vir Redi Thlabi. Hoekom sou sy oor soiets wou jok?

Genieve ·

Hy lieg sonder om die waarheid te praat moenie hom so los nie hy kom weg met moord

marous ·

Patetiese spul “vind die wiel sewe honderd keer uit op belastingbetalers se rekening en ontken daarna alles “

Pinkie ·

So vir eie gewin het hy nog ‘n spyker in SA se doodskis geslaan. Wanneer gaan hulle ophou om hul mag te misbruik? En met die komende verkiesing stem die meerderheid burgers weer vir dié mense???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.