Glanssjef van George sterf

Francois Ferreira (Foto: Verskaf)

Francois Ferreira, Suid-Afrikaanse sjef, resepteboekskrywer, TV- en radiopersoonlikheid, is Woensdag kort na 13:00 in sy huis in George dood. Hy was 62 jaar oud.

Francois was bekend as RSG se “glanskok” en is deur die jare ook telkemale op die kassie in sy sjefhoedanigheid gesien.

Francois was nie net ʼn legendariese sjef wat vir langer as vier dekades in die Suid-Afrikaanse kosbedryf werksaam was nie, maar was ook die stigter van die Francois Ferreira Akademie in George. Dié tersiêre instelling het in 2022 sy deure geopen en is die voortlewing van Francois se jarelange toewyding aan die opleiding van jong sjefs.

“Wat jy sien is wat jy kry,” onthou Elsie Harmse, uitvoerende hoof van UXi Artison, ʼn vennoot van die Francois Ferreira Akademie.

“Hy was ʼn unieke heer tot die einde. Hy was altyd bereid om jammer en dankie onder enige omstandighede te sê. Hy het almal gerespekteer vir hul uniekheid.”

Francois was lid van verskeie sjefverenigings en -gildes.

Hy het reeds in 1979 sy werk as sjef afgeskop nadat hy by die Suid-Afrikaanse lugmag aangesluit het. Hy is in 1982 as dosent by die Lugmag-sjefskool in Valhalla aangestel.

In 1983 het Francois deeltyds vir die destydse eerste minister van Suid-Afrika, PW Botha, begin werk. Hy is in 1988 na die staatspresidentskantoor oorgeplaas, waar hy as hoof van die huishoudelike administrateur-generaal van Namibië aangestel is.

In 1992 het hy by die huishouding van wyle oudpres. FW de Klerk aangesluit, waar hy eers as huishoudelike bestuurder en toe later kontroleerder van die huishouding gedien het. Hy het in dié posisie gebly tot die aanstelling van oudpres. Nelson Mandela.

Francois het hierna by talle restaurante in Pretoria as hoofsjef gewerk, en het later ook in raadgewershoedanigheid by talle restaurante en hotelle in Pretoria, Kaapstad en Namibië aangesluit.

Hy het onder meer by Die Werf-restaurant in Pretoria en toe later by Clarens Manor, sy eie restaurant in Kaapstad, gewerk. Hy het daarna by Meerendal-wynlandgoed as publisiteit- en geleentheidsbestuurder aangesluit voordat hy eindelik Oudtshoorn toe getrek het in 2000 om as hoof van die Hotel- en Restaurant-akademie by South Cape College te werk.

In 2004 het hy die Eden School of Culinary Art in George geopen, wat vandag voortgaan as ʼn operasionele sjefskool, die Francois Ferreira Akademie.

Al vier resepteboeke wat uit Francois se pen verskyn het, het internasionale Gourmand-wêreldtoekennings verower.

Francois het gevra dat sy lewe gevier sal word, en dat vriende, familie en kollegas nie blomme sal stuur nie, maar dit sal oorweeg om ʼn geldelike skenking aan die Francois Ferreira-ondersteuningsfonds te maak. Dié fonds word gebruik om finansiering vir opkomende sjefs te bied.

“Niks was ooit te veel vir Francois nie. Hy was nog altyd daar vir enigiemand wat hom nodig gehad het,” sê Harmse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.