Glebelands-huurmoordenaars: Terug na hostel, maar in boeie

Die sogenaamde Glebelands Agt, wat by verskeie moorde in die Umlazi-omgewing betrek word. (Foto: ANA)

Die sogenaamde Glebelands Agt, ʼn groep mans wat beskuldig word van betrokkenheid by nege moorde en sewe moordpogings by die Glebelands-hostel in Umlazi, keer Dinsdag terug na die enorme kompleks waar hulle glo ʼn skrikbewind gevoer het.

Die Pietermaritzburg-landdroshof, waar die mans se verhoor tans aan die gang is, bring Dinsdag ʼn ter plaatse besoek aan die hostel, wat as die “bymekaarkomplek vir huurmoordenaars” bestempel is.

Vandag sal Bhekukwazi Mdweshu, ʼn voormalige polisiespeurder, Khayelihle Mbuthuma, Vukani Mcobothi, Eugene Wonderboy Hlophe, Ncomekile Ntshangase, Mbuyiselwa Mkhize, Mondli Mthethwa en Bongani Mbhele in boeie en onder streng bewaking van die polisie en beamptes van die departement korrektiewe dienste na die misdaadtoneel terugkeer.

Die misdade is tussen Augustus 2014 en Maart 2016 gepleeg.

Xolani Sindane, ʼn regshulpprokureur wat vir Mbuthuma, Mcobothi, Mkhize, Mthethwa en Mbhele optree, het die aansoek vir ʼn in loco-inspeksie ingedien. Dit is gebring na aanleiding van die getuienis van die laaste persoon wat in September getuig het.

Dié voormalige Glebelands-inwoner en sjebien-eienaar het agter geslote deure getuig en sy identiteit word weerhou. Hy het getuig oor verskeie moorde wat by die hostel gepleeg is en het ook verskeie van die beskuldigdes op die misdaadtoneel geplaas.

Maar die beskuldigdes het teruggekap en gesê die getuie het hulle by die misdade betrek omdat beskuldigde nommer 6, Mkhize, gesien het hoe die getuie vir Sphamandla Cele, ʼn bekende Glebelands-huurmoordenaar, vermoor het.

Die beskuldigdes voer aan hy betrek hulle om sy eie bas te red.

Vandag se inspeksie word gedoen sodat die hof self kan sien dat dít wat die getuie beweer, volgens die beskuldigdes nie ʼn moontlike weergawe van gebeure kan wees nie.

Senior staatsaanklaer Dorian Paver het Maandag aan die hof gesê hy het geen beswaar teen die besoek nie, maar as dit gedoen word, is daar ook ander goed wat die hof dalk self sou wou sien.

Umlazi is ʼn enorme kompleks wat bestaan uit tientalle groot woonstelblokke. Dit sal glo tot voordeel van die hof wees om self te sien presies waar sommige van die misdade plaasgevind het en hoe die beskuldigdes glo hulle wegkomroetes beplan het.

Paver het aan die hof gesê dit is noodsaaklik dat die beskuldigdes “deelneem aan die inspeksie”.

Mdweshu is glo die leier van die gekonkel en na bewering ook die een wat onwettige wapens – in sommige gevalle van korrupte polisielede – gekoop het.

Al die beskuldigdes pleit onskuldig op die aanklagte teen hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.