Gilde vir maatskaplike werkers eis duidelikheid oor skenkings

’n Skenking van kos word verwerk en versprei. (Argieffoto.)

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers het Donderdag daarop aangedring dat die departement van maatskaplike ontwikkeling duidelikheid moet kry in die vorm van skriftelike regulasies oor die verspreiding van kos aan behoeftiges.

Dit volg ná die afgelope week se geweldige onsekerheid by nieregeringsorganisasies oor verspreiding van kospakkies.

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling het verlede week in ’n mediaverklaring gesê dat hulle voortaan die verspreiding van kos vanaf ’n sentrale punt in Johannesburg sal hanteer. Die mediaverklaring het, onder meer, gesê dat die verspreiding van skenkings begunstigdes van die departement se databasis moet insluit, dat verspreiding in samewerking met die departement gedoen moet word, en dat organisasies vir elke skenking ‘n permit moet aanvra, 48 uur voordat dit versprei word.

Dinsdag het die woordvoerder van dié departement Thabiso Hlongwane aan die media gesê dat dit glad nie hul bedoeling was nie. Volgens hom is die departement slegs bekommerd oor die gehalte van die produkte wat versprei word, en die hantering van verspreiding veral as dit by die handhawing van sosiale afstand kom. Hulle eis dat daar aan alle gesondheidswetgewing voldoen moet word met die verspreiding van kos en dat organisasies die nodige permitte het. Die probleem is egter dat organisasies, onder meer, vir elke skenking ‘n permit moet aanvra.

Volgens Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, is dit heeltemal teenproduktief.

“Die kosnood in Suid-Afrika is enorm en ons maatskaplike werkers en niewinsgewende organisasies staan aan die voortou van hierdie hongerverligting. Dis elke Suid-Afrikaner se grondwetlike reg om oorlewingsmiddele te ontvang en op hierdie stadium is die onduidelikheid van riglyne en teenstrydige kommunikasie wat uitgaan, besig om struikelblokke vir honger te word.”

(Foto: Helpende Hand/Facebook)

Engelbrecht meen geregistreerde organisasies het reeds die nodige goedkeuring en toestemming om kos te versprei en dit is heeltemal teenproduktief om nou van hulle te verwag om heraansoek te doen vir nuwe permitte vir elke skenking wat afgelewer word.

“Baie van hierdie organisasies maak ook van vrywilligers gebruik wat op eie kostes die verspreiding hanteer. Ons moet hierdie mense eerder aanmoedig om voort te gaan, as om hulle met onbenullige papierwerk te belas,” het sy bygevoeg.

Sy het ook aangevoer dat daar geen manier is wat die departement alleen die verspreiding van skenkings na alle behoeftiges kan hanteer nie.

“Die departement skep tans slegs verwarring en vervreem organisasies wat reeds jare lank in noodverligting betrokke is.

“Dit is nie slegs geregistreerde niewinsgewende organisasies wat skielik twyfel oor hoe en wat hulle mag versprei nie, dis skole, kerke en privaat persone. Die departement se lukrake mediaverklarings is onduidelik en daar word geen behoorlike riglyne gepubliseer nie. Die regering moenie die impak van gemeenskapsorganisasies onderskat in hierdie tyd in noodverligting nie,” sê sy.

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers staan bankvas agter ons susterorganisasies Solidariteit Helpende Hand en SAAI, die landbou-organisasie vir familieboere.

Engelbrecht het benadruk dat hierdie organisasies, en ander soos hulle, juis bemagtig en sterker gemaak moet word.

“Die laaste ding wat hulle kort, is dat die regering ʼn swaar regulatoriese juk nou bo-op hulle plaas. Ons kan nie onder sulke krisisomstandighede toelaat dat die regering ʼn meulsteen om vrywilligers en passievolle maatskaplike werkers se nekke wees nie,” sluit Engelbrecht af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacobus ·

Mr Hlongwane, weet jy hoe lank 48 uur is vir ‘n honger persoon?

Jaco ·

kom lewer gerus in my woonbuurt af. hiers geen patrollies deur die weermag en polisie nie. kinders speel sokker in die park, mense loop rond, bitter min dra maskers. julle sal maklik die armes hier kan help en g’n haan sal daarna kraai nie.

Michael 1 ·

Skrap daardie woord skenking en vervang hom met verkoop of verruil dan het die regering nie n voet om op te staan nie maar die hulpbehoewendes kry ten minste voedsel hulp.

Sarel ·

Geen hulp kan van Buiteland verwag word nie want in enige ander land sal Sentralisering van hulpbronne werk. Ongelukkig is Korrupsie en Diefstal vannhulpbronne priotiteitvin SA. Jy sal dit egter nie weet as jy nie self hier bly nie..

Nico ·

Wanneer word daar gewys dat die wit plakkerskampe kos pakkies onvang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.