Girokopter-ongeluk: Seun sterf voor ouers hom kon groet

Marco Martino. Foto: Facebook

Marco Martino. Foto: Facebook

Marco Martino, die 23-jarige vlieënier wat Saterdag in Port Elizabeth dood is nadat hy die vorige dag in ʼn girokopter-ongeluk beseer is, sal onthou word as ʼn aangename jongman wat ʼn groot passie vir vlieg gehad het.

Maroela Media het vroeër berig Martino was Vrydagmiddag besig om gifbesproeiing te doen toe die girokopter op ʼn plaas naby Patensie in die Oos-Kaap neergestort en aan die brand geslaan het. Hy is met ernstige beserings in ʼn lugambulans na die hospitaal geneem.

Martino ouers, Toni en Talina, woon in sy tuisland, Frankryk. Hulle het ná die ongeluk op die eerste beskikbare vlug na Suid-Afrika vertrek. Martino het Saterdag omstreeks 00:30 aan sy beserings beswyk, voordat hulle hom kon groet.

Sampie Groenewald, uitvoerende hoof van Xsit, die plaagbeheermaatskappy vir wie Martino gewerk het, het Maandag aan Maroela Media gesê sy ouers is nog getraumatiseerd, maar doen goed onder omstandighede.

“Ons het die nodige berading aan hulle verskaf en sy ouers en vriende Sondag na die ongelukstoneel geneem om ʼn mate van aanvaarding te probeer bewerkstellig. Dit was ’n hartseer oomblik,” het Groenewald gesê.

Martino het die afgelope vier maande vir Xsit gewerk. Hy was ʼn ongetroude beroepsvlieënier en het op Patensie gewoon. Dit is nie onmiddellik bekend hoe lank hy in Suid-Afrika gewoon het nie.

“Marco was ʼn baie aangename en vriendelike jong man. Hy was ʼn goeie vlieënier. Dit is vir ons baie hartseer om hom te verloor. Ons vlieëniers is vir ons soos kinders,” het hy bygevoeg.

Martino sal na verwagting Dinsdag veras word wanneer die nadoodse ondersoek afgehandel is. Sy ouers sal sy as terugneem na Frankryk waar hulle vir hom ʼn gedenkdiens gaan hou.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.