Ginekoloog se skuldigbevinding ter syde weens ‘onreëlmatighede’ tydens verhoor

Die konstitusionele hof. (Argieffoto: Ashraf Hendricks)

Die Konstitusionele Hof het beveel dat die saak teen ʼn ginekoloog van Mpumalanga, wat vroeër op aanklag van strafbare manslag in verband met die dood van een van sy pasiënte skuldig bevind is, na die direkteur van openbare vervolging (DOV) terugverwys moet word.

Dr. Danie van der Walt is in September 2016 in die Witbank-streekhof skuldig bevind op die aanklag en vyf jaar tronkstraf opgelê. Die dokter is aangekla ná die dood van een van sy pasiënte, Pamela Daweti (23), toe sy in 2005 in die Life Cosmos-hospitaal in Emalahleni geboorte gegee het. Daweti se baba het oorleef.

Landdros Marlene Greyvenstein het destyds tydens vonnisoplegging gesê Daweti se dood kon verhoed gewees het indien Van der Walt by die hospitaal gebly het om na die pasiënt om te sien. Daweti het gebloei ná die bevalling, maar Van der Walt het die hospitaal verlaat.

Van der Walt het in sy aansoek om appèl aangevoer sy vonnis is “skokkend onvanpas” en die saak het eindelik tot in die Konstitusionele Hof gevorder.

Die ginekoloog dr. Danie van der Walt in die Witbank-streekshof. (Foto: ANA)

In sy aansoek het Van der Walt aangevoer die saak teen hom het berus op die getuienis van drie getuies en ʼn aantal bewyse. Die landdros het egter eers tydens skuldigbevinding uitspraak gelewer oor watter getuienis toelaatbaar was. Van der Walt het aangevoer dit is teenstrydig met sy reg om ten alle tye te weet wat die omvang van die saak teen hom is. Hy het onder meer aangevoer die landdros het haar eie navorsing gedoen en verwys na mediese handboeke waartoe hy nie toegang het nie en die inhoud daarvan gevolglik nie kon betwis nie.

Hy het ook aangevoer hy is aan strafbare manslag skuldig bevind sonder dat daar enige bewyse was dat hy die pasiënt se dood veroorsaak het.

Die Konstitusionele Hof het vandeesweek Van der Walt se skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel, maar gesê die besluit is nié op die meriete van die saak gedoen nie, maar omdat daar onreëlmatighede tydens sy oorspronklike verhoor was.

“Met ander woorde, dit is nie ter syde gestel omdat die aansoeker se skuld nie bo redelike twyfel bewys is nie. Dit is ter syde gestel omdat die streekslanddros onreëlmatighede begaan het wat sodanig was dat dit die aansoeker se reg op ʼn billike verhoor geskend het.

“ʼn Skuldigbevinding in daardie omstandighede kan nie geld nie.”

Die regters het beveel dat die DOV in Mpumalanga nou moet besluit of Van der Walt weer verhoor moet word. Indien wel, moet dit voor ʼn ander streekslanddros gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Gelukkig betaal sy mediese versekering sy regskostes. Ongelukkig kos sy mediese versekering hom om en by R1 miljoen per jaar, en wat hy selfs moet betaal vir 18 jaar nadat hy afgetree het, omrede die wet daarvoor voorsiening maak dat ouers tot op 18 jarige ouderdom van hul kind, van ‘n ginekoloog kan eis.

Pampoen ·

Die dokter het ‘n fout gemaak en gaan daarvoor betaal. Die streeklanddros het ook ‘n fout gemaak. Gaan sy ook betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.