Gigaba stel nie sy kant voor komitee

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake (Foto: Cindy Waxa/ANA)

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, het met sy verskyning voor die portefeuljekomitee oor binnelandse sake nie van die geleentheid gebruik gemaak om sy kant van die saak te stel nie.

Gigaba, wat gister om verskoning gevra het vir die onaangename vingertekens wat hy in die rigting van die EFF-LP, dr. Mbuyiseni Ndlozi, gemaak het, is hoegenaamd nie getoets deur sy ANC-kollegas in die portefeuljekomitee nie, tot die frustrasie van opposisielede.

Haniff Hoosen, DA-LP, het sy bes gedoen, maar sy vrae is deur die ANC gestuit. Die ondervraging van Gigaba het gister kort ná 17:00 begin en sogenaamd vir ʼn paar uur aangehou, maar eintlik het dit nie, want hy het tyd verspil deur oor allerlei beuselagtighede uit te wei eerder as om sy meineed en ondergrawing van die Grondwet te verklaar.

En toe besluit die ANC-LP’s ewe skielik dis nou genoeg. Beauty Dambuza, ANC-LP, het gesê: “Ek dink nie ons moet hom verder pla nie.” Maesela Kekana, nog ʼn ANC-LP, het bygevoeg: “Ja, laat hom gaan rus.”

So voor die hand liggend was dit dat geen poging aangewend word om Gigaba onder druk te plaas nie dat Patrick Chauke, ANC-LP en komiteevoorsitter, amptelik ontken het dis die geval.

Dit beteken die ANC-LP’s bied geen hulp aan pres. Cyril Ramaphosa indien hy van Gigaba ontslae wil raak uit die kabinet nie. Op daardie morele punt staan Ramaphosa geïsoleerd in die ANC.

Die komitee het vroeër gesê hy wil hê Gigaba moet die departement se siening oor die toestaan van toestemming vir die bedryf van ʼn private terminaal by die OR Tambo Internasionale Lughawe kom verduidelik.

Die komitee het by verskeie geleenthede al die kwessie met die departement bespreek. Chauke het vroeër gesê die bedryf van ʼn private terminaal moet gedoen word met ʼn duidelike ooreenkoms wat rolle en verantwoordelikhede uiteensit en die belastingbetalers se geld beskerm.

Dit volg nadat die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, beslis het Gigaba het die Grondwet en die kabinet se etiese kode oortree. Regter Neil Tuchten het op 17 Desember in die hooggeregshof in Pretoria beslis dat Gigaba gelieg het in die saak rakende die Oppenheimer-familie se Fireblade Aviation. Die konstitusionele hof het Gigaba se aansoek om te appelleer teen die hooggeregshof se bevinding van die hand gewys.

“Die openbare beskermer se bevindinge en die konstitusionele hof se bevinding trek egter die toelaatbaarheid van inligting wat die departement voorheen aan die komitee voorgelê het in twyfel. Die vergadering volgende week is om die departement se huidige siening oor die saak te bepaal,” het Chauke vroeër gesê.

Die DA het intussen ʼn hofaansoek ingedien wat op 11 Maart aangehoor sal word om Gigaba se aanstelling in die kabinet deur die Noord-Gautengse hooggeregshof ongeldig te laat verklaar op grond daarvan dat dit nie rasioneel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elsa ·

Hy het nie n kant van die saak om te stel nie. So laat hom rus- permanent by die huis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.