Gilde maak kapsie oor Hlophe se direktief

Argieffoto (Foto: Daniel Bone/Pixabay)

Solidariteit se Regsgilde het Woensdagoggend ʼn aanmaning aan die kantoor van die regterpresident van die Wes-Kaapse hooggeregshof, regter John Hlophe, gestuur en geëis dat sy direktief oor die transkripsie van hofverrigtinge teruggetrek word.

In die direktief, gedateer 6 September, bepaal regter Hlophe dat die transkripsie van hofverrigtinge en rekords onnodig en ’n verkwisting van fondse is. Hy vereis dat regters en regspraktisyns eerder volledige notas in Engels gedurende die hofverrigtinge moet neem, wat dan as deel van die hofrekord beskikbaar gestel moet word.

“Ons is geskok oor die direktief van regter Hlophe,” sê Henru Krüger, sektorhoof van die Professionele gilde by Solidariteit. “Hy het geen gesag om dit uit te reik nie en ons bevraagteken sy siening dat een van die belangrikste prosesse in die hof as onnodig en ’n vermorsing van geld beskryf kan word. Sy optrede is onreëlmatig en die direktief moet onmiddellik teruggetrek word.”

Volgens Solidariteit skep hierdie direktief verskeie probleme veral met betrekking tot die neem van notas deur regters en regspraktisyns. Solidariteit voer verder aan dat die korrekte prosedures ingevolge die Wet nie gevolg is nie en dat die direktiewe nie in die Staatskoerant gepubliseer is, en belanghebbendes nie gekonsulteer is nie. Daar word van hom versoek om bewyse hiervan te lewer.

“Die Regsgilde is daartoe verbind om die integriteit van die regsberoep te beskerm en ten alle tye in die beste belang van ons lede op te tree. Ons sal nie toelaat dat regters en ander praktisyns aan onreëlmatige direktiewe onderwerp word nie,” het Krüger bygevoeg. Lees die aanmaning hier.

Die kantoor van die hoofregter het intussen Woensdag reageer op ʼn vervalste direktief, glo ook van Hlophe, wat die ronde doen op sosiale media. Krüger het bevestig bogenoemde direktief is beslis deur Hlophe uitgereik en ʼn tweede direktief is die vervalste weergawe.

Volgens die vervalste direktief moet maatreëls ingestel word om die leesbaarheid van handgeskrewe notas te verbeter.

“Die direktief is nie deur regterpresident Hlophe uitgereik nie,” het die hoofregter se kantoor in ʼn verklaring gesê. “Die outeurs se doel met dié bedrieglike direktief is nie duidelik nie, maar die publiek word gemaan dat die gebruik van enigiemand se handtekening ʼn ernstige oortreding is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie J ·

Onwillekeurig kom die vraag op “is die man van sy sinne beroof?’ Dan kom die antwoord ook skielik na vore. ‘Die man is van sy sinne beroof!’

Winnie ·

Die man bly ook maar omstrede net soos daai ernstige siek krimineel wat op die voorblaaie pryk

Richard ·

Wanneer gaan die land ontslae wees van hierdie useless mens?

Di ·

Daar is baie mense in hierdie lewe waarvan mens maar net nie ontslae kan raak nie – kyk maar na vorige Zimbabwe se President

Andries ·

Regstudente. maak op hofverslae staat in hulle studies. Dieselfde geld vir regspraktisyns wat vorige uitsprake oor soortgelyke sake naslaan. Nou wat nou, of lees ek dit verkeerd.

Samuel ·

Hlophe is ook altyd vir die verkeerde redes in die nuus. Wanneer word hy afgedank?

Riana ·

Moes hy nie al van die rol geskrap gewees het nie…. Maak besluite en doen dinge soos MNR Fraser net so voor hy geboot moet word , waarmee res van SA dan moet saam leef….nee man

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.