Gimnasiums spartel op regulasie-trapmeul

gimnasium-gewigte-tekkies-oefen

Ter illustrasie. Foto: Victor Freitas/Pexels.com

Hoewel openbare geriewe soos biblioteke en museums stelselmatig mag heropen, is gimnasiums se deure steeds stewig toegegrendel. Volgens mediaberigte kan tot 80% van alle gimnasiums in Suid-Afrika permanent sluit indien hulle langer toe bly.

Rudolph van der Westhuizen van United Gyms het ’n hofaansoek begin sodat gimnasiums onder streng gesondheidsmaatreëls kan heropen. Dit lyk egter asof die regering nie sommer hul regulasies sal verslap in hul stryd teen Covid-19 nie.

Maar watter invloed het die regulasies op gimnasium-eienaars; veral dié wat aan die stuur van klein  of mediumgrootte oefenplekke is? Van der Westhuizen het juis in sy hofaansoek aangevoer dat hierdie gimnasiums tot 29 000 mense in diens neem.

Laurene Wolfaardt is die eienaar van Swurve Fitness in Pretoria, ’n gimnasium wat gereeld agteroor buig vir sy lede om hul fiksword-avonture te vergemaklik.

Vóór die afsonderingstydperk in Maart aangekondig is, het Swurve met ’n paar honderd lede gespog, maar weens die negatiewe finansiële invloed van Covid-19, het hulle ongeveer 40% van hul lede verloor.

Daarbenewens betaal ongeveer 20% van die oorblywende lede nie hul ledegeld nie. Die meeste kansellasies is weens finansiële druk in die huidige ekonomiese klimaat, terwyl ander weer ontevrede is omdat hulle vir ’n diens moet betaal wat tans (noodgedwonge) nie gelewer kan word nie.

Te midde van die stryd bly Wolfaardt en kie steeds positief. Daar is ’n paar redes wat bydra dat Swurve Fitness finansieel oorleef – daar is nie baie werknemers in diens nie, terwyl die eienaars ook genadiglik ’n tweede bron van inkomste het.

“Tans is daar geen finansiële voordeel aan Swurve Fitness verbonde nie. Ons maak van die lidmaatskapfooie (wat teen ’n afslag betaalbaar is) gebruik om die huur, elektrisiteit en versekering te betaal.

“Ons enigste doelwit is om te verseker dat ons lede ’n gimnasium het om na terug te kom wanneer alles eendag verby is,” het Wolfaardt gesê.

Die gimnasium het in die begin van afsonderingstydperk ’n fiksword-uitdaging begin, terwyl hulle nou daagliks op hul sosialemediaplatform grappies en ander motiveringsboodskappe publiseer; alles in ’n poging om hulle lede moed in te praat.

Maar daar is steeds hope uitdagings. “Die grootste een is om toe te kyk hoe ’n besigheid waaraan jy so hard gewerk het, ten gronde gaan.”

Indien die minister die groen lig gee vir gimnasiums om te heropen, sal Swurve Fitness sommer al môre gereed wees.

“Ons het ’n besprekingssisteem in plek en alle lede moet vooraf hul plek bespreek. Hulle moet ’n vraelys voltooi en slegs lede wat bespreek het, sal in die gimnasium toegelaat word.”

Daarna sal elke lid se temperatuur gemeet en opgeteken word, terwyl handreinigerstasies oral op die perseel beskikbaar is.

“Elke tweede toerustingstasie is afgesper sodat daar aan die sosiale distansiëringsreëls gehoor gegee kan word, terwyl personeellede gereed staan om die gimnasium gereeld deur die loop van ’n dag skoon te maak.”

Wolfaardt-hulle staan met genade en wilskrag nog sterk, maar vir baie gimnasiums is die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande regulasies ’n gewig wat dalk net te swaar is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

En die ANC gee nie ‘n blou duit om nie! Om alle privaat, en veral wit besighede ten gronde te gaan was hulle plan al van die 26de Maart af. It’s known as an “scorched earth” policy. Jy vee alles plat tot op die grond, en dan begin jy weer bou as daar geld is – the Africa way. As daar nie geld is dan vlug al die ANC grootes met die geld land uit! En almal het gedink na Jacob Zuma, dat Cyril Ramaphosa is die Messiahs – hah! Ek het geniet om gym toe te gaan, maar nou gaan stap ek vir soe 90 min elke dag. Is eintlik lekker in die buitelig met die son op jou rug, maar ek sal nog geniet soos voorheen, om elke 2de dag by my gym te kom.

My Mening ·

Ek sal seker nooit die regering se redes verstaan oor hoekom hulle net nie alles kan oopmaak met streng regulasies in plek nie. Mense is besig om te sink, maar ek dink hierdie oomblik van totale beheer is net vir hulle te heerlik om op te gee. SA regering gee nie ‘n duit vir hulle mense om nie, hulle is te besig om hul eie agendas te dryf. Daar moet mos ‘n verskuilde agenda wees as ‘n regering toelaat dat hul land se ekonomie ten gronde gaan.

Pieter ·

Ons gaan nog almal spartel want ons gemoun pla die klomp komuniste net mooi niks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.