Glebelands-huurmoordenaar gevonnis

Die berugte Glebelands-hostel (Foto: ANA)

ʼn Glebelands-huurmoordenaar is Vrydag in die Durbanse hooggeregshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die Durbanse hooggeregshof het die 28-jarige Mxoleleni Bhani tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Sipho Ndovela. Hy is ook tot ʼn verdere 12 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van poging tot moord op ʼn voorval in Junie 2015.

Ndovela (35) was op 8 Mei 2015 omstreeks 11:00 by die Umlazi-hof toe Bhani hom genader het. Bhani het ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en die man doodgeskiet voordat hy gevlug het, het lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Ndovela is sewe keer geskiet. ʼn Saak van moord is deur Umlazi-polisie ondersoek.”

Bhani is op 6 Augustus 2015 in hegtenis geneem deur ʼn provinsiale taakspan toe hy in die Umlazi-landdroshof verskyn het op aanklag van moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

“Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die moord van Ndovela. Hy is ook verbind met ʼn saak van poging tot moord wat op 11 Junie 2015 by Glebelands-hostel aangemeld is. ʼn 40-jarige man is tydens hierdie voorval geskiet en gewond,” het Zwane verduidelik.

Genl.maj. Bheki Langa, provinsiale polisiekommissaris, het die vonnis verwelkom. “Die vonnis stuur ʼn sterk boodskap aan ander kriminele wat die inwoners van Glebelands-hostel teister. Ons hoop die vonnis sal afsluiting bring vir die familie van die slagoffer en dat geregtigheid geskied het,” het hy in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SARIE VAN HEERDEN ·

Hoe vinnig is die Glebelands moorde nie opgelos nie! ‘n Vriend van ons is in ‘n gegoede buurt in die Ooste van Pretoria meer as 2 jaar gelede vermoor en nog is daar geen verdagtes in hegtenis geneem nie. Ek weet nie of daar selfs ondersoek ingestel en geluisteris na van sy vriende of kennisse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.