Glas en klippe in skoliere se kos

Argieffoto.

Argieffoto.

Leerlinge van sekere skole in Limpopo moes mediese behandeling ontvang nadat hulle glo boontjies van die nasionale skoolvoedingskema geëet het wat klippe en stukkies glas bevat het, het die Sowetan Dinsdag berig.

Die provinsiale departement van onderwys het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat leerlinge in Sekhukhune in die hospitaal opgeneem moes word nadat hulle verlede maand van die skema se kos geëet het.

Twee leerlinge het op 25 September stukkies glas en klippe in hul boontjies opgespoor.

Die Sowetan het ʼn vertroulike verslag wat deur die departement uitgereik is, bekom. “Die skool het die voorval by die departement van gesondheid aangemeld, nadat 238 leerlinge na die Jane Furse- en St Rita’s-hospitaal geneem is vir ʼn mediese ondersoek.” lui die verslag.

Die departement het glas en klippe in elke sak boontjies wat by verskillende skole oopgemaak is, ontdek. Die skole is aangeraai om glad nie die boontjies te gebruik nie.

Die multimiljoenrand-voedingskema wat deur die regering befonds word, versprei boontjies en vis na skole in verarmde gebiede.

Leerlinge van Laerskool Ntaki, ook in Sekhukhune, het verlede week soortgelyke probleme ervaar. Leerlinge het glo bloed gebraak nadat hulle kos by die skool geëet het, waarna hulle na ʼn hospitaal geneem is.

Die departement het die voorval aan die koerant bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.