Gill Packham-moord: ‘Ek mis my suster elke dag’

Gill Packham. (Foto: Verskaf)

“Dit raak nie makliker nie, jy leer net hoe om daarmee saam te leef.”

Só het Helen Humphrey, die jonger suster van die vermoorde Gill Packham, vandeesweek vanuit die VSA aan Maroela Media gesê.

Hoewel sy nie namens die hele familie wou praat nie, het Humphrey gesê dat sy vier jaar later steeds met talle vrae oor Gill se moord worstel. Sy is boonop spyt dat sy nie destyds meer kon doen om haar suster uit haar ongelukkige huwelik te help nie.

“My grootste berou is dat ek nooit vir haar gesê het om uit die situasie te kom en dat ons haar sal help nie. Ons het egter nie in daardie stadium geweet waardeur sy werklik gaan nie. Ek voel dat baie van die mense na aan haar – soos die mense wat [ten tyde van die moord] in Kaapstad gewoon het – haar gefaal het.”

Gill is in Februarie 2018 wreed deur haar man, Rob, in Constantia in die Wes-Kaap vermoor. Die hooggeregshof in Kaapstad het hom op 12 Junie 2019 tot 20 jaar tronkstraf vir die moord en vier jaar tronkstraf vir regsverydeling gevonnis.

Gill Packham. (Foto: Verskaf)

Die hof het bevind dat Rob sy vrou, met wie hy langer as 30 jaar getroud was, vermoor het deur haar met ʼn stomp voorwerp oor die kop te slaan. Hy het later haar liggaam in die kattebak van haar motor gelaai en dié BMW by die Dieprivierstasie in Kaapstad aan die brand gesteek.

Die voormalige sakeman het tot vandag toe nie skuld op die moord beken nie. Sy laaste poging om verlof tot appèl te kry is egter in Augustus verlede jaar deur die Konstitusionele Hof verwerp.

Die egpaar se dogters, Kerry Meyer en Nicola Bryant, het hul pa deurentyd bygestaan en by die hof gepleit om hom nie vir altyd tronk toe te stuur nie.

Humphrey sê dit het ʼn reuseskeuring in die familie veroorsaak wat steeds nie herstel is nie. Sy het ook nie meer enige kontak met haar susterskinders nie.

“Dit bly hul keuse om hulle by Rob te skaar. Hulle het gekies om te glo wat hulle glo, en dit het wesenlik teen dit wat ék glo gebeur het, ingedruis.”

Sue Humphrey en haar suster, Gill Packham. (Foto: Verskaf)

Humphrey sê sy het uit die staanspoor vermoed dat Rob by haar suster se moord betrokke was. Sy het egter eers ná Gill se moord besef hoe ernstig die probleme in hul huwelik was en hoe lank dit al aangegaan het. Sy glo daar is steeds baie inligting wat nie tydens die verhoor óf daarna onthul is nie, onder meer in ʼn poging om Rob te beskerm.

“Daar is nog so baie vrae wat by ons spook. Ek dink nie ons sal ooit werklik antwoorde daarop kry of verstaan waarom Gill vermoor is nie. Ons kan raai, maar sal nooit werklik weet nie.”

Die sussies het mekaar in 2012 laas gesien toe Humphrey Suid-Afrika besoek het. Hulle het egter byna elke dag met mekaar op WhatsApp gepraat.

“Ons het geweet daar is probleme, en ek het gereeld by haar ingeloer om te hoor hoe dit gaan. Sy het egter nooit breedvoerig oor die probleme uitgewei nie en ook gesê dat sy vir berading gaan.”

Humphrey sê die susters het beplan om later in 2018 ’n groot samekoms in Suid-Afrika te hou wanneer hulle Kerry se troue sou bywoon. Min het sy geweet dat sy haar suster nooit weer sou sien nie en dat hul familie in twee geskeur sou word.

Gill Packham in haar jonger dae. (Foto: Verskaf)

“Ek mis haar. Ek mis ook die konneksie wat daar tussen ons vyf sussies was. Ons het so baie van ons lewe met mekaar op WhatsApp gedeel – dit was ons skakel met mekaar aangesien almal ver van mekaar gewoon het. Daai band is ons ontneem.”

Humphrey sê sy sal Gill se gawe om enigiets in iets moois en spesiaal te omskep, altyd onthou.

Hul ander suster, Sue Humphrey, sê Gill was ʼn toegewyde en uiters lojale mens.

Sy sê sy en Gill het van kleins af ʼn hegte band gehad en dat hulle baie belangstellings gedeel het. Sy en Gill was ook die enigste van die vyf sussies wat in Suid-Afrika gewoon het.

“Mense sê tyd genees, maar ek stem nie saam nie. Veral in die geval van so ʼn tragedie. Niks kan ʼn mens op so iets voorberei nie.

“Ek mis haar elke dag.”

Sue sê hulle is van ʼn toekoms saam met hul suster beroof – op die wreedste manier denkbaar.

Rob en Gill Packham. (Foto: Facebook)

“Sy het altyd deur alles by Rob gestaan, en dis wat sy daarvoor gekry het. Dis so onregverdig.”

Humphrey en Sue het kort ná Gill se moord ʼn Facebook-blad vir hul suster gestig.

Met dié Facebook-blad wou die sussies op ʼn manier ʼn verskil maak en opnuut bewusmaking oor geslagsgebaseerde geweld kweek. Hulle wou dit ook as ʼn platform gebruik waarop inligting oor die saak gedeel kan word om ten einde geregtigheid vir Gill te verseker.

Maroela Media het ʼn navraag aan Gill se dogter, Nicola, op Facebook gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Verbysterend om te dink dat ‘n man planne kan beraam om sy vrou uit die weg te ruim, en hy’s nie die enigste een nie. Ek wonder darem wat in so ou se kop aangaan …

Impartial ·

20 jaar vir so gru-moord? Iemand wat van so iets in staat is moet nooit weer die samelewing betree nie. Daar is niks wat n persoon kan doen om so iets te regverdig nie. Mag julle rusting vind met tyd.

Christine ·

Ek het hierdie saak destyds gevolg. Die man het allerlei afwykings gehad en het ‘n dubbele lewe gelei. Dames, as jy dinge van jou man weet wat nie versoenbaar is met jou waardes nie, los die man. Moenie dat geld jou by hom laat bly nie. Jou lewe is baie meer werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.