Girokopter-slagoffer was bekende liedjieskrywer

Terry Dempsey. Foto: http://www.terrydempsey.co.za

Die bejaarde man wat Sondagoggend in die Vaal Marina dood is toe hy deur die lem van ʼn girokopter getref is, was ʼn wêreldbekende liedjieskrywer en vervaardiger.

Die 77-jarige Terry Dempsey is onder meer bekend as die skrywer van “Butchers and Bakers”, een van die Staccatos se grootste treffers, en “Daydreamer” van David Cassidy.

Brian Le Gassick, voorsanger van Staccatos, het Maandag Dempsey se dood op sy Facebook-profiel betreur. “Dit is met ongelooflike hartseer wat ek verneem het van die tragiese afsterwe van Terry Dempsey, die wonderlike man wat een van ons werklike groot treffers, “Butchers and Bakers”, geskryf het. My innige medelye aan Carrie en sy familie en vriende,” het Le Gassick geskryf.

Luidens Dempsey se webtuiste het hy musiekwerke saam met talle bekendes soos Les Reed, die Warner Brothers en die Walt Disney Corporation vervaardig. Hy het verskeie internasionale treffers gekomponeer vir sterre soos Tom Jones, Engelbert Humperdinck, Cliff Richard, The New Seekers en Demis Roussos.

Hy is ook benoem vir die Ivor Novello-toekenning vir “Daydreamer”.

Maroela Media het vroeër berig die fratsongeluk het Sondag net voor 12:00 gebeur toe die girokopter ʼn noodlanding wou uitvoer en Dempsey deur ʼn lem van die girokopter getref is. Hy is by paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê lede van ʼn familie is na die dam om een van hul geliefdes se as vanuit die girokopter te strooi. Terwyl die girokopter in die lug was, het die res van die naasbestaandes op die pier gestaan toe die girokopter ʼn noodlanding moes maak.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die burgerlike lugvaartowerheid (BLO), het aan Maroela Media bevestig die voorval word ondersoek. Volgens Ledwaba is die vlieënier en sy passasier tydens die noodlanding beseer.

Anthony Turton, ʼn vooraanstaande politieke wetenskaplike wat die afgelope tyd saam met Dempsey aan ʼn projek gewerk het, sê op sy Facebook-blad hy het Dempsey net verlede week gesien.

“Terry was lewendig en positief. Met ʼn skerp verstand was hy voortdurend besig om sy vaardighede te slyp. Ek was altyd verstom deur sy ratsheid en duidelike doelstellings in sy fokus. Hy het presies geweet wat hy wou doen en dan het hy ʼn magtige groep van bekwame kenners nadergetrek om daardie doelwit te bereik. Hy het ʼn aanvoeling gehad vir wat mense wou hê. Hy het my diepste respek verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HOBBO ·

Wat n hartseer verhaal. Hierdie man het allermins geweet sy laaste dag sou gister wees. My hart gaan uit na sy familie en vriende. Mag julle troos kry in die wete dat sy liedjies beslis n bydrae in my grootword jare gemaak het.

Margi Johnson ·

Ja Hobbo, baie goeie herrineringe!! Die man was baie talentvol. RIP oh great one!

gerrie ·

Rus in vrede. Die musiekwereld het ‘n talentvolle man verloor. My innige simpatie en medelye vir die familie. Een van my gunstelinge geskryf deur Terry is Daydreamer gesing deur Lauren Copley en ook David Cassidy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.