Gigaba oortree etiese kode met Guptas – OB

Malusi Gigaba, voormalige minister van binnelandse sake. (Foto: ANA)

Die Openbare Beskermer (OB) het bevind dat Malusi Gigaba, voormalige minister van onderskeidelik finansies en binnelandse sake, die parlement se etiese kode oortree en wanvoorstellings aan die parlement gemaak het nadat hy burgerskap aan die berugte Gupta-broers toegeken het.

Die OB het Maandag die bevindinge van ʼn reeks ondersoeke, waaronder dié van Gigaba se optrede met betrekking tot die Guptas, bekendgemaak. Die ondersoek is gelas nadat die OB twee klagtes ontvang het wat beweer dat Gigaba die etiese kode vir uitvoerende lede, asook die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap oortree het.

Die eerste klagte het daaroor gehandel dat Gigaba versuim het om die parlement behoorlik in te lig dat hy aan Atul en Ajay Gupta tussen 2014 en 2017 burgerskap toegeken het, terwyl hy die minister van buitelandse sake was. Só het hy die etiese kode van uitvoerende beamptes oortree.

Die tweede klagte het aangevoer dat Gigaba die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap oortree het toe hy ten eerste “vervroegde burgerskap” aan die Guptas toegeken het. Floyd Shivambu van die EFF, wat die tweede klagte ingedien het, het aangevoer dat Gigaba tydens ʼn mediakonferensie op 6 Maart 2018 “verdere versinsels en oneerlikhede oor die Guptas se burgerskapstatus versprei het, toe hy lede van die media ingelig het dat Atul en Ajay Gupta nie Suid-Afrikaanse burgerskap geniet nie”.

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

“Die Openbare Beskermer het bevind dat Gigaba wel die etiese kode oortree het deur vervroegde burgerskap aan die Guptas toe te ken, sonder om behoorlik seker te maak dat daar wel buitengewone omstandighede bestaan om dié burgerskap te regverdig,” lui die verklaring vanaf die OB se kantoor. “Mnr. Gigaba het ook erken dat hy versuim het om jaarliks die name van persone aan wie burgerskap in buitengewone omstandighede toegeken is aan die parlement te verskaf, soos die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap bepaal.”

Die OB het verder bevind dat Gigaba “feite wanvoorgestel het” tydens die mediakonferensie van 6 Maart 2018, toe hy beweer het die betrokke Guptas is nie Suid-Afrikaanse burgers nie. “Hoewel Gigaba sy fout in ʼn mediakonferensie die volgende dag erken het, het hy lede van die publiek se vertroue in hom geskend.”

Die OB sê aangesien Gigaba reeds in 2018 as minister van binnelandse sake bedank het, word geen aanbevelings vir regstellende stappe gemaak nie. Die huidige minister van binnelandse sake word wel versoek om kennis van die bevindinge te neem. “Hy moet ook stappe doen om te verseker dat dié misstappe nie herhaal word nie.” Dit sluit in die daarstel van ʼn raamwerk wat uiteensit presies wat die “buitengewone omstandighede” behels waarvolgens vervroegde burgerskap in Suid-Afrika aan iemand toegeken mag word.

Die OB stel ook voor dat die direkteur-generaal van binnelandse sake stappe doen teen beamptes binne die departement wat betrokke was by die proses om burgerskap aan lede van die Gupta-familie toe te ken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Smirre ·

en daar gaan vir jare niks gebeur nie, want die cANCer moet hulle kamerade beskerm.

Anel ·

Slaan hulle aan vir belasting en kanselleer dan hul burgerskap.

MakersMark ·

Kan die pinkienaal se oppervlakte dalk enige verband hou met die kraniale volume ?

Jr ·

Ahjaa jaa gee Makersmark ‘n dubbel Bell’ s – maar voor 5 uur vanmiddag

Johann ·

En? Verslag na verslag na kommisie na ondersoek na bevinding….tra la la…onaantasbaar! Seker nie gedink hy en sy soort het nie seker gemaak hulle gaan NIKS oorkom AS hulle uitgevang word nie?

JohanR ·

My gooiste daar was al ANC gemors in 26 jaar! Onthou toe die ou hom soos ‘n vlieënier aan getrek het vir ‘n opening van parlement?

MakersMark ·

Presies wonder of hy ‘n vlieër in die lug kan hou…..

Dirk ·

“Die OB sê aangesien Gigaba reeds in 2018 as minister van binnelandse sake bedank het, word geen aanbevelings vir regstellende stappe gemaak nie.” – so waarom dan nog hieroor praat as daar niks van gaan kom nie… Net nog geld gemors met ‘n “ondersoek”! Watter voordele kry hy nog as voormalige minister??

Suzette ·

As dit nou ‘n persoon van die minderheidsgroep was sou hulle verseker nie niks daaromtrent gedoen het nie.
Die spul se hele wese is korrup en hulle niks oor nie – so hulle sal nie ophou daarmee nie.

Genis ·

Spieeltjie , spieeltjie aan die wand, is daar een ANC Kader wat nie skelm is in die land? Ek sou daai vingertjie kort by die palm afbreek…arrogante Zuma Kader

Steffie ·

Feit: Gigaba was nooit minister van Buitelandse sake nie, wel Binnelandse sake. As hy minister van Buitelandse sake was, sou hy nooit burgers kan kon toeken nie.

Jakes ·

Miskien nou n tyd om n boek te skryf met die naam “’50 shaisters of the ANC.”

My siening ·

Een krimineel jag die ander anc kaders jul is so belaglik. Kan julle DEMOKRASIE spel anc?

Jaco ·

Kan Binnelandse Sake asseblief ook vinnig en sonder enige redes my SA burgerskap van my af wegneem, want so graag soos wat die Guptas SA toe wou kom om hier nog ryker te word, net so graag is ek bereid om dié anti-wit land te verlaat en van vooraf met niks te begin in ‘n ander land waar daar nie allerhande diskriminasie is nie.

Daniel ·

Soveel tyd spandeer aan die ondersoek maar ons weet nie een van die korruptes gaan ooit agter tralies opeindig.
Hulle kan maar ophou met die ondersoeke?

Jacobus ·

Hoeveel nuwe tegnologieë gaan ons bedink om diefstal, omkopery, bedrog mee te beskryf.

Lian ·

Dit slaan my dronk: Sy is op die rooi mat oor haar gedrag , maar sal nog steeds voortgaan om die groot visse te beskerm. ek kan net my kop skud

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.