Gigaba se probleme nie verby ná bedanking

Malusi Gigaba, gewese minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

Politieke partye dwarsoor die spektrum verwelkom die bedanking van Malusi Gigaba as minister van binnelandse sake, maar minstens twee waarsku dit mag nie as vrypas teen strafregtelike vervolging dien nie, terwyl die ANC hom loof vir sy onselfsugtige optrede.

Gigaba het Dinsdag sy bedankingsbrief aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig, ʼn dag voordat die president gehoor sou moes gee aan ʼn opdrag van die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, om teen Gigaba op te tree nadat die hooggeregshof in Pretoria beslis het hy het onder eed gelieg.

Gigaba, wat onlangs ook onder skoot gekom het nadat ʼn seksvideo van hom wyd in die sosiale media versprei is, het in sy bedankingsbrief gesê hy lê die amp neer ter wille van die land en die beweging waaraan hy behoort.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, loof Gigaba dat hy “in landsbelang” bedank het. Foto: Facebook

Die ANC, by monde van sy nasionale woordvoeder Pule Mabe, meen Gigaba se “gebaar sal die integriteit en waardes van die beweging help herstel” en sê hy “het die besluit ná samesprekings met die president geneem”.

Die party loof hom dat hy “waarlik in die gees van die 54ste ANC- nasionale konferensie opgetree het toe ʼn beroep op kaders van die ANC gedoen is om deurgaans die beweging en die land” se belange bo hul eie te stel.

Ons loof kameraad Malusi daarvoor dat hy die revolusie bo homself gekies het.

Die ANC beskryf Gigaba se besluit “as ʼn teken van die toenemende volwassenheid van ons demokrasie en van leierskap wat bereid is om die land voor hul individuele situasie te stel”.

Mabe voeg egter by Gigaba se bedanking moenie as ʼn skulderkenning beskou word nie, maar “sal genoeg tyd en ruimte toelaat om na te dink en aandag te skenk aan die huidige uitdagings”.

“Ons loof kameraad Malusi daarvoor dat hy die revolusie bo homself gekies het. [Hy] bly ʼn toegewyde en gedissiplineerde lid van die ANC, wat tans in die nasionale uitvoerende komitee dien.”

‘Bedanking mag hom nie red nie’

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, sê Gigaba se bedank mag hom nie “rd van sy wandade nie”. Foto: Twitter

Die amptelike opposisie is bly Gigaba het bedank en beskryf hom by monde van die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, as “ʼn produk van die stelsel van korrupsie binne die ANC wat Suid-Afrikaners steeds onderdruk”.

Steenhuisen sê Gigaba se bedanking mag hom nie “red van sy wandade nie”, soos toe hy onder eed gelieg het met betrekking tot die aansoek van Fireblade Aviation om ʼn terminaal op die OR Tambo- internasionale lughawe te bedryf.

“Ons het reeds kriminele klagte van meineed teen mnr. Gigaba aanhangig gemaak en sal volhard met daardie klagte om te verseker dat reg en regtigheid geskied.

“Die DA sal nie ons regsoptrede laat vaar om die aanstelling deur pres. Ramaphosa van Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini as ministers onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar nie,” sê Steenhuisen. “Ons regspan het die hooggeregshof in Pretoria op 23 Oktober genader en ons kan bevestig dat die saak op 11 Maart aanstaande jaar sal voorkom.”

Die ANC se alliansievennoot, die SAKP, verwelkom ook Gigaba se besluit in ʼn verklaring van net twee paragrawe, waarvan meer as die helfte ʼn aanhaling uit die minister se bedankingsbrief is. Alex Mohubetswane Mashilo, nasionale woordvoerder, sê: “Al die omstandighede in ag genome, loof ons hom vir sy besluit, en verwelkom veral die redes wat hy daarvoor aangevoer het.”

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê Gigaba is “’n leuenaar” en “’n Gupta-handlanger”. Foto: Facebook

Die EFF se nasionale woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, bestempel Gigaba as ʼn “leuenaar” en “ʼn oneerbare openbare verteenwoordiger” weens sy “hardkoppigheid om in die amp aan te bly ondanks die onweerlegbare bewyse teen hom rakende die Fireblade Aviation-sage en sy blatante minagting van die oppergesag van die reg”. Sy optrede het dit volgens die EFF duidelik gemaak dat hy nie landsbelang op die hart dra nie.

Hy het seker gemaak die Guptas kry burgerskap van Suid-Afrika en het hulle gehelp om vir transaksies met staatsbeheerde instellings in aanmerking te kom.

“Malusi Gigaba was ’n Gupta-handlanger,” meen die EFF, “wat die enjin van staatskaping onder [oudpres.] Jacob Zuma was. Hy het seker gemaak dat die Guptas burgerskap van Suid-Afrika kry en hulle gehelp om vir transaksies met staatsbeheerde instellings in aanmerking te kom. Strykdeur sy ministerskap was Malusi Gigaba ʼn skande, korrup en onpatrioties.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, is bly Gigaba “was bereid om self op sy swaard te val”. Foto: VF Plus

Die VF Plus dring daarop aan dat Gigaba steeds vir meineed en sy betrokkenheid by staatskaping vervolg word, sê die partyleier, dr. Pieter Groenewald.

“Dié verwikkeling bied ʼn welkome uitkoms vir pres. Ramaphosa,” meen Groenewald, “maar dit verander niks aan die saak dat die president nie bereid was om ʼn minister af te dank wat volgens die openbare beskermer doelbewus onder eed in die hooggeregshof gejok het nie.”

Die VF Plus kritiseer Ramaphosa daarvoor dat hy nie bereid was om tugstappe teen Gigaba te doen nie. “Pres. Ramaphosa kan nou wys dat hy bereid is om daadwerklik op te tree deur van Bathabile Dlamini ontslae te raak. Ook in haar geval het die Grondwethof bevind dat van haar verklarings voor die hof vals was en dat sy vals mondelinge getuienis voor die Sassa-kommissie afgelê het.”

Groenewald sê al het Gigaba eers ná groot openbare druk bedank, “verwelkom die VF Plus steeds die feit dat hy soos Nhanhla Nene bereid was om self in sy swaard te val. Dit sal hopelik die druk vergroot op ander amptenare wat by staatskaping betrokke was, om dié voorbeeld te volg.”

Ook die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) is bly oor Gigaba se bedanking. “Sy ampstyd as minister is gekenmerk deur skandale en omstredenheid wat nie pas by ʼn staatsamptenaar wat vertrou word om die hoogste standaard van etiese optrede te handhaaf nie,” sê Ivan Fredericks, die PSA se algemene bestuurder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

1+1 ·

Die saak raak nou vir die gewone man op straat baie ingewikkeld. As ‘n persoon oneervol uit sy pos bedank en hy word deur mense in hoe politieke posisies steeds opgehemel om die oneervolheid in watte toe te draai, dan is daar ‘n baie groot en lang skroef los. Gaan dit oor kultuurverskille?. Moontlik sal ‘n volkekundige hierdie vraag kan beantwoord. (Antropoloog)

Dries ·

Sal dit ni n heuglike dag wees wanneer n ‘gesiene amptenaar’, uiteindelik in n hof verskyn, om die gevolge van sy optrede/bestuur, te dra ni?

Henk ·

As gigaba enige integriteit gehad het sou hy die politiek verlaat het die oomblik wat hy met die zuptas geassosieer het!

SjN ·

Ek sien sy bedanking as n skuld erkenning by al die ongeruimhede waarby hy betrokke was, mag geregtigheid seevier en hy beveel word om sy snyerpakkie te vervang met n oranje tronk oorpak.

HESTER ·

Hy het slegs bedank n dag voor die tyd omdat hy nie sy oneerlikheid in die hof sou kon verdedig nie asook gevolg van sy video. Indien dit nie uitgekom het nie , het hy steeds bly klou aan sy posisie

Donker Mamba ·

Vreeslike ding op daardie greep van hom. Gedrag van ‘n minister? Skaam jou Maloesie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.