Gigaba se geloofwaardigheid getoets in mini-begrotingsrede

malusi-gigaba-minister-van-binnelandse-sake

Malusi Gigaba, minister van finansies. (Maart 2017) (Foto: GCIS)

  • Gigaba lewer op 25 Oktober sy eerste mediumtermyn-begrotingsrede
  • Hy sal na verwagting die regering se lae inkomstevlakke aanraak
  • Daar sal ook gefokus word op staatsbeheerde ondernemings se voortslepende finansiële stryd

Malusi Gigaba lewer Woensdag sy eerste mini-begrotingstoespraak as minister van finansies en kenners reken daar is groot druk op hom om sy geloofwaardigheid te bewys.

Die mediumtermyn-begrotingsraamwerk, wat ook die mini-begroting genoem word, sal Gigaba se planne rakende verdere staatsuitgawes skets en ekonomiese groeivoorspellings bevat.

Gigaba se mini-begroting word gelewer te midde van swak ekonomiese groei en in ʼn polities gelaaide omgewing op die rug van bewerings van korrupsie en staatskaping wat beleggers ontsenu het.

Kredietgraderingsagentskappe is veral bekommerd oor politieke vooruitsigte met die aanloop tot die ANC se leierskapkonferensie in Desember waar ʼn opvolger vir pres. Jacob Zuma verkies moet word. Die nuut verkose leier sal ook die ANC tot die nasionale verkiesing in 2019 aanvoer.

Gigaba, wat al ander belangrike ministeriële poste beklee het, waaronder binnelandse sake, en wat blykbaar ʼn Zuma-gunsteling is, is in Maart aangestel om die tesourie te lei. Hy het Gordhan vervang wat ʼn voorstander daarvan was om staatsbesteding in te perk.

Ekonome verwag Gigaba sal kommer oor die staat se lae inkomstevlakke aanspreek wanneer hy aankondig wat die volgende drie jaar se prioriteite vir staatsbesteding sal wees.

ʼn Reuters-peiling het bevind dat swak vlakke van belastinginkomste die 2017-’18-begrotingstekort tot 3,9% van BBP kan druk nadat daar in Februarie geskat is dit sal 3,1% wees.

“Ná die kabinetskommeling in Maart is 25 Oktober ʼn groot dag vir die minister van finansies. Hy sal hopelik baie onsekerhede betreffende sy fiskale wêreldbeskouing opklaar. Gigaba se geloofwaardigheid sal in die balans hang as hy te veel steun op “anonieme” inkomstestygings en die groeivooruitsigte oorskat,” het Peter Attard Montalto, ʼn ontleder verbonde aan die finansiële maatskappy Nomura, gesê.

Gigaba het maar ʼn betreklik koue verwelkoming van die finansiële wêreld ná sy aanstelling in Maart ontvang. Finansiële markte het gevrees sy aanstelling sou ʼn laksheid rondom die begroting beteken. Kredietgraderingsagentskappe het kort daarna aangekondig dat Suid-Afrika se skuld afgegradeer word.

Jeff Schultz, ekonoom van BNP Paribas Suid-Afrika, het gesê Gigaba het ʼn groot taak wat wag as hy beplan om ʼn geloofwaardige mini-begroting voor te lê.

“Graderingsagentskappe het reeds hulle standpunt duidelik gemaak. Die toekoms van die land se beleggingsgraad-gradering berus op Gigaba se vermoë om by die breë status quo te hou wat deur sy voorganger in Februarie se begrotingsrede vasgestel is,” het Schultz gesê.

Suid-Afrika het in die tweede kwartaal uit ʼn resessie getree, maar die ekonomiese groei bly swak met ʼn BBP van slegs 0,6% wat deur die Reserwebank voorspel word.

Die kredietgraderingsagentskappe Fitch en S&P Global het Suid-Afrika se skuld op buitelandse valuta na rommelstatus afgegradeer. Fitch het ook die land se plaaslike geldeenheidskuld rommelstatus gegee.

Moody’s se gradering is tans een vlak bo ʼn spekulatiewe graad vir die land se skuld op sowel buitelandse as plaaslike valuta.

S&P en Moody’s sal Suid-Afrika se kredietgraderings weer in November vanjaar hersien. Fitch het egter nie sy oorsigkalender vir Suid-Afrika gepubliseer nie.

Daar sal ook groot belangstelling wees in hoe Gigaba beplan om die finansies van sukkelende staatsbeheerde ondernemings soos Suid-Afrikaanse Lugrederye (SAL) te versterk. Die kredietgraderingsagentskappe het hierdie ondernemings uitgelig as een van die probleme wat die plaaslike ekonomie tans in die gesig staar.

Die tesourie het SAL verlede maand vir ʼn tweede keer vanjaar van ʼn finansiële inspuiting vanuit die staatskas voorsien, wat tot skerp kritiek van verskeie opposisiepartye gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Kan n fontein brak en vars water gee, kan n boom goeie en slegte vrugte dra?

Synde n Zuma adjudant te wees, kan een van twee goed gebeur, n goeie begroting ten einde die krediet graderingsagentskappe op n afstand te hou en dan met sy paralelle personeel in die Tesourie die Zuma begroting in die geheim na te volg, of n openlike navolging van staatskaping. Die reuse amptenary se salarisrekening, semi staatsinstellings en hoe die tekort aangespreek gaan word asook die
Russiese kernkragaanleg moet aandag en sekerheid kry. Vaagheid hieroor asook hoe die tekort aan staatsuitgawe gefinansier gaan word, is moeilikheid soek. Die kwynende belastingpoel gaan belastigverhogings tot gevolg hê.

Gigaba is heeltemal te lig vir die perd.

Cherokee ·

Behoort nie te moeilik te wees nie; die Guptas kan tog leiding gee.

De Villiers ·

Ek wonder of hy ook sy aandeel in die land se lae kredietwaardigheid en sakevertroue sal uitwys vir die feit dat hy die Guptas op omstrede wyse burgerskap die land toegesê het toe hy nog minister van Binnelandse Sake was.

zoom zoom ·

Tussrn zuma guptas china en rusland behoort die gigaba net te lees wat boor hom is want tussen hulle het hulle die dokumenr opgestel pm sekere kaders te pas en om in goeie voer te wees met die wat zumas reeds ingeprop het. Nou is dit pay back time en ons die belasting betaler gaan gemelk word.

Lientjie ·

Dit wat hy op papier sit en dat wat hulle toe pas verskil soos dag by nag!

Lance ·

Wonder wanneer gaan daar finansiele druk van die lande soos Indie,Brazilie en China begin.Dit begin terugbetaal tyd raak,soos wat dit met Rusland die geval is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.